Liewe nig Hester,
Ek weet nie of daardie Skotse komeet met die onbenullige naam van McNaught, ook daar by julle in die Vrystaat verby is nie. Hy is glo ’n paar keer hier oor die Bronberg – só sê hulle, maar ek weet nie mooi of ek dit moet glo nie.
Twee aande in ’n ry het ek nou al op die hoogste kruin van die berg gaan sit om McNaught in te wag. Van net so voor sononder af. Maar die gedoente het sy naam gestand gedoen. Eintlik kon hulle hom ewe goed McBoggerôl genoem het.
In die betreklike lang leeftyd wat ek tot dusver gegun is, het ek trouens nog nie ’n enkele komeet ter oge gehad nie. Iewers in die tagtigs het oorle Halley s’n mos sy sogenaamde verskyning gemaak. Onthou jy? Ek is seker hý is ook daar verby die Vrystaat. Toe het ek ook alles binne menslike vermogens gedoen om die ding te sien, maar helaas.
My oorle pa het op ’n mooi dag vir my gesê hy is die enigste ou wat hy ken wat in een leeftyd Halley se komeet twee keer gesien het. Mooi só, oorle Pa.
Wat ek wel vandag gesien het, was egter vir my ewe vreemd. Sit ek nog daar op die klip en tuur die vertes in om McNul se sterstert te probeer sien, toe daar doer op die horison ’n baie snaakse ding verskyn.
Eers lyk dit vir my soos ’n reuse lammergeier met ’n mofskaap in sy kloue. Maar toe kom hy nader en ek sien dis jou werklikwaar ’n valskerm met ’n man aan sy drakant.
Dis een van daai wat so netjies by groot rakbieghyms uit die bloute verskyn en op die groente van die veld kom sit. Soms met ’n rokigheid (blou rook) wat wonderbaarlik hier uit die ou se enkels te voorskyn kom.
Soos toor, amper. Dan draai hy mos ewe windgat deuskant toe en diékant toe en kom sit dan soos ’n vlinder op sy bestemde sitkol. En dan klap die verveelde skare lustig hande. Die O/20-ghym wat nou net verby is, was nie baie opwindend nie.
Maar hierdie ou van vandag kom nie aan soos die ouens van toet wat die rakbieskare kom vermaak het nie, nig Hester. Nee, hy sweef loodreg, links-na-regs, in ’n reguit lyn, horisontaal, reguit na my toe. Onthou ek sit bo-op die koppie.
Eers toe hy naby kom, sien ek die rêrige vreemdgeit. Daai ou sit-sit soos in ’n stoeltjie – onder sy dradoek met iets wat lyk op ’n ou staatsdiens-waaier op sy rug. Nou kan ek ook die geluid hoor van ’n enjin wat klink soos ’n swakkerige weed-eater s’n.
Hy beweeg omtrent teen die spoed van iemand wat kêffie toe stap. Hy gaan sigrets koop – nie brood, eiers en melk waarvoor sy kwaai vrou wag nie.
Ek verkyk my aan die gedoente en die gedoente se hangende mens kyk my in die oë. Hy kom draai so naby aan my dat ek die kleur van sy oge agter die plêstiek goggels kan sien. Dis blou.
En dan ‘bank’ hy en die weed-eater se ‘rev’s’ klim en hy waai vir my met sy hand wat aan ’n tou – ’n tou – aan die valskermding vashou sonder om te los – en ek sê: “Slaan my dood! Nou het ek amper alles gesien.” Al moet ek nog McDinges se watsenaam sien.
Sê groete vir Rassie en Ollie en die outjies.
Jou neef,
Poon.
Gerhard Kleijn, Januarie 2007 |