“Ons het hulle! Na jare van kat-en-muis het ons span twee verdagtes vasgetrek,” lui die verklaring wat op 7 Februarie oor die N4-oos snelweg se strikstellers uitgestuur is.
Skerp voorwerpe word op die snelweg gestel om motors se bande te beskadig en motoriste wat tot stilstand kom, word beroof en in sommige gevalle geskiet.
Die Cullinan-gemeenskappolisiëringsforum het op 1 Februarie laat weet dat die strikstellers weer aktief is. Daar was ’n insident op die N4-snelweg en op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) tussen Solomon Mahlangu en die Diamond Hill-tolhek.
Op 6 Februarie is inwoners op buurtwaggroepe gewaarsku oor ’n insident om 9.40 nm op die N4-snelweg naby die Donkerhoek-afrit. Etienne Schoeman van Echo-1 Sekuriteit het berig dat hulle ’n oproep ontvang het oor skote wat naby dié afrit afgevuur is.
SAPD se K9 eenheid soek die volgende dag na bewyse op die toneel
Foto: Etienne Schoeman
’n Motoris is beroof ná die motor oor skerp voorwerpe op die pad gery het. Selfone en bankkaarte is gesteel. Etienne het gesê dat sy sekuriteitsmense die verdagtes gesien het en dat ’n skietgeveg gevolg het.
“Die span het die hulp van ander groepe ingeroep en Lakes Security Forum, BMT, Alpha Security Forum en lede van Cullinan het saamgespan en vir twee ure deur die bosse gesoek. Echo-1 het die voortou geneem en BMT se ondervinding in die bos het baie gehelp. UDS het ’n hommeltuig verskaf wat gehelp het om die eerste verdagte vas te trek,” het raadslid vir wyk 101, Malcolm de Klerk gesê.
Etienne het berig dat een verdagte op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) in hegtenis geneem is. Die slagoffer het sy identiteit bevestig en die verdagte het die span na ’n huis van veiligheid gelei. Die ander verdagte is rondom middernag by dié huis gevind en sy identiteit is ook deur die slagoffer bevestig.
Malcolm het gesê dat dié deurbraak ’n sterk boodskap aan misdadigers is. Volgens Ettienne is daar nog ’n aantal nabootsers aan die werk en dit is waarskynlik nie die einde van die strikstellery nie. |