In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Elizabeth Jane Dijkman se kookboek, ‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’, wat in 1890 deur die drukkers van ‘Die Afrikaanse Patriot’ gepubliseer is, was die eerste Afrikaanse kookboek.
Binne twee jaar het drie uitgawes die lig gesien en uiteindelik was daar altesame 18 uitgawes. Die tweede druk van die boek was in Julie 1891, die derde uitgawe van 6 000 eksemplare was in Februarie 1892 en met die vyfde druk sien 12 000 eksemplare die lig. In 1908 verskyn die agtste druk wat Elizabeth in Engels vertaal het.
Dié foto van Elizabeth is in 1986 aan die Drakenstein Heemkring voorsien
Bron: Drakenstein Heemkring – Johann Claassen se navorsing
‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’ is in die taalformaat en spelling van die eerste Afrikaanse koerant – ‘Die Afrikaanse Patriot’ – geskryf in die tyd toe Elizabeth se man, Jan Hendrik Dijkman, by DF du Toit & Co, die koerant se drukkers, gewerk het.
’n Mens kan die ontwikkeling in Afrikaanse spelling van 1890 tot 1922 in die verskillende herdrukke van die boek sien. Dit was vir baie jare die enigste gedrukte Afrikaanse resepteboek, wat die herinnering aan tradisionele boerekos lewend gehou het in ’n samelewing wat oorheersend Engels was. Tog het Elizabeth Engels grootgeword.
Die 14de verbeterde ‘edisi’ van die kookboek, met ’n advertensie op die stofomslag, is in 1910 deur Paarl Drukpers uitgegee
|
‘Di Suid Afrikaanse kook, koek en resepte boek’, derde druk, 1892
Bron: bobshop.co.za
.
|
Elizabeth Jane Eckley is op 25 Augustus 1840 as dogter van ’n Engelse seekaptein, John Collins Eckley, en sy vrou, Jane Smith, in Londen gebore. Toe sy vyf jaar oud was, het die gesin na Kaapstad emigreer.
Elizabeth en Jan is op 7 Januarie 1862 op Worcester getroud. Hy het in die 1840’s as sendeling van die Nederlandse Zendinggenootschap na Suid-Afrika gekom. Dié twee het vir 12 jaar op Hermon sendingwerk gedoen en het sewe kinders gehad. Hulle het later na Tulbagh verhuis en in 1880 na die Paarl. Elizabeth is op 5 Mei 1908 op Wepener in die suid-oos Vrystaat oorlede.
’n Foto van Elizabeth Dijkman in die kookboek wat sewe jaar ná haar dood verskyn het
Bron: Drakenstein Heemkring – Johann Claassen se navorsing
Vandag is dit nie net die kosresepte wat haar boek so gewild onder versamelaars maak nie, maar ook die vreemdsoortige boererate. Byvoorbeeld, diegene wat aan “ferstopping” ly kan genees word deur “pille fan kasterolie en heuning” soos ’n rooi boontjie te maak. Dié pille moet “in fondament” gesit word.
In haar eie outydse Afrikaans wys ons hier wat Elizabeth met groen vye en vyeblare gedoen het in haar resepte vir ‘Groen Vye Komfyt’en ‘Soet Sopie’. Nog ’n ‘komfyt’ wat glo sedert Jan Van Riebeeck se tyd aan die Kaap gewild was, is gemaak van siter of sitroen en Elizabeth verduidelik die ‘dage’ lange proses.
Mev Conradie het Elizabeth se kookboek in Julie 1893 by haar “dierbaren echtgenoot”, SW Conradie, gekry
Bron: bobshop.co.za
.
|
Dié faksimilee-uitgawe van die eerste druk van ‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’ is in 1979 deur Human & Rousseau uitgegee
|
Groen Vye Komfyt
“Vir 100 vye, neem 6lb witsuiker, skil die vye mooi dun af met ’n messi, of krap dit af met ’n stukki glas. Sny ’n kruisie er in, kook dit op met ’n hand vol sout, laat dit dan skielik in koud water 3 maal agter makaar val, dat dit skielik koud word.
Kook dan die stroop dik en doet die vye daarin, laat dit goed deur komfyt. ’n Ander manier is om di vye op te kook met ’n handvol wingerdblare nadat dit 24 uur geleg het in kalkwater, 2 lepels kalk in ’n fyn lappi op ’n emmer water, is oek ’n goeie manier.”
Soet Sopie
“1 bottel brandewyn of genever / 2lb suiker, 1 handvol skone vygeblaar. Metode: Kook di suiker in
1 1/2 bottel water met di blare. As di stroop begint te kleur, dat is groen kleur, haal di blare uit, kook dan di stroop mooi dik, gooi deur ’n flenni sakki, en doet di brandewyn daarby. Skut goed op. Kurk goed toe in bottels.”
Siter of Sitroen Komfyt, No1
“Dun afskil en afweeg, sny dit in 4 dele, set dit in koud water 2 dage lank, 2 maal op ’n dag skoon koud water, di 3de dag in kokende water set en daarin kook totdat dit sag is. Set dit dan buite op ’n doek om te droog.
“Neem net soveel siters as di suiker weeg, kook dit en giet dit deur, as dit begin dik word, set dan di sieters in kook saggies tot dit mooi helder is. Net so wegsit as di ander komfyt, eers goed laat koud worde.” |