Rose en dorings Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

Dié uitgawe van die Bronnie is weer deurspek met stories uit ons gebied oor mense wat rose-ruikers verdien, maar ongelukkig ook gevalle waar dorings uitgedeel moet word.

Deurlopend verdien die mense van Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) en die mooi siele by die Paul Jungnickelhuis rose, erkenning en ondersteuning. Daarom is dit met leedwese dat ons berig oor die sluiting van KWO se departement maatskaplike dienswerke.

In ‘Welsynharte bloei oor verlies’ op bl 6 berig ons dat dié departement op 31 Maart gesluit word weens finansiële beperkings wat geweldige druk op die organisasie plaas en ’n deeglike herstruktureringproses nodig maak.

Goeie nuus is dat KWO steeds sy Zwavelpoort-gebaseerde residensiële fasiliteit vir meer as 160 gestremde volwassenes bedryf en voortgaan om die Kungwini Vroeë Kinderontwikkeling-sentrum aan lede van die omliggende gemeenskappe te bied.

’n Doring in omgewingsbewustes se vlees is die feit dat Corobrik se omgewingsplan om vir steenkool naby die Rietvlei-dam en -natuurreservaat te myn en die wysiging van mynreg, goedgekeur is.

In ‘Plan om steenkool langs reservaat te myn kry groen lig’ op bl 8 berig ons dat omgewingsinstansies besorg is oor die potensieel verwoestende impak op die diere- en voëllewe en dat baie van dié instansies appèl teen die departement van minerale hulpbronne en energiesake se goedkeuring aanteken.

Birdlife Noordelike Gauteng (BLNG) is veral bekommerd oor die dreinering van suurwater in die reservaat, dam en vleiland en sê dat hulle op enige moontlike manier sal probeer om die myn van steenkool tot halt te roep.

Dié uitgawe bevat ook ’n hele paar stories waar mense roseruikers verdien, soos die gemeenskap en sake-ondernemings wat saamstaan om slaggate in Silver Lakes-weg te herstel. Lees op bl 9 meer hieroor in ‘Gemeenskap takel slaggate’.

Nog ’n storie van hoop en drome wat waar word kan in ‘Boetie en sussie dans die wye wêreld in’ op bl 15 gelees word. In ‘Kyk anders na doodgewone dinge, sê dié kunstenaar’ op bl 22 word ons aangemoedig om die mooi om ons raak te sien. In die doodgewone dinge is daar dikwels ’n verrassing wat wag; iets wat inspireer en die smeulende ‘kole’ aanblaas om ’n vlammende vuur van opwinding te veroorsaak.

Rose aan elkeen wat mense ’n heerlike gevoel van positiwiteit kan gee. Rose ook aan elke leser en elke adverteerder wat dit vir die Bronnie moontlik maak om deel van hierdie wonderlike omgewing en sy mense te wees.

 

© 2024 Die/The Bronberger