Nostalgiese terugblik op Vreethans se kuiers in die Bronnie se kinderskoenjare Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 21 September 2023 14:00
Untitled Document

’n Gedenkuitgawe sou nie volledig kon wees as dit nie die kuierplekke insluit waaroor Vreethans oor langer as twee dekades lank in sy eiesoortige styl berig het nie. Vreethans is op 14 April oorlede en in hierdie spesiale 21ste verjaardaguitgawe kyk ons met heimwee terug na ’n paar van Vreethans en Metgesel se kuierbesoeke uit die Bronnie se kinderskoenjare. Die fokus is op kuiers wat Vreethans self in vorige herdenkingsuitgawes uitgesonder het.

Nikos

Een van die legendariese kuiers by Nikos met Nico Breytenbach in die middel regs

In die heel eerste Bronnie in September 2002 het Vreethans vertel dat ’n kuier by Nikos voel soos om ’n naweek plaas toe te gaan. Hy het ’n kerrieafval teen ’n hele R37 verorber en Metgesel ’n hoender-schnitzel teen R28.

Nico en Lynette Breytenbach het in die Bronnie se beginjare dié kuierplek by die ou Zwavelpoort-sentrum gevestig. Nikos was ’n volbloed plattelandse afsaalplek waar die mense van die omgewing mekaar leer ken het en vriende geword het.

Die gemoedelike egpaar Breytenbach (Nico ’n Bosvelder van oorsprong en Lynette ’n Bolander) het eerlike boerekos en egte boeregasvryheid voorgesit. Dit is ook hier waar Nico die ‘Karnivore-klub’ gevestig het. Rou vleis is op verbeeldingryke wyses voorgesit en eksperimente is breedvoerig gedoen.

Nico is op 3 Augustus 2020 ná 'n lang siekbed oorlede.

Die Werf

Die Werf se kuierbalkonne

Chris Thirion het ’n geskiedkundige opstal in Olympus in ’n legendariese kuierplek omskep wat hy Die Werf genoem het. Vreethans noem Die Werf in April 2003 se Bronnie “’n rustige oase wat midde in die koorsagtige ontwikkeling van dié eertydse plotgebied bly staan het”.

Die ou opstal was die perfekte tuiste vir ’n kuierplek wat met dekor en geregte op die tradisionele gefokus het. Chris self was met Vreethans en Metgesel se besoek aldaar die ‘pratende spyskaart’. Vreethans het beesstert (R54,95) geniet en Metgesel se keuse was volstruisnek (R50).

Die oud-generaal het die restaurant ongelukkig verkoop en vandag word dit as Blos Café bedryf.

Formosa

Joritha en Ella Lösch

Een van die jammerste verliese vir die Bronberg-gebied was die dag toe die susters Ella en Joritha Lösch besluit het om Formosa se deure weens veiligheidsoorwegings finaal te sluit. Hulle het daarna nog ’n gastehuis op die mooi hoewe op Bashewa bedryf, maar die susters se gemoedelike teenwoordigheid en aansienlike kookvernuf is deur menige gemis.

Vreethans het gesê dat Sondagmiddagetes by die gesusters Lösch herinner het aan ’n kuier by familie waarvan jy hou. “Hier het ek geleer dat grootvreet en kuier op die platteland hand-aan-hand loop en dat ’n mengsel van kapokaartappels en wit rys perfek onder ’n kookvleis en bruinsous kan loop lê.”

In 2006 het ’n bord boerekos R35 gekos.

Ella en haar man Ernst en suster Joritha het verlede jaar na Mosselbaai verhuis.

Rafters

Joan en Joe Duarte dans tussen die tafels

Joan en Joe Duarte het die eerste weergawe van Rafters by die B-House-sentrum in Garstfonteinweg-verlenging oorkant Mooikloof op die been gebring en ons berig in Mei 2003 dat dit ’n ‘welkome nuwe afsaalplek’ vir die gebied is.

Joan en Joe het hulle gaste met natuurlike gemoedelikheid en opregte vriendelikheid dadelik laat tuis voel en ’n kuier is gekenmerk deur gemaklike geselskap, spontane humor en baie lag. Die kroegie wat op die boonste vlak was, was knus en verwelkomend.

Metgesel het hoendervlerkies en skyfies teen ’n allemintige R20 bestel en Vreethans het beeskerrie met rys en ’n mengelslaai teen R22.95 geniet.

Ons was jammer toe die Duartes besluit om Port Elizabeth toe te verhuis. Joan se broer, Eddie Williamson, en sy vrou, Arline, het Rafters oorgeneem en uitgebou tot die baie groot plek wat dit vandag is.

Bronberg Lodge

’n Skaapkop-braai met wyle Faan Smuts, agter in blou

In November 2004 berig Vreethans dat Faan en Issie Smuts ’n kuierplek in hulle oorgeboude opstal op Zwavelpoort gevestig het. Bronberg Lodge met sy Golden Mole-kroeg sou inderdaad in die opvolgende jare dié plattelandse kuiertuiste vir die omgewing se mense word.

Vreethans se skaapafval het R58 gekos en Metgesel se agt hoendervlerkies met kapokaartappel, gemengde groente en ’n mengelslaai het R28 gekos.

Vreethans het altyd die voorval onthou ná hy oor die plek se kos verslag gedoen het, toe omgekrapte inspekteurs van die DBV by Faan opgeruk het om ’n klagte te ondersoek dat ‘skilpadjies’ aangehou en gaargemaak word.

Dis ook hier waar die buitengewone voorreg Vreethans te beurt geval het om volwaardige lid van die SA Skaapkopgilde te word.

Faan was ’n Weskuster van oorsprong, ’n innemende storieverteller en humoris met ’n wye vriendekring en ’n ruim hart. Hy is op 26 Augustus 2011 oorlede.

Zonked Guinea Fowl

Die Tierpoortse kuierplek van vele name

In 1994 het wyle Eddie Saffy en sy vrou Karin ’n kuierplek op Tierpoort maak staan wat hulle Pheasant’s Nest genoem het. Weerlig het dit in 1999 laat afbrand en ’n kleiner weergawe, The Zonked Guinea Fowl, is neffens opgerig.

Soos die jare verloop het, het die plek veelvuldige eienaars, karakters en ’n verskeidenheid name opgelewer. Saam met rugbylegende, John Knox, het Vreethans en Metgesel ’n ordentlike gesels en kuier aldaar ingewerk toe dit Bull ’n Bush geheet het. Vreethans se 250 gram kruisskyf het R23,50 gekos en Metgesel se stokvis, R16,50. John is op 6 November 2009 oorlede.

Dit was ook weer Bull en Bush toe Karen en Dirk van der Walt jou by die plek laat tuis voel het. Die plek het langs die pad gedra aan name soos Road Runners Pub, Cool Cats, The Playground, Ed’s Place en LJ’s.

 

© 2024 Die/The Bronberger