Wet Nose Dierereddingsentrum moes in September lasbriewe kry om verwaarloosde, uitgehongerde en siek perde van hulle eienaars te verwyder.
Met die eerste redding moes 24 perde op Grootfontein verwyder word. Wet Nose se sentrumbestuurder en inspekteur, Veronica van Greunen, sê dat die perde aan ’n mens wat hulle as ’n bron van inkomste gebruik het, behoort.
Die reddingswerkers staan op 29 September by Seekoeigat gereed
Foto’s: Wet Nose
Tog was daar nie genoeg voer nie, die perde was vol bosluise, het wurms gehad, gebrekkige indien enige sorg vir hulle hoewe, geen behandeling van hulle tande of mediese sorg nie en geen inentings nie.
’n Merrie genaamd Jessie is eerste gered. Sy het in die veld gelê en was te swak, uitgehonger en siek met bosluiskoors om op te staan. ’n Hele span moes help om haar dringend by Wet Nose se kliniek te kry.
Perde word op Grootfontein gered
Wet Nose het ’n dringende saak voor ’n landdros gebring en ’n hofbevel is uitgereik om die res van die perde te verwyder. Die reddingsdag was 13 September en teen sesuur die aand was die perde veilig by Wet Nose.
Die reusetaak om elke perd te behandel, moes begin en Wet Nose het ’n hulpkreet uitgestuur. Die Hoëveld Perdesorgeenheid het grasbale, water- en kosbakke geskenk. ’n Bad-en-Braaidag is op
23 September gehou en Veronica sê dat dié dag nie net oor skenkings en fisiese werk gegaan het nie, maar oor die gemeenskapsgees van omgee-mense wat saamstaan om te help.
Die eerste perd wat op 29 September gered is
Op 29 September moes Wet Nose weer ’n reddingspoging uitvoer. Die Cullinanse landdros het ’n lasbrief uitgereik sodat sewe perde en ses donkies op ’n eiendom by Seekoeigat gered kon word. Veronica het gesê dat die diere uitgeteer was en so ondervoed dat hulle enige oomblik kon ineenstort.
Almal het gehelp om Jessie te laat regop staan
Die reddingsoggend het aangebreek, maar Wet Nose het ’n vals adres ontvang en moes die lasbrief laat verander. Twee ander perde-eienaars het met hulle eie voertuie en perdewaentjies saamgegaan om te help.
Veronica vertel dat die eienaars geweier het om op enige manier saam met Wet Nose te werk en dat gemoedere hoog geloop het. In die tyd toe die lasbrief verander moes word, is van die perde na ander dele van die Seekoeigat-gebied geneem en dit het ’n groot soektog afgegee om hulle te vind.
Perde word by Wet Nose se Bad-en-Braaidag op 23 September gewas
Veronica sê dat Wet Nose nou 78 perde het en hulle vra diereliefhebbers om bydraes te maak vir die perde se rehabilitasie, om as vrywilligers te gaan werk, en om van die ander perde aan te neem sodat daar meer plek by die stalle kan wees.
Vir meer inligting, skakel Wet Nose by 013-932-3941. |