Moedelose inwoners protesteer op straat Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

Inwoners van Zwavelpoort en Mooikloof het op 15 Julie ’n protesaksie geloods oor kragvoorsieningsprobleme in die gebied. Raadslid vir wyk 101, Malcolm de Klerk, en burgemeester, Cilliers Brink, was op die toneel om oplossings te probeer vind.


Deel van die protesaksie langs Atterburyweg-verlenging
Foto’s: Verskaf

Inwoners het op dié bitterkoue dag in Atterburyweg-verlenging by Mooikloof se noordelike hek byeengekom met die hoop dat daar gehoor gegee sal word aan hulle frustrasies. Hulle het verduidelik dat die gebied se krag elke keer ná beurtkrag uitskop. Die oomblik as hulle krag moet aankom, skop dit uit omdat die elektriese lading te hoog is en dit bly dan weer vir ure af. Behalwe vir die ongerief daarvan het sake-eienaars in die gebied reeds groot finansiële verliese gely. Selfoontorings se batterye hou nie so lank nie en baie mense in die gebied het met kragonderbrekings geen selfoonsein nie.


Protesteerders het op ’n bitterkoue Saterdagoggend byeengekom

Cilliers het aan inwoners verduidelik dat dié situasie nie uniek is nie en dwarsoor die stad gebeur. Hy het gesê dat hy daardie dag met die stadsbestuurder en die burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste gepraat het en die versekering gekry het dat werk aan die Mooikloof-substasie gedoen word om die elektriese lading eweredig te versprei. Dit sal glo help dat die krag nie elke keer uitskop as beurtkrag verby is nie.


Raadslid Malcolm de Klerk, links, by burgemeester Cilliers Brink, regs, wat die terugvoer wys wat
hy op sy selfoon ontvang het

Protesteerders wou weet of dit die probleem oor die langtermyn sal oplos en of dit net daardie naweek ’n eenmalige verligting sou bring. Malcolm het tegniese terugvoer ná die protesaksie met die gemeenskap gedeel. Die paneel is aangesit, maar dele was steeds af weens ’n beskadigde kragpaal in Achillesweg. Die Onbekend-lyn (O61) is op ’n spesifieke paal geïsoleer sodat die depot dit kon nagaan en herstel.

Malcolm het gesê dat die elektriese lading versprei is, soos versoek, en dat eenhede na ’n ander paneel verplaas is.

 
 

© 2024 Die/The Bronberger