’Ontroue’ predikante beland in kampe vir ongewenstes Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

Al ooit gewonder wat predikante se lot in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 was? Sommiges, soos Totius, het as veldpredikers by kommando’s aangesluit. Ander het in plaaslike “kampe vir ongewenstes” of in oorsese interneringskampe beland. En dan was daar ook die joiner-predikante wat witvoetjie by die Britte gesoek het.

Afrikaanse dominees, of hulle nou op kommando was of in kampe opgesluit was, het uit Hollandse Bybels gepreek. Die Afrikaanse Bybel is in Augustus nou maar eers 90 jaar oud en die Anglo-Boereoorlog Museum se mense het diep in hulle argief gaan krap om inligting en foto’s van kerkdienste in die oorlog te kry. Dié kosbare skat is met die Bronnie gedeel.


’n Kerkdiens op 24 Januarie 1901 by Diyatalawa, Ceylon met ds Paul Roux en ds Petrus Postma
(met die Bybel) in rooi omkring
Foto’s: Anglo Boere-oorlog Museum

Met die aanloop tot die oorlog het gereelde gebede in kerke opgegaan vir vrede en daar is selfs gepleit vir ’n spesiale biddag om vrede. Die moderatuur van die OVS het die oorlog as ’n broederoorlog van “Protestanten tegen Protestanten” gesien en het ’n beroep op kerke in Brittanje gedoen om die oorlog te keer.

Tog is oorlog op 11 Oktober 1899 teen die twee onafhanklike Boererepublieke – die Republiek van de Oranje-Vrijstaat (OVS) en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) – verklaar en volgens ‘De Fakkel’ (die amptelike kerkblad van die OVS NG Kerk) van 19 Oktober 1899 was “De zaak der Republieken eene rechtvaardige. In zelfverdediging zijn de wapen opgenomen.”


Ds Albertyn met katkisante op Bermuda

Veldpredikers
Skielik was die meeste gemeentelede op kommando en aanvanklik het baie predikante besoeke te velde aan dié burgers gebring en dienste gelei. Ná die slag van Paardeberg en generaal Cronjé se oorgawe is ’n keerpunt in die oorlog ingelei. Bloemfontein en daarna ook Pretoria is deur die Britte beset en die kerk het ’n donker tyd beleef.


Die hoofbestuur van die Streversvereniging van die Deadwood- en
Broadbottomkampe op St Helena

Sommige predikante het as veldpredikers by kommando’s aangesluit terwyl ander verkies het om by hulle gemeentes, wat toe net uit vroue, kinders en bejaardes bestaan het, te bly. Dit was nie maklik nie, omdat kerkeiendom op grootskaal deur Britse soldate beskadig en vernietig is.

Dié skade het gewissel van die vernietiging van kerkregisters en die diefstal van Nagmaalserviese tot die totale vernietiging van kerke en pastorieë. Die Britte het kerkgeboue as stalle, hospitale en barakke gebruik. Selfs van die NG Kerke in die Kaapkolonie is deur die Britte vir dié doel aangewend.


Sondagskoolonderwysers in die Diyatalawakamp op Ceylon

Kerktorings was ’n goeie uitkykpos om die onmiddellike omgewing te bespied en baie kerkgeboue in die twee republieke is kort ná die besetting van ’n dorp deur die Britte gekommandeer en in fortifikasies omskep.


Gevierde digter, predikant en hoogleraar, prof Jacob Daniël du Toit (Totius), regs, op kommando

Ongewenstes
Daar was ook predikante wat gevangene geneem is, omdat hulle as “ontrou” gesien is en hulle het in “kampe vir ongewenstes” beland.

Volgens die museum was daar etlike predikante in die Kaapkolonie wat hulle sterk oor die Britse militêre optrede, teenoor veral die burgerlike bevolking in die twee Boererepublieke, uitgespreek het. Dit was veral die konsentrasiekampstelsel wat groot ontevredenheid onder Afrikaners in die Kaapkolonie ontlok het. Die kritiek het onder meer gekom van predikante soos ds Johan George Steytler van die Kweekskool op Stellenbosch, wat deur die Britse owerheid as ’n nes van opstokers gesien is.


Ds Joshua Naude, regs, vader van ds Beyers Naude, op kommando saam met generaal
Christiaan Beyers, links

Die Britse militêre bevel het probeer om dié predikante te identifiseer en ingevolge krygswet uit die gemeenskap te verwyder. Hulle is na plekke waar hulle sentimente die minste impak kon hê, verban. Dié ongewenstes, veral uit die distrikte Cradock, Middelburg, Graaff-Reinet, Somerset-Oos, Bedford en Aberdeen is in baie gevalle sonder verhoor vir die duur van die oorlog by Port Alfred of Matjiesfontein geïnterneer.


Die Strevers-drukkery en redaksie op Ceylon

Verban
Ander predikante uit die twee republieke is as krygsgevangenes oorsee verban. In gevolge die Haagse Konvensie is voorsiening gemaak dat krygsgevangenes hulle godsdiens vrylik kon beoefen binne die beperkings van die regulasies in die kampe.


’n Erediens met die beleg van Mafeking

Volgens die museum se navorsing het die NG Sinode van die Kaapkolonie toestemming van die militêre owerheid verkry om predikante na die onderskeie krygsgevangenekampe oorsee te stuur. Daar was byvoorbeeld ses predikante vir die 5 126 krygsgevangenes op Ceylon.


’n Kerkdiens op Ceylon

Behalwe kerkdienste is Pinksterbidure, kooruitvoerings, kategese-klasse en Sondagskool in die kampe aangebied. In die krygsgevangenekampe op Ceylon, Indië, Bermuda en St Helena was daar 1 389 seuns tussen die ouderdomme van ses en 15 jaar. Baie van die ouer krygsgevangenes het katkisasieklasse vir die seuns aangebied.

Streversverenigings, wat ten doel gehad het om geestelike groei onder die krygsgevangenes te bevorder, het in kampe ontstaan.


’n Kommando te velde hou ’n erediens

Joiners
Die museum se navorsing wys dat daar ook enkele predikante was wat nie ongenoeë was om die Britse oorlogspoging aktief te steun nie. Hulle kon aanbevelings aan die Britse militêre owerheid maak oor die aanstelling van predikante in konsentrasiekampe, krygsgevangenekampe en in gemeentes.

Slegs leraars wat as “nie-opruiend teenoor die Britse oorlogspoging” beskou is, is toegelaat om hulle werk voort te sit. Baie van dié “goedgekeurde” predikante het gehelp met die begrafnisse van 26 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe.


’n Kerkdiens vir krygsgevangenes op Bermuda

Die museum sê dat Bittereinder, Joiner en Hensopper ná die oorlog weer dieselfde kerkbanke moes deel en saam op kerkrade in gemeentes moes dien. Die kerk het uit sy pad gegaan om, nadat sensuur op verraaiers toegepas is, versoening te help bevorder. Die versoening was nie altyd geslaag nie, soos wat later geblyk het uit die skeuring in die Winburg-gemeente waar die ‘Joiner Kerk’ en die ‘Bittereinder Kerk’ (Rietfontein) ontstaan het.


’n Kerkdiens in die krygsgevangenekamp by Groenpunt, Kaapstad

Taal
Die plaaslike taal is deur die nuwe Britse owerheid geminag en daarom het die kerkgenootskappe begin om Christelik-Nasionale Onderwysbeweging-skole (CNO-skole) te stig. Dit was veral
ds Postma van die Gereformeerde Kerk, ds Goddefroy van die Hervormde Kerk en ds HS Bosman van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat die leiding hierin geneem het.


’n Kerkkoor op Ceylon

’n Kinderbybel in Afrikaans, wat deur WJ Conradie saamgestel is, het in 1912 die lig gesien. Die eerste proefuitgawes van die Psalms en die Evangelies is in 1920 gepubliseer. In 1923 is daar daadwerklik begin met die vertaling van die Bybel na Afrikaans deur ds JD du Toit (Totius),
ds JD Kestell, dr EE van Rooyen, dr BB Keet en dr HCM Fourie. Dié werk is in 1933 voltooi en die eerste besending van 10 000 Bybels in Afrikaans het op 29 Mei 1933 met die Carnavon Castlein Suid-Afrika aangekom.


Bybelvertalers in 1933, voor van links na regs: Totius; ds JD Kestell en dr BB Keet. Agter: Dr EE van Rooyen; en dr HCM Fourie

Die Afrikaanse Bybel is te midde van ’n kwellende droogte amptelik op 27 Augustus 1933 in die Bloemfonteinse Markgebou bekendgestel. Bykans 5 000 mense en ook ds Kestell en ds Du Toit (Totius) was teenwoordig. Die aanvraag na die Afrikaanse Bybel het daartoe gelei dat daar dieselfde jaar ’n verdere 140 000 Bybels versprei is.

 

© 2024 Die/The Bronberger