Zwavelpoorter, Hennie du Plessis,
was een van die voëlfotograwe
wat gehelp het om
bykans 400 voëlsoorte op een dag,
Saterdag 24 Oktober, af te neem.
Die mikpunt was om 350 voëlspesies
dwarsoor die land af te neem as
deel van die wêreldwye 350-veldtog
om mense bewus te maak van klimaatsverandering.
Dié syfer is as
tema gekies omdat dit die aantal
deeltjies koolstof per miljoen deeltjies
van die atmosfeer is wat die
aarde se atmosfeer kan hanteer. Die
huidige vlak het egter reeds tot 390
gestyg.
‘Birdlife SA’ en ‘Birding SA’ het tot
die bewusmakingsveldtog bygedra
deur ’n uitdaging aan alle voëlliefhebbers
te rig om soveel as moontlik
van ons land se 850 inheemse
voëlspesies af te neem. Sowat
16 000 foto’s is van 274 fotograwe
ontvang. Die foto’s is op die webwerf
http://350.birdingafrica.com
gelaai.
Kroonkiewiet
Hennie se kroonkiewiet en blouvalk
is ou bekendes in die Bronberggebied.
Die kroonkiewiet, Vanellus
coronatus, is 30 cm lank, het lang
bene en ’n kenmerkende ‘kroon’ op
die kop, wat soos ’n swart mus
onderbreek deur ’n wit stralekrans,
lyk.
Hulle sê kiewiete maak die beste
ouers in die diereryk omdat hulle vir
niks stuit as die nes bedreig word
nie. Daar is gevalle opgeteken van
kiewiete wat ’n trop olifante van
roete laat verander het.
Dié voëls kan redelik mak word,
maar sal nie huiwer om mense en
diere van hul neste te verjaag nie. ’n
Kiewiet kan selfs maak of hy ’n
beseerde vlerk het om roofdiere en
mense na hom toe te lok en in die
proses die aandag van die nes af te
trek.
Kroonkiewiet
Foto?s: Hennie du Plessis, Zwavelpoort
Blouvalk
Die blouvalk, Elanus caeruleus, is ’n
klein valkie met lang, gepunte
vlerke en ’n vierkantige stert. Sy
gevoude vlerke strek verby sy stert
as hy sit. Hy is grys en wit met swart
op sy skouers en het rooi oë.
Dié valkie spandeer die grootste
deel van die dag op kragpale, drade
of in dooie bome waar hy vir prooi
sit en wag. Hy verander nie sommer
van gebied nie en migreer glad nie.
Die grootte van ’n blouvalk se gebied
word deur die beskikbaarheid
van prooi bepaal – hoe meer prooi,
hoe kleiner elke blouvalk se gebied.
Blouvalke kom in paartjies voor en
alhoewel hulle nie saam jag nie, is
hulle nooit ver van mekaar af nie.
Blouvalke slaap in die aande in
bome en is een van die eerste voëls
om in die oggende te begin vlieg.
Partykeer kan groepe van 15 tot 120
blouvalke buite die broeiseisoen in
dieselfde boom slaap.
Blouvalk
|