Angie Kleijn
Al ooit gewonder waar Rietondale se naam vandaan kom? Dié Moot-voorstad is in die swaarkry jare ná die Anglo-Boere-oorlog by Pretoria se stadsgebied ingelyf – ’n tyd toe konsentrasiekamp- bewoners sonder heenkome nog in die nabygeleë Donkiekamp gewoon het en toe baie van die eerste wonings in dié gebied sinkhuisies was.
Rietondale lê langs Soutpansbergweg met die regeringsproefplaas in die ooste en word begrens deur Meintjeskop in die suide, Skurweberg of Vlakkoppies (mense kon nie oor die naam ooreenstem nie) in die noorde en ’n grens wat skuins loop om Chamberlainstraat en Russellstraat oor die hoek van Kieser- en Noordstraat te verbind.
Rosa Swanepoel se navorsing wys dat die konsentrasiekamp by Meintjeskop op 15 Desember 1902 gesluit is. Tog het sommige mense ná die oorlog geen heenkome gehad nie en het in die kamp aangebly al is dit nie meer deur die regering onderhou nie. Die kamp het die bynaam Donkiekamp gekry, omdat die inwoners elk een of meer donkies gehad het.
Dié kamp was baie na aan Rietondale, min of meer op grond waar die HF Verwoerd-hospitaal later gebou is. Pretorianers het na donkiekamp as ’n armblanke-kamp verwys en die mense het in haglike omstandighede gewoon. Die plek is eers ná 1910 opgeruim.
Mense kon glo tot in die 1950’s nog perdekarkasse in ’n lae nek, genaamd ‘Perdehel’, in Skurweberg of Vlakkoppies opgrawe. Dié perde was glo Skotse perde wat die Britte met die Anglo-Boere-oorlog laat invoer het en hulle kon die Afrika-siektes nie hanteer nie. Baie van hulle het by die konsentrasiekamp, voor dit donkiekamp geword het, gevrek en is na die nekkie geneem om verbrand te word.
Eens was daar ook ’n reuse vlei met ’n pragtige stroom en spierwit sand teen die oewers aan Rietondale se westelike grens. Die oorspronklike eienaar van Rietondale, ene mnr Dale, het dit na die Franse Riviera vernoem.
In die ‘Pretoriana’ van April 1970 skryf mej JSC du Plessis dat daar ’n groot rietbos aan dié voorstad se westelike grens was en dat mnr Dale die rietbos met sy naam verbind het deur ’n tussenvoegsel, -on-. Hy kon ook “Riet on the dale” bedoel het, siende dat die voorstad in ’n leegte tussen twee berge geleë is.
Frank Fewster Chamberlain
Bron: chamberlains.co.za
Frank
Volgens mej du Plessis het die hele gebied wes van Rietondale se westelike grens, tot teen Parkerstraat in Riviera, aan Frank Fewster Chamberlain (gebore op 8 Februarie 1864) behoort. Hy het sy grond in erwe verkoop op voorwaarde dat die vlei waarin die rietbos gestaan het, dreineer moes word. Dekades later het daar net ’n klein stroompie lang die Chamberlain Boumateriaal en Ysterwarewinkel geloop.
Die oudste oorblywende dokument van die Chamberlain familie-onderneming dateer uit 1903 en is ’n kwitansie vir die eerste paaiement van die eiendom wat Frank gekoop het. Hy het aanvanklik tweedehandse boumateriaal aan melkboere in die Mootvallei verkoop. Daar is glo legendariese tennispartytjies by sy huis, reg oorkant sy winkel, gehou.
Ná die Anglo-Boere-oorlog is die soldate se barakke op Roberts Hoogte (wat later Voortrekkerhoogte geword het) afgebreek en Frank het gereeld soontoe gegaan om te bie op materiaal wat hy in sy winkel verkoop het.
In 1926 het Frank se nefie, Frank Herbert Chamberlain, vanuit Engeland by hom aangesluit. Frank is op 3 April 1935 oorlede en sy boedel het £4 778 en 20 eiendomme ingesluit. Chamberlainstraat is na hom vernoem.
