In jou hande hou jy nou die “mooiste, mooiste maand” se Bronnie. Oktobermaand s’n. Dit is ’n uitgawe wat die “blomtuin vol van kleure” in dié seisoen wys en stories oor die mooiste, mooiste menseharte vertel. Mense wat saamstaan as ’n gemeenskap en verskillende gemeenskappe wat saamwerk om mens, dier en die natuur te help.
Op bladsy agt kan jy lees hoe uiteenlopende groepe mense oor ’n groot gebied gehelp het om Haiku, die 11-jarige skaaphond, te soek sodat sy met haar eienares, die 90-jarige dr Selma van Schouwenburg van Die Wilgers, herenig kon word.
Dr Selma, ’n afgetrede veearts, se motor met Haiku binne-in is by ’n koopsentrum in Lynnwoodweg gesteel. Die motor is die volgende dag in Mamelodi-wes gevind, maar Haiku was nêrens te siene nie.
So het gemeenskappe in ’n groot soektog saamgestaan en gesien dat Haiku van Mamelodi na Eersterust beweeg het en deur die bosse na Derdepoort waar sy en dr Selma ná 10 dae herenig is.
Op bladsy 12 berig ons oor ’n reddingspoging van ’n ander aard. Wet Nose Dierereddingsentrum moes ’n groot klomp perde binne ’n paar weke red. Die eerste geval, waar 24 perde verwyder moes word, het op Grootfontein afgespeel. In die tweede geval is sewe perde en ses donkies op ’n eiendom in Seekoeigat gered.
Ander perde-eienaars het met hulle eie voertuie en perdewaentjies saamgegaan en saam na die perde help soek. ’n Bad-en-Braaidag is ook by Wet Nose gehou en gemeenskapslede het opgedaag om van die perde wat gered is, te bad. Sentrumbestuurder en inspekteur, Veronica van Greunen, sê dat dié dag nie net oor skenkings en fisiese werk gegaan het nie, maar oor die gemeenskapsgees van omgee-mense wat saamstaan om te help.
Mense staan ook saam om wrede strikke wat gestel word, te verwyder, vertel ons op bladsy 21. In ’n onlangse boodskap aan grondeienaars in die Bapsfontein-omgewing, sê Jill Watson dat daar ’n toename in strikke in dié gebied is. “Dit is belangrik dat ons optree om onskuldige wesens teen die wreedheid van strikke te beskerm,” sê sy. “Help ons om ’n verskil te maak.”
Die welsyn-engele, soos Kungwini Welsynsorganisasie en andere, lede van die gemeenskapsveiligheidsgroepe wat, sonder soeke na erkenning, hulle tyd opoffer om mense in nood by te staan en vir almal wat julle harte gee, gee, gee vir die gebied – ons is trots daarop om julle gemeenskappublikasie te wees. |