Die lot van landelike verbindingspaaie Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

Inwoners van die hoewegebied oos van Pretoria sit met die hande in die hare oor verbindingspaaie wat deur swaar vragmotorverkeer verwoes word.

Die Bronberger berig sedert sy beginjare bykans 22 jaar gelede oor Tierpoort se berugte gatpad (Tierpoortweg) wat ’n verbinding tussen Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) en Garstfonteinweg-verlenging bied.

Sedert 2002 berig ons ook oor Achillesweg in Zwavelpoort, wat via die Zwavelpoortpad ’n verbinding tussen Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) en Atterburyweg-verlenging bied.


Die lot van ’n landelike verbindingspad tussen Garstfonteinweg-verlenging en die Delmaspad
Bron: Skermgreep uit video – Pieter Cloete

Meer onlangs in die nuus is die klagtes van inwoners van Country View-landgoed, oorkant Mooikloof en agter Rafters in Blesbokstraat. René Booysen, bestuurder van dié landgoed, het gesê dat die paaie in dié omgewing jare lank reeds ’n probleem is. Sy het gesê dat dit wat veronderstel was om ’n teerpad te wees, deesdae ’n grondpad is. René het ook gesê dit gebeur omdat swaar vragmotors die verbindingspaaie as kortpad tussen Garstfonteinweg-verlenging en die R50-Delmaspad, gebruik.

René het vertel dat inwoners met die Gautengse departement van paaie en vervoer vergader het, maar dat niks van die planne om oplossings te soek, gekom het nie. Sy het gesê dat ’n padingenieur van Tshwane-metro aan hulle erken het dat die paaie nog plotplaaie is wat nooit opgegradeer is nie, omdat dit nie gebou is om swaar verkeer te dra nie.


Só het Zwavelpoort se Achillesweg in 2008 gelyk voor een van menige
regmaakpogings oor dekades heen

Volgens René het Country View-landgoed en ander ondernemings ingespring om slaggate te herstel, maar sy het gesê dat dit nie ’n volhoubare proses is nie.

Die probleem is volgens inwoners net so groot in Foxtrotstraat, nog ’n verbindingspad tussen Garstfonteinweg-verlenging en die Delmaspad wes van Mooikloof View-landgoed.

Tshwane-metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, het gesê dat die metro van die probleem bewus is en dat een van die opsies is om dié beskadigde paaie weer na grondpaaie af te gradeer.


’n Nuwe laag teer vir Tierpoort se berugte ‘gatpad’ in 2021
Foto: Werner Nel

Tierpoort
Dit is presies wat in 2008 met Tierpoort se ‘gatpad’ gebeur het. Die Bronberger het in November 2008 berig dat die teerpaadjie met ’n padskraper weggeskraap is om weer ’n grondpad bloot te lê. Duidelike tekens is aangebring wat voertuie van swaarder as vyf ton verbied.

Die Bronberger het in Junie 2021 berig dat Tierpoort se gemeenskap en plaaslike sake-ondernemings die berugte ‘gatpad’ en ander paaie in die gebied self herstel het.

Deon Alers vertel dat hy en Werner Nel die afgelope drie jaar pro-bono werk doen om die pad, met befondsing van die gemeenskap, in stand te hou. Hy sê dat dinge deesdae baie slegter gaan weens die steengroewe se 30-ton vragmotors wat kortpad deur Tierpoort vat op pad na die nuwe Mooikloof Megastad-ontwikkeling met sy 50 000 deeltitel woonstelle op Garstfonteinweg-verlenging.

Deon verduidelik dat Tierpoortweg se helling van so ’n aard is dat die pad nie geskik is vir dié groot vragmotors nie. Tshwane-metro het berig dat daar nie ’n begroting is om te help met die herstel van die pad nie; nie eers om nuwe 5-ton beperkingsborde op te sit nie.

Tierpoort se ‘plotpaaie’ is servituut-paaie wat deur hoewe-eienaars se grond loop en deesdae slegs deur lede van die Tierwag-gemeenskapsgroep in stand gehou word.


‘Gemeenskap aan die werk’ op Tierpoort
Foto: Werner Nel

Achillesweg
In ‘Inwoners moet hoes vir broodnodige brug’ in verlede jaar se September-uitgawe het ons berig dat inwoners besig is om self oplossings te soek ná die brug oor die Zwavelpoortspruit, wat Achillesweg as verbindingspad moontlik gemaak het, gesluit gebly het ná ’n vloed. Stad Tshwane gaan nie in die voorsienbare toekoms die brug herstel nie.

Lucia Nagel van die Zwavelpoort Huiseienaarsvereniging verduidelik dat Achillesweg ook op ’n servituut gebou is en oor grondeienaars se private eiendom, wat ‘landbou algemeen’ gesoneer is, loop.

Achillesweg is deur grondeienaars self vanaf Saalstraat af ondertoe met ’n stoflaag gedek, net soos Saint-, Bastille- en Saalstraat in Zwavelpoort. Die stoflaag is nie geskik vir die lading van swaarvoertuie nie.

Lucia het gesê dat indien die brug in die toekoms herstel word, wat Achillesweg weer ’n verbindingspad sal maak, daar ernstige oorweging aan toegangsbeheer gegee moet word.

 

© 2024 Die/The Bronberger