Chamberlains in 1903
Bron: chamberlains.co.za
Sinkhuis
Dit laat ’n mens wonder oor Die Sinkhuis, wat vandag in Lysstraat 59 staan en ’n bekende kuierplek geword het. Was dit ’n tweedehandse barak wat Frank verkoop het?
Terloops, Lysstraat is na John Robert Lys vernoem, ’n winkelier in ou Pretoria, ’n amateur geoloog wat Latyn kon lees, graag solo-areas gesing het en wat ’n rare Engelsman in die Zuid-Afrikaansche Volksraad was.
Hy is met Olivia Selina Fry getroud en was aangetroude familie van Harry en Fred Struben, wat die eerste goud aan die rand ontdek het, Albert Brodrick, ’n toekase winkelier bekend as Albertus Broodryk, en James Rous, uitgewer van ‘De Volksstem’.
John Robert Lys, sy vrou Olivia Selina, ’n nooi Fry, hulle seun Godfray en twee dogters
Foto: Verskaf
Volgens Die Sinkhuis se webtuiste het die huis aan ’n mej Kate Hope behoort en is ná haar dood op ’n veiling verkoop. Hulle sê dat dit ’n 1892 sinkhuis is. Tog is daar nie veel bekend oor die huis se geskiedenis nie. Daar word geglo dat dit ’n voorafvervaardigde struktuur was, maar Roberts Hoogte se barakke, wat Frank verkoop het, is eers ná 1902 afgebreek.
Mej du Plessis se navorsing wys dat Rietondale as voorstad begin ontwikkel het in uiters moeilike tye en dat “mankoliekige sinkhuisies” hulle verskyning gemaak het. ’n Sekere mnr JW Morrison, ’n boukontrakteur waarna Morrissonlaan vernoem is, het homself beywer vir die verfraaiing van die voorstad. Hy was ’n eienaar van die gedeelte van Rietondale waardeur Morrissonlaan vandag loop en het begin om die sinkhuisies op te koop. Hy het, op sy eie voorwaardes, geld aan nuwe eienaars voorgeskiet om elk ’n stewige huis te laat bou. Teen 1970 het daar net een sinkhuisie op die hoek van Daleweg en Lysstraat oorgebly.
Donkiekamp
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Mikro
Gegewe die agtergrond van “mankoliekige sinkhuisies” kan ’n mens verstaan hoekom die eertydse Hannastraat na Klaradynstraat herdoop is. Hanna was die vrou van Herbert Edward Robertson, op wie se grond die straat uitgelê is. ‘Klaradynstraat’ is die naam van een van Mikro se boeke, wat die wel en wee van mense uit die laer en armer klasse in die samelewing uitbeeld.
Die Afrikaanse skrywer Mikro, die skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn (8 Oktober 1903 –
17 April 1968), het ook in Rietondale gewoon. Mikro het in die begin van 1956 in Pretoria beland toe hy aangestel is om die redaksie van die jeugtydskrif, ‘My Land’, vir die Departement van Landbou te behartig.
Hier aangekom moes hy hoor dat daar teen die stigting van die tydskrif besluit is en hy is die pos as redakteur van die tydskrif, ‘Boerdery in Suid-Afrika’, aangebied. Mikro het dié pos tot 1960 beklee en was tot sy aftrede in April 1964 hoofleier van die Landsdiensbeweging in die Departement van Landboutegniese Dienste.
Die Sinkhuis in Lysstraat 59
Bron: sinkhuis.co.za
Oorspronklik
Mej du Plessis se 1970 navorsing het getoon dat Rietondale aanvanklik ooswaarts tot in dit wat vandag die voorstad Queenswood is, gestrek het. Dié hele plaas het aan ’n mnr Beyers behoort, wat dit aan mnr Dale verkoop het. Destydse minister Piet Grobler het die gedeelte vanaf Alicestraat tot in Queenswood gekoop en hy het dit as proefplaas aan die regering verkoop.
Pieter Gerrit Wessel Grobler is op 1 Februarie 1873 in Paul Kruger se huis op Boekenhoutfontein in die Rustenburg-distrik gebore as seun van Wilhelmus Hermanus Cornelis Grobler en Alida Theunetta, ’n dogter van Paul Kruger se suster, Sophia Margaretha Kruger.
