Inwoners is ontstoke oor die pragtige laning koorsbome wat wortel en tak uitgehaal is in Lynnwoodweg, Die Wilgers.
Pieter van Heerden, raadslid vir wyk 46, het gesê daar was baie navrae van die publiek oor die verwydering van die bome. Dit is deel van Lynnwoodweg se verbreding tussen January Masilela en Simon Vermootenweg om nuwe bane vir die A Re Yeng-busdiens te maak.
Só het die proses begin
Foto: Elize Parker
Hy het gesê dat gemeenskapsgroepe vroeër vanjaar uitgenooi is om deel van die beplanning te wees. ’n Vergadering is einde Julie gehou en Pieter sê dat daar nie baie mense van die gemeenskap opgedaag het nie.
Daar is met bosboukundiges en natuuruitleg-mense gepraat en die bevinding was dat koorsbome nie eintlik die beste bome is om in ’n pad se middelmannetjie te plant nie weens hulle aggressiewe wortelstelsel. Hulle moet ten minste ses meter weg van ’n padoppervervlak geplant word.
Koorsbome verskuif nie maklik nie en het ’n 97% kans om oorplanting nie te oorleef nie. Pieter het gesê dat ander bome met minder aggressiewe wortelstelsels terug geplant gaan word wanneer die projek voltooi is.
Die boomstompe op 1 November
Foto: Esperance Grobler
Intussen word die bome se takke en blare na die Pretoria- en Johannesburg-dieretuin geneem vir voeding en snuffelgoed vir die diere, sodat die bome nie net iewers op ’n hoop gaan lê en vrot nie. Sommige inwoners voel dat dit bloot ’n rasionalisering is om die uitroei van dié pragtige inheemse bome te vergoeilik.
Woordvoerder vir A Re Yeng, Helen Alpino, het verduidelik dat die projek se Fase 2C reeds vanjaar in Maart afgeskop het, maar weens die staking van munisipale werkers het dit voorlopig in Julie tot ’n einde gekom. Die werk is in die middel van Oktober hervat en daar word beplan om die volledige projek binne 18 maande te voltooi.
Die boomstompe word uitgehaal
Foto: Esperance Grobler
Die deel van Lynnwoodweg waar die bome verwyder word skakel in by ’n groter projek van
R124-miljoen. Pieter het verduidelik dat bane vir busse regoor die stad aangebring word om werkers wat in verafgeleë gebiede bly, makliker na gebiede waar hulle werk te bring.
Burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Katlego Mathebe, het op 23 Oktober ’n sooispit-seremonie gelei vir die opgradering en verbreding van Lynnwoodweg tussen January Masilela en Simon Vermootenweg. Die seremonie het saamgeval met Stad Tshwane se voltooiing van die opgradering van Glenwoodweg en January Masilela se kruisings met Lynnwoodweg. |