Dis toe hy so sit en kyk hoe die ou werfmakou langsaam aangewaggel kom, dat die blink plan hom tref, sê Gert Mossie. Nou, sê Gert, het hy mos vreeslik moeite en moeilikheid elke maand as hy sy kwota vryloop-hoenders vir die mark moet vang. Die goed is nie partydig vir gevang word nie en praat van vinnig!
Toe dink hy nou só, sê Gert Mossie. As hy nou ’n vryloop-hoender met ’n makou kan kruis, dan gaan hy mos ’n lekker stadige, vetlyfgedoente kry. Dan vang hy elke maand in ’n japtrap sy kwota vir die mark en hy wen rante en sente op die gewig. En hy noem die goed ‘makoenners’. Dan noem jy sommer ’n makoennerhaan ’n makaan met sy ma-ken en haar makuikens, vir kort.
Dink net, sê Gert Mossie, as hy nou daardie makoenner met ’n kalkoen kan kruis, hoe laat daai makoennerkoenne dan die rante inrol. Of moet hy dit dalk makalkoenners noem?
Slim Kind!
Ou Willie, ’n onderwyser, stuur ’n aantal interessanthede wat uit ‘leerders’ se vraestelle en opstelle kom. Nou wonder ek of dit nog reg is om van ‘onderwyser’ te praat. Moet dit nie dalk nou ‘leerer’ wees nie? Soos in: Die leerer leer die leerders? Maar ek gaan net enkele van ou Willie se leerders se antwoorde met julle deel:
Afrikaans Graad 8: Maak ’n sin met “ter aarde bestel” – Wie op ter aarde bestel so ’n groot koek?
Wiskunde Graad 9: Gee die formule om die oppervlakte van ’n sirkel te bepaal – Paai straal kordaat.
Geskiedenis Graad 11: In watter jaar het Suid-Afrika ’n unie geword? – Ek weet nie, meneer. Maar ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar vir meneer en meneer se gesin.
Bybelkunde Graad 8: Waar het die koning van Israel twee afgodsbeelde laat oprig? – In Jerusalem en Gauteng.
Vergelykings wat in opstelle gebruik is
- Sy gedagtes het in sy kop rondgetuimel en verwantskappe gesmee en gebreek soos onderbroeke in ’n tuimeldroër.
- Dit was ’n werkersklas-tradisie, soos pa’s wat hul kinders met elektriese bore rondjaag.
- Hy is so maer soos ’n vark op ’n grondhervormingsplaas.
- Hy was so lank soos ’n twee meter lange boom.
- Die bootjie het saggies oor die dam gedryf presies soos ’n rolbal nie sou nie.
- Hy het diep uit sy keel gelag – soos daardie geluid wat ’n hond maak net voor hy opgooi.
- Die son het uit die see opgerys soos ’n gloeilamp uit ’n bad water.
En nog ’n paar oorspronklikhede
- Die koekoek is ’n voël wat nie sy eie eiers lê nie.
- Parallelle lyne ontmoet mekaar nooit nie, tensy jy een of altwee van hulle buig.
- Vegatiewe voortplanting is ’n proses waarin een individu per ongeluk ’n ander individu vervaardig.
- Bloed vloei in die een been af en in die ander been op.
- As jy nie genoeg jodium in jou bloed het nie, kry jy ’n gletser.
- Raad by verstikking: pas kunsmatige asemhaling toe totdat die pasiënt dood is.
- As jy ’n reuklose gas ruik, is dit waarskynlik koolstofmonoksied.
- Waarom is die seun in die verhaal gestraf? – Omdat hy sy eie virgin van die volkslied gesing het.
- Noem die vier seisoene. – Sout, peper, mosterd en asyn.
- Wat veroorsaak getye in die see? – Die getye is ’n geveg tussen die aarde en die maan. Al die water wil na die maan vloei, want daar is nie water op die maan nie. Ek het nou vergeet waar die son in die geveg inkom.
Gerhard Kleijn,Maart 2010 |