Tottie Krige en sy vrou Emilie by hulle vier kinders: Pauline Emilie, Susanna Johanna (Mollie),
Jacob Daniel en Peter
Bron: Dr Petrus Krige in Familia 2016 nr 1
Piet was ’n skrander kind, maar hy moes as bokwagtertjie werk. ’n Onderwyser het hom in die veld, waar hy bokke opgepas het, gaan leer en Piet het begin skoolhou om genoeg geld bymekaar te maak om by die bekende Pretoriase gimnasium van Meester Louis te gaan leer.
Hy het van krag tot krag gegaan, ’n politieke loopbaan gevolg en die Kruger Nasionale Wildtuin is in Piet Grobler se tyd as Minister van Lande gestig. Hy word as een van die wildtuin se drie vernaamste grondleggers gesien.
Piet was met Lydia Magdalena Fouché getroud, het later Transvaalse senator geword en is op
22 Augustus 1942 in die ouderdom van 69 jaar in Pretoria oorlede.
Piet en Lydia Grobler
Foto: Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859–1959
Tottie
Behalwe vir Piet se deel van Rietondale, is die res van die plaas aan verskeie agente, onder meer Bourke Trust, en aan Tom Jenkins en landmeter Petrus Schabort (Tottie) Krige verkoop. Tottie het Rietondale voor 1910 reeds in erwe laat opmeet.
Hy is op 13 August 1874 op Stellenbosch gebore as een van wyn- en melkboer, Jacob Daniel Krige, en sy vrou Susanna Johanna, ’n nooi Schabort, se nege kinders. Tottie se suster, Sybella Margaretha (Isie), het later met Jan Smuts getrou.
Christoffel Hermanus Kühn, bekend as die skrywer, Mikro
Foto: goodreads.com
Tottie en sy swaer Jan was van jongs af hegte vriende en was saam in die oorlog. Ná die oorlog was dié twee saam na die vrede-samespreking op Vereeniging en die dokument wat die Boere vir dié samesprekings voorberei het, is in Tottie se handskrif opgestel.
Hy is met Emilie (Emmie) Bernsmann getroud en het na die Pretoria-distrik verhuis waar hy by die landmeter-generaal se kantore in Pretoria gewerk het.
Thomas James Pearce Jenkins in 1909
Foto: Wikimedia
Jenkins
Die suidelike grens van Rietondale is Meintjeskop, vernoem na Stephanus Jacobus Meintjes. Daar was ’n klein private perdepaadjie, slegs vir die goewerneur-generaal en ander ampsdraers se gebruik, wat oor die kop geloop het.
Dié grond het aan ’n mnr Roda behoort, wat dit aan Tom Jenkins verkoop het. Tom het dit aan die regering verkoop met die voorwaarde dat die klein paadjie in ’n behoorlike pad omskep moes word en aan die publiek oopgestel moes word. Italiaanse Krygsgevangenes het Tom Jenkinsrylaan in die Tweede Wêreldoorlog met klip en beton gebou.
Die Sinkhuis voor restourasie
Bron: sinkhuis.co.za
Thomas James Pearce Jenkins is in 1883 in die Paarl gebore en het as sesjarige saam met sy ouers, Isaac Pearce Jenkins en Rachel, Pretoria toe getrek. Op 15 Junie 1907 het hy by die Transvaal-museum begin werk. Hy het van 1909 by die Departement van Lande begin werk, maar het nog vir die museum plante versamel (uiteindelik meer as 1 200 spesies). Daarna het hy by die Departement van Binnelandse Inkomste gewerk tot hy in 1938 afgetree het.
Tom was met Dories Prince getroud en was voorsitter van Rietondale se belastingbetalings- vereniging en later het hy ook vir Arcadia, Riviera en Rietondale op die stadsraad verteenwoordig. Hy het in 1944 burgemeester geword en het in Margate gaan aftree waar hy in 1966 in die ouderdom van 81 jaar oorlede is. |