Slange is erger as visse Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 24 July 2023 08:00
Untitled Document

Slange, sê oorlede Theo op ’n dag uit die bloute, is erger as visse.

Ja, sê ek toe maar, en die verskil tussen ’n eend is die regterpoot.

Nee wag, verduidelik ou Theo, hy bedoel dat die bogstories wat om slange gebou word, die grote-wat-weggekom-het en ander visstories na kleuterspeletjies laat lyk.

Hy dink byvoorbeeld aan die slangstorie wat sy oom hom vertel het en wat hy van kindsbeen af oor al die jare heen geglo het, want sy oom sal mos nie vir hom lieg nie, sê Theo – en ek luister.

Dit was ’n snikhete dag in die bosveld wat juis daardie jaar uitsonderlik ruig was, weet oom glo te vertel. Hy het so rustig met sy bakkie in die plaaspaadjie afbeweeg terwyl die sing van sonbesies bokant die gebrom van die Chevenjin uitskril, toe hy hier voor hom ’n ampers ongelooflike ding sien.

Twee allemintige swart mambas is jou werklikwaar gewikkel in wat eers vir oom na ’n stryd des doods lyk. Toe hy egter nader kom sien hy die satanskinders is aan’t paar. Tyd vir dink en plek vir uitswaai is daar nie en toe hy weer sien, is oom met die Chev bo-oor die gekoeksusterde swart mambageit.

Hy kyk in sy truspieëltjie en sien die wyfieslang van so drie meter lank is besig om haar laaste slanggesang met rigtinglose rukbewegings in die stofpaadjie uit te voer. Maar die mannetjie van ’n stuk of vier meter lank makeer skynbaar niks en is besig om met woedende doelgerigtheid die bakkie agterna te sit.

In sy dag des lewens het oom nog nie só iets aanskou nie. Hy trap die Chev se lepel weg, maar mamba se kind bly kom. Gou is dit duidelik dat die slang probeer om langs die bakkie verby te beweeg. Hy weet blykbaar goed dat die oorsaak van die wrede onderbreking van sy paringsdaad in die kajuit van die blikmonster sit. Die mamba is briesend. Hy kan as te ware slange vang. Hy het wraak voor die oë.

Gelukkig is die paadjie te nou vir verbysteek en die veld is te ruig vir die slang om daar spoed op te tel. Soos dit nou maar is op ’n bosveldplaas loop die paadjie so al langs die grensdraad af. Op dié manier kan jy sommer so uit die bakkie uit boer, kyk dat die draad nog reg is en dien die pad terselfdertyd ook as voorbrand.

Skielik, sê oom, sien hy nie meer die slang nie. Eers vrees hy dat die omgekrapte ongedierte agter op die bak geklim het, maar toe sien hy ’n vreeslike ding in die kantspieëltjie van die Chev.

Net ’n klein entjie agter die bakkie kom die mamba soos ’n pyl uit ’n boog bo-op die grensdraad af nadergeblits. Dit is ’n allerongelooflike aardigheid, sê oom.

Elke keer as die slang by ’n dropper in die draad kom, dan lig hy net sy lyf in ’n halfmaan na bo en hy is daaroor. Die halfmaan loop dan van kop-tot stertkant oor die dropper sonder om sy spoed te breek. As die hoepel agter uitgeloop het begin die volgende een weer voor en beweeg al met die lang slanglyf af. En so kom die mamba al nader met sy koue haatdraende oë vasgenael op oom se agterkop.

Die kantruit van die bakkie werk lankal nie meer nie en die slang is lank genoeg om hom gerieflik van die draad af in die kajuit in te werp.

Naderhand is die mamba langs die Chev en oom kan sien hy maak reg om toe te slaan – sy kop half skeef gelig met sy koue oë stip op die teiken. En toe eensklaps is die slang weg.

’n Goeie paar honderd meter verder hou oom stil, steek sy pyp op en trek ’n paar diep teue voor hy versigtig nader tru om te gaan kyk wat gebeur het.

Met sy volle aandag op oom gevestig het die moedswillige mamba nie die groot ou hardekoolstomp wat as ankerpaal gebruik is, gesien nie. Sy kop was papgestamp en sy vier-meter-lange lyf was sweerlik nou skaars ’n meter lank. Ja, ou Theo, slange is voorwaar erger as visse . . .

Gerhard Kleijn, Junie 2004

 

© 2024 Die/The Bronberger