Al ooit gewonder waar die nimmersat sy naam vandaan kry? Nee, die naam het niks met siek-en-sat uit te waai nie, maar kom eerder van die voël se eetgewoontes. Hy soek konstant kos, asof hy nooit versadig gaan raak