’n Klein beeldjie van ’n dapper meisie, wat oor die dekades maar bitter min erkenning ontvang het, is in die eerste week van Vrouemaand by die Voortrekkermonument se historiese Trekroetetuin onthul.
Grietjie Prinsloo was net 15 jaar oud toe Dingaan se impies die Voortrekkergeselskap een uur die oggend van 17 Februarie 1838 by Bloukrans aangeval het. Grietjie het 26 assegaaisteekwonde opgedoen, maar het die aanval oorleef.
Die Bloukransmoorde of Bloedbad van Weenen was ’n slagting vernoem na die Bloukransheuwel in KwaZulu-Natal. Weenen, ’n naburige dorpie, is so genoem ter herdenking aan die treurspel waar 41 Voortrekkermans, 56 vroue, 185 kinders en 532 diensbodes en veewagters vermoor is.
Catharina Margaretha Petronella (Grietjie) Prinsloo is op 14 September 1822 gebore as die dogter van Martha Louisa en Joachim Johannes Prinsloo, ’n kwytgeskelde Slagtersnekrebel. Haar ma en pa is albei by Bloukrans vermoor.
Barry Muller van die FAK, beeldhouer Jaco van Niekerk en ontwerper Anneke Langner sit Grietjie Prinsloo se beeldjie in die historiese Trekroetetuin
Foto: Verskaf
Die Prinsloos en Van der Merwes het naby mekaar kamp opgeslaan, oos van die Grootmoordspruit, waar hulle grotendeels uitgewis is. Grietjie en haar maatjie, die 12-jarige Johanna van der Merwe, wat 23 assegaaisteekwonde gehad het, is die volgende middag deur die Voortrekkers se soek-en- reddingseenheid gevind.
Grietjie het saam met ’n onbekende trekgeselskap verder noord getrek tot sy in die Cullinan-omgewing beland het. Sy is met Marthinus J Prinsloo getroud en is op 6 Februarie 1888 in die ouderdom van 65 jaar oorlede en op De Tweede Spruit begrawe.
Grietjie se beeld is deur Anneke Langner, ’n kommunikasiebeampte van die Voortrekkermonument en FAK, ontwerp en die beeldhouer is Jaco van Niekerk.
“Om ’n jong heldin vir die eerste keer in die geskiedenis te kan vereer, is ’n groot voorreg,” het Barry Müller, FAK-kultuurkoördineerder, gesê. |