Ouma se kleinkoekies só onthou Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

`Alet Erasmus

Maandag 27 November, ná 5 nm, is ek in Pick n Pay in die gang naby die bakprodukte. Ek sien ’n jongman (skat so in sy 20’s), met ’n lysie. Hy moet bakmeel kry . . .

Ek help hom gou daarmee asook met van die ander produkte in die ry, wat hy benodig. Later loop ek hom weer by die muur-yskas raak . . . hy moet botter kry. Ek persoonlik gebruik net botter en kan hom nie eintlik raad gee wat margarien betref nie.


My Desember-gebak vir pakkies wat ek elke jaar vir vriende in ons straat opmaak
Foto’s: `Alet Erasmus

Hy vertel toe vir my dat sy ouma altyd koekies gebak het en sy is oorlede. Oupa is 90 en al die kinders is nou hier bymekaar. Daar is toe besluit om van ouma se soetkoekies te bak ter herinnering aan ouma en vir elke gesin ’n blik koekies saam te gee. Almal het glo hulle koekieblikke gebring. Botter klink toe vir my na die regte besluit vir hierdie baksels kleinkoekies wat gebak gaan word.

Jongman, dankie vir jou mooi verhaal ter herinnering aan jou ouma se kleinkoekies! Mag elkeen wat van daardie koekies eet, in julle mooi herinnering deel!


’n Foto met soetkoekies en ’n ou koekblik van my ouma Loock

Jy het my laat terugdink. Desembervakansie is altyd anders as ander skoolvakansies . . . vir my. My pa was ’n argitek en ons vakansie het amptelik begin sodra die “bouersvakansie” in die omgewing van 15 Desember begin het.

Dan is die woonwa gelaai en ons vertrek see toe vir drie weke by ouma van Wyk (Tergniet). Voor die tyd is blikke vol kleinkoekies gebak. Ouma Loock (Alberton) het gereed gestaan met ’n houer padkos wat ons opgelaai het op pad see toe. Wonderlike herinneringe!

 

© 2024 Die/The Bronberger