Kyk anders na doodgewone dinge, sê dié kunstenaar Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

“Sien die mooi om jou raak. Dis oral. Spierwit wolke teen die blou, ’n growwe boomstam, ’n skaduwee teen ’n muur, spore in die sand, blare en gras. Skoonheid lê in eenvoud. In die doodgewone dinge is daar dikwels ’n verrassing wat wag.”


Elizabeth Kendall
Foto’s: Verskaf

Só sê Elizabeth Kendall, ’n kunstenaar van Bronkhorstspruit. Sy woon in totaal al 46 jaar lank op dié dorp. Haar ouers was Willie en Maureen Grobler en haar pa was twee keer burgemeester van die dorp.


’n Landskap

Sy het op Bronkhorstspruit skoolgegaan van graad een tot matriek; weggetrek en weer terug gekeer. Ná matriek was sy op Heidelberg Onderwyskollege en Pretoria Normaalkollege. Sy het later haar BA en B.Ed grade deur Unisa verwerf. Elizabeth het in 2009 ná meer as 36 jaar in die onderwys, afgetree.


Dié haas kyk jou stip in die oë

Toe eers het sy meer aandag aan haar kuns begin gee en uitstallings gehou, soos die een in Brooklyn-teater. Vandag het sy al skilderye aan mense in Engeland, Kanada, Australië en Viëtnam verkoop.

Elizabeth werk met mediums soos waterverf, akrielverf, olieverf, pen-en-ink en potlood.


’n Kinderkuns hoenderhaan

“Ek geniet dit baie om seetonele met ’n paletmes te skilder. Daar is hope vryheid in. Om bome te skilder is telkens ’n heerlike uitdaging. Dit is vir my ook heerlik om sketse met pen-en-ink en water na willekeur te maak. My Shaefferpen inspireer my,” sê Elizabeth.


Die musiek van ’n voëltjie uit die Covid-jaar, 2020

Sy sê dat haar lang jare van skoolhou dalk ook ‘n deel bygedra het tot die inspirasie om kinderkuns te teken. Hierdie vrolike karakters kikker sommer enige vaal dag op en Elizabeth se droom is om dit op plekmatjies, bekers, kussings en duvets te laat druk en sodoende baie kinderhartjies bly te maak.


’n Droë boom

“My liefde vir die natuur en al die baie kleure en prentjies wat dit bied, is ’n voortdurende inspirasie om net aan te hou skilder: Soms realisties, soms abstrak, soms net agter die lekker aan.”


Pen-en-ink uit 2018

“Inspirasie kom van oraloor. Dit blaas die smeulende, dikwels onbewuste ‘kole’ hier binne aan. En soms veroorsaak dit ’n vlammende vuur van opwinding. ’n Heerlike gevoel van positiwiteit neem dan van jou besit en jy wil binne ’n dag die wêreld verskuif, dit sommer uit sy fondasies ruk,” sê Elizabeth.


’n Seetoneel

Sy woon sedert Oktober 2021 in Klipeiland Aftreeoord, speel rolbal, is skakelbeampte van VLU Van Riebeecktak, skryf gedigte, rubrieke en het twee boeke publiseer, een ná haar man se dood en die ander een in 2022.

As daar een boodskap is wat sy met haar werk aan mense wil oordra is dit hierdie: Moenie bang wees nie. Gebruik jou talente!

 

© 2024 Die/The Bronberger