In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Jess Davidtsz het in 1918 na Kanada vertrek om huishoudkunde te studeer. Terug op eie bodem het haar baanbrekerswerk in dié rigting ’n groot impak op die land gehad. Renee Louw, wat op ’n plaas buite Rayton woon, het foto’s uit haar groottante Jess se foto-album en resepte uit haar kookboek met ons gedeel.
Jess Davidtsz
Bron: Renee Louw
|
Die reis na Kanada met Jess links bo
.
|
Renee vertel dat Jess haar ma, Verna Louw (’n nooi Davidtsz), se tante aan vaderskant, Herman Lambertus Bosman Davidtsz, was en dit is hoe Jess se album en kookboek in Renee se besit gekom het.
Maria Jestina Davidtsz is op 9 September 1896 gebore as die dogter van Petrus Johannes Davidtsz en Fransina Maria Bosman. Sy het haar vroeë skoolopleiding op Potchefstroom gehad en hoërkoolopleiding aan die Hugenote-Seminarium, Wellington.
Bewerkers van die grond met Jess links
In 1918 is sy oorsee vir studies in huishoudkunde, eers na Kanada, waar sy vir twee jaar aan die Macdonald Institute by die Ontario Landboukollege studeer het. Daarna is sy vir twee jaar se verdere studie na Colombia Universiteit, New York, waar sy die graad BSc in huishoudkunde behaal het. ’n Jaar se nagraadse werk, met vakke in verskillende huishoudkunde-rigtings, het gevolg.
Mede studente met Jess moontlik links bo
Terug in Suid-Afrika het Jess huishoudkunde-takke gestig, elk met sy eie bestuur, en sy het kort kursusse by landbouskole begin aanbied. Om die werk aan die publiek bekend te stel het die Landbou-departement ’n demonstrasietrein gereël wat deur die land gereis het om inligting en hulp in sowat 17 vakke te verskaf. Met die stigting van die Transvaalse Vroue-landbou-unie, het die huishoudkundetakke die eerste TVLU-takke geword.
Jess het ook opvoedkundige werk by landboutentoonstellings gedoen en het pamflette met resepte afgerol en versprei. Dié pamflette was die voorlopers van haar boek oor kookkuns, wat die Landbou-departement later uitgegee het.
Jess maak ’n blommekrans
Die Universiteit van Pretoria, destyds nog bekend as die Transvaalse Universiteitskollege (TUK), het besluit om ’n graadkursus in huishoudkunde aan te bied en Jess is in September 1927 as senior lektrise aangestel. Die klasse het in 1928 met 13 studente begin.
Jess is in 1934 tot professor in huishoudkunde bevorder, wat haar die eerste vroulike professor aan die Universiteit van Pretoria gemaak het en ook die eerste professor in Suid-Afrika in haar vak.
Middernagfees by die Macdonald-instituut
Jess is in 1937, toe sy 41 jaar oud was, met dr Coenraad Beyers, destydse hoof van die Transvaalse Argief in Pretoria en later hoof van die Staatsargief van die Unie en eerste Staatsheraldikus van die Republiek van Suid-Afrika, getroud.
Sy moes aan die einde van 1951, op die vroeëre aftree-ouderdom vir vroue, haar werk laat vaar. Sy het egter nie stil gesit nie en in 1958 het ‘Jess Davidtsz se kookboek’ in Afrikaans en Engels die lig gesien. Die ‘Tydskrif vir Letterkunde’ van Maart 1956 dra ’n advertensie van Jess se kookboek en sê dat dit 448 bladsye beslaan, ’n reeks kleurplate het, menige illustrasies en resepte om tot in lengte van dae te gebruik.
Jess se kookboek
Renee Louw sê dat Jess en Coenraad op die familieplaas, Elandsfontein buite Rayton, gewoon het. Sy vertel dat daar ’n traumatiese plaasaanval in die 70’s of 80’s was. Jess het haar laaste dae in die Kronendal-tehuis in Pretoria deurgebring. Sy is op 19 Desember 1987 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.
Renee het ’n aantal resepte uit haar tante se kookboek vir ons gestuur, en ons het ’n koek genaamd ‘Ou Staatmaker’ (baie vinnig!) gekies om met lesers te deel.
Verskeie koeke in die kookboek
Bestanddele:
2½ koppies koekmeel; 3 teelepels bakpoeier; ½ teelepel sout; ¾ koppie botter; 1¼ koppies suiker;
3 eiers, goed geklits; 1¼ koppies melk (ongeveer); 1 teelepel geurmiddel van keuse.
Metode: Meet die eerste drie bestanddele af in ’n meelsif wat oor ’n bak geplaas word. Room die botter goed en voeg die suiker geleidelik by, goed geklop.
Klits die eiers baie goed en voeg twee derdes daarvan by die bottermengsel, terwyl dit sponserig gehou word. Sif ¼ van die droë bestanddele in, en voeg dan die res van die eiers by. Sif die res van die droë bestanddele, ’n derde op ’n slag, alternatiewelik met die melk by.
Kombuistoerusting in die kookboek
Werk vinnig en liggies. Moenie die mengsel met elke byvoeging glad meng nie. Klop dit met ’n kort, flinke beweging aan die einde glad. Plaas in twee gesmeerde laagkoekpannetjies (9 duim in deursnee). Bak vir omtrent 30 tot 35 minute.
Wanneer die koek afgekoel het, sit ’n laag appelkoos- of frambooskonfyt tussen die lae en sif strooisuiker oor die bokant.
Nota: Dié mengsel werk goed vir klein koeke. Bak in ’n goed gesmeerde vormkoekiepan. Wanneer koud, sny ’n deeltjie uit die middel, vul met ½ teelepel frambooskonfyt en versier met versoete en gegeurde geklopte room. |