’n Verwoestende brand op 4 November het 45 informele strukture op Plastic View vernietig en 250 inwoners dakloos gelaat. Dit volg ná die brand op 23 September by die nabygeleë Cemetery View, wat duisende dakloos gelaat het en drie lewens geëis het.
Dié twee plakkerskampe brand bykans jaarliks af. Plastic View, langs die Moreletapark-gemeente, bestaan al 17 jaar lank en Cemetery View, langs die Pretoria Oos-begraafplaas, 10 jaar.
Die nag van 23 September met die brand by Cemetery View
Foto: Raadslid Malcolm de Klerk
Die plan is om die plakkers te hervestig en 853 strukture in ’n beplande behuisingskema in Pretoriuspark uitbreiding 40, naby die kruising van Garstfonteinweg en De Villebois Mareuilrylaan, te bou.
Metro-woordvoerder, Selby Bokaba, het in September gesê dat Tshwane ’n ontwikkelaar aangestel het om massa dienste vir water- en sanitasie-netwerke te hanteer. Sodra dié infrastruktuur voltooi is sal die Gautengse provinsiale regering strukture vir maatskaplike huisvesting begin bou, het hy gesê.
Die brand by Plastic View het 250 plakkers dakloos gelaat
Foto: Verskaf
Die Plastic View-hervestigingsaak sloer al 17 jaar en in dié tyd is menige hofbevele uitgereik. In Maart 2006 het Tshwane, die SAPD en plaaslike Gemeenskappolisiëringsforums begin om skuilings in Plastic View af te breek. Die inwoners het prokureurs vir menseregte aangestel om ’n regsgeding vir skade te begin.
In 2008 reeds het die Pretoriase Hooggeregshof Tshwane beveel om die twee plakkerskampe te hervestig of te reguleer. Die plakkerskampe is op grond wat aan Stad Tshwane behoort, gevestig. In Maart 2015 het inwoners van Plastic View ’n interdik verkry wat Tshwane verhoed het om die grond waarop die plakkerskampe opgerig is, te verkoop.
Plastic View ná die brand op 4 November
Foto: Verskaf
In September 2022 het ons berig dat belastingbetalers van Moreletapark, Woodhill, Woodlands en Mooikloof ’n beswaarskrif met duisende handtekenings op aan Tshwane oorhandig het. Dit lui onder andere: “Ons is keelvol vir Tshwane se konstante gebrek aan aksie en dring aan op gereelde klopjagte deur die polisie en binnelandse sake om onwettige immigrante te deporteer”.
Selfs al sou die nuwe maatskaplike behuisingsprojek voltooi word en die inwoners hervestig word, sal die meeste van hulle in die plakkerskampe moet agterbly, omdat hulle immigrante sonder enige dokumentasie is en nie vir regeringshulp in terme van die Behuisingswet kwalifiseer nie. |