Vrywilligers spring in en doen dit self Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

Inwoners van Bapsfontein het plot 52 in Nestpark, wat aan die regering behoort, op 27 Januarie begin skoonmaak om ’n omgewingsvriendelike ruimte vir mense, voëls en wilde diere te skep.

Vrywilligers het vanaf 8 vm met kettingsae, pangas, snoeiskêre, sae, grawe, bossiekappers en bakkies opgedaag. Die jongste vrywilliger was 12 jaar oud en die oudste was in sy tagtigs.


Oud en jonk het ingespring om te help
Foto’s: Bapsfontein Village

Bewyse dat dié plot ’n wegkruipplek vir misdadigers was, is gevind en verskeie sakke rommel is opgetel. Die projek het ook die uitroei van uitheemse swartwattelbome en digte plantegroei ingesluit. ’n Paar groter bloekombome is as rusplek vir voëls en deurgangsplek vir nagapies behou. Die plan is om die gebied met inheemse bome en plante te herplant.


Gemors is in swart sakke gegooi

Die organiseerders beplan soortgelyke projekte om die Bapsfontein-gebied veiliger en skoner vir die gemeenskap te maak.

Bel Jill Watson van die Elandsvlei-bewarea en Born to Be Free by 082-320-8607 of Marsha Trumpelmann van Welbekend-gemeenskappolisiëringsforum se sektor drie-afdeling by 083-712-7761.

 

© 2024 Die/The Bronberger