In dié uitgawe van die Bronnie wys ons vir lesers hoe inwoners besluit het om self moue op te rol om hulle omgewing skoon en veilig te hou.
Dwarsoor die Bronnie se verspreidingsgebied is daar voorbeelde van gemeenskappe wat saamstaan om munisipale pligte en ook veiligheidspligte self aan te pak. Daar is buurtwaggroepe wat patrollie ry en onlangs is ’n baie groot sukses behaal toe twee verdagtes, wat motoriste al jare lank op die N4-oos snelweg terroriseer, uiteindelik in ’n reuse spanpoging vasgetrek is. Lees meer op bladsy 6.
In ‘Ouers en leerders takel busstop’ op bladsy 6 vertel ons hoe ouers en leerders van Hoërskool Erasmus en Laerskool Rayton die gebied by die Cullinan-busstop in Rangeweg gaan skoonmaak het.
In ‘Die lot van landelike verbindingspaaie’ op bladsy 8 en 9 skryf ons hoe inwoners van die hoewegebied oos van Pretoria met die hande in die hare sit oor verbindingspaaie wat deur swaar vragmotorverkeer verwoes word en hoe huiseienaarsverenigings die probleem probeer aanspreek.
Een van die voorbeelde wat ons noem is Tierpoort se berugte gatpad (Tierpoortweg) wat ’n verbinding tussen Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) en Garstfonteinweg-verlenging bied. Hier hou die gemeenskap self die paaie in stand en ons wil graag in die toekoms meer daaroor vertel.
In ‘Vrywilligers spring in en doen dit self’ op bladsy 15 berig ons dat inwoners van Bapsfontein saamgestaan het om ’n regeringsplot in Nestpark te begin skoonmaak. Die doel is om ’n omgewingsvriendelike en veilige ruimte vir die hele gemeenskap, insluitende mense, voëls en wilde diere, te skep.
In ‘Rayton se mense rol moue op’ op bladsy 23 vertel ons dat Rayton se mense die jaar afgeskop het deur hulle dorp skoon te maak. Onkruid is verwyder, padskouers is skoongemaak, bome is gesnoei en gras is gesny.
In ‘Blaaspootjies help in stryd teen pers verpesting’ op bladsy 23 berig ons dat Vriende van Moreletakloof dié insekte as biologiese beheermaatreël in die reservaat vrygelaat het in die stryd teen pom-pom indringerplante, wat ongerepte grasveld oorneem. ’n Biologiese ramp is op hande as meer mense nie begin om iets daadwerkliks aan dié probleem te doen nie.
As gemeenskappublikasie is ons trots daarop om die spreekbuis vir ’n gemeenskap, wat nie net sit en kla nie, te wees. Ons berig graag oor ons mense wat self aan die werk spring en dinge gedoen kry. |