Jane is die naam van een van die grasieuse en skaam rooiribbokke in die Moreletakloof-natuurreservaat. Sy is in 2021 as pasgeborene deur besoekers, wat gedink het sy is verlore, in die reservaat opgetel en haar ma wou haar nie terugvat nie.
Die ooitjie is by die Moreletapark Dierehospitaal ingeneem, waar sy Jane gedoop is. Natuurlik kon sy nie dag en nag in die hospitaal woon nie en die veeartse het haar huis toe geneem, waar sy gou deel van die gesinslewe geword het. Sy is vir tien maande met die hand grootgemaak en is uiteindelik weer in die reservaat vrygelaat.
Dr Marelize Engelbrecht met die ooitjie in 2021
Foto: Moreletakloof
Pasgebore rooiribbok-lammetjies word vir ’n maand in ruie plantegroei weggesteek en die ooi besoek hulle net sodat hulle kan drink. Dis dié dat mense dink ’n lammetjie is deur haar ma weggegooi, maar besoekers word gemaan om geen klein lammetjies in reservate op te tel nie.
Die rooiribbok, Redunca fulvorufula, is ’n mediumgroot bok wat in bergagtige gebiede woon. Ramme weeg ongeveer 32 kg en hulle het horings van gemiddeld 15 cm lank. Hulle skouerhoogte is ongeveer 75 cm. Ooie is kleiner teen 30 kg en het nie horings nie.
Hulle pels is oorwegend grys, maar die kop en skouers is rooibruin en die onderkant is wit. Dié bokkies het ’n wit stert wat omhoog gehou word as hulle hardloop. Rooiribbokke het lang smal ore en ramme en ooie het ’n donker kliervlek onder die ore.
’n Rammetjie
Foto: Bernard Dupont
Ooie kry ’n enkele lammetjie, gewoonlik in die somerreënseisoen, ná ’n dragtigheidstydperk van agt maande. Lammetjies is op twee jaar so groot soos volwassenes. Rammetjies is teen drie tot vier jaar oud volwasse, maar kan teen 27 maande oud begin teel. Jong ooitjies kan vanaf nege maande tot ’n jaar oud dragtig word al is hulle eers teen 18 tot 24 maande ten volle volwasse.
Rooiribbokke loop in kuddes van drie tot agt bokke, alhoewel tot 30 al saam gesien is. Daar is net een volwasse ram in ’n groep en jong ramme word uit kuddes gedwing om kleiner ramgroepies te vorm.
’n Rooiribbokooitjie
Foto: Wikipedia
Dié bokke wei gewoonlik in die vroeë aand en oggendure of in die skadu en kamoeflering van digte bos. Wanneer hulle in reservate beskerm word, sal hulle gedurende die dag meer aktief wees. Hulle neig om weg te kruip as daar gevaar is.
Rooiribbokke se liggaamsbou, met ’n sterk agterlyf, beteken dat hulle aangepas is om vinnig weg te spring, maar dat hulle nie so ’n vinnige vlug vir ’n lang tydperk kan volhou nie. Dié bokke gee ’n fluitagtige alarmroep as hulle skrik en vlug. |