Betsie Steyn
Hansie le Roux, ’n man wat jarelank in die volkspelewêreld betrokke was, is op 26 Februarie in die ouderdom van 93 jaar oorlede. Hy en sy vrou, Marie, het 12 jaar gelede na Kleinfontein verhuis nadat hy sy lewe lank in die Balfour-distrik geboer het.
Hansie het tot hy 81 jaar oud was geboer en een van sy kleinkinders sê: “Oupa het elke Frieskoei by die naam geken.”
Hansie het Marie ontmoet toe sy nog in st 9 op hoërskool was. Hulle het in 1953 aan dieselfde volkspelelaer op Balfour behoort. Hansie is as leier van die laer gekies en daar is gestry oor die naam, waarop Hansie laggend gesê het hy sal maar moet moedhou met die mense – en vandaar sommer die laer se naam ook.
Hansie by die 50-jarige herdenking van die Moedhou-volkspelelaer
Foto’s: Verskaf
Dié laer het later by die Suidoos-Transvaal-wyksbond aangesluit. Hansie is in 1961 op die bestuur verkies en het in 1965 voorsitter van die wyksbond geword. ’n Jaar later is hy tot voorsitter van die nuwe gekombineerde wyksbond – bestaande uit Suidoos-Transvaal, Sentraal en Laeveld – verkies. Hy was toe ook voorsitter van die Transvaalse komitee.
Hansie was baie jare op die hoofbestuur van die nasionale raad van volkspele en van 1996 tot 2011, toe hy uitgetree het, voorsitter van die nasionale raad.
In 1969 was die Le Roux’s deel van ’n groep van 101 volkspelers wat twee maande lank in Europa gaan toer het en 50 jaar daarna het die groepslede nog elke tweede jaar ’n reünie gehou. Hansie het vier oorkondes van verskeie kultuurorganisasies verwerf.
Die volkspelers by Hansie se begrafnis. Marie is derde van links voor met haar kinders langs haar
Sy seun, Johan, sê hulle het as kinders met volkspele grootgeword en is steeds daarby betrokke: Sy broer Kobus is leier van die Nylstroom-tak (Kranskop-laer) en is ook op die hoofbestuur van die beweging. Sy sus Susan is die begeleier vir volkspelefunksies en kursusleier vir belangstellendes.
’n Groot groep volkspelers in tradisionele drag – van oraloor uit die Vrystaat tot bo in die noorde – het dié man, wat sulke diep spore vir volkspele getrap het, se begrafnis vir ’n laaste eerbetoning bygewoon.
Hansie laat sy vrou, Marie, vier getroude kinders, 10 kleinkinders en twee agterkleinkinders agter. Ds Marius Hartzenberg van die AP Kerk het die begrafnisdiens op 5 Maart by Kleinfontein waargeneem. |