‘Roodeblat’ is wat die ou mense dié boom genoem het. Vandag ken ons hom as riviervaderlandswilg, maar sy wetenskaplike soortnaam verwys steeds na sy blare wat in die herfs rooi word.
William John Burchell, Engelse natuurkenner, reisiger, kunstenaar en outeur, het van 1810 tot 1815 ongeveer 7 000 kilometer deur Suid-Afrika getoer en gehoor hoe dié boom ‘Roodeblat’ genoem word. Hy het hom Combretum erythrophyllum gedoop, waar ‘erythrophyllum’ ‘rooi blaar’ in Grieks beteken.
’n Riviervaderlandswilg op die oewer van die Pienaarsrivier in Tierpoort wys hoe die blare
in die herfs rooi begin word
Foto’s: Wikipedia
Die riviervaderlandswilg se wortels word as giftig beskou en is tradisioneel as ’n purgeermiddel gebruik en om geslagsiektes te behandel. Die bas is met ander kruie gemeng om ’n afkooksel te maak waarvan ’n kwart koppie in die oggende en aande gedrink moet word vir sere. Die vrugte is ook as giftig gesien en laat ’n mens glo vreeslik hik.
Dié boom se gom is nie giftig nie, is elasties en maak ’n vernis wat nie kraak nie. Sy hout word gebruik om ornamente, heiningpale, pale vir bouwerk, voerbakke en stampblokke vir graan te maak. ’n Donkerbruin kleurmiddel word uit die wortels verkry.
Die onopvallende blomme
Die riviervaderlandswilg groei langs rivieroewers en is ’n medium tot groot boom van sewe tot 12 meter hoog. Die bas is ’n gladde grys kleur wat afvlok soos die boom ouer word en ligte stukke stam ontbloot.
Die roomkleurige of gelerige blomme verskyn ná die eerste blare in die lente of vroeë somer. Die vrugte is 10 tot 15 mm lank, viervlerkig en verdroog tot ’n ligte heuningbruin kleur.
Dié boom is baie aanpasbaar en word dwarsoor die land as skaduboom aangeplant. Hy groei baie vinnig, kan swaar ryp weerstaan en is droogtebestand as hy eers gevestig is. Die wortelstelsel is nie aggressief nie en die boom kan suksesvol langs ’n oprit geplant word.
Blare en groen vrugte
Baie sade en saailinge kan onder ’n volwasse boom gevind word. Die boom groei maklik van vars, parasietlose sade wat vir ’n paar ure geweek moet word voor hulle geplant word. Saailinge verskyn sewe tot 13 dae ná die sade geplant is. Hulle is ná twee jaar rypbestand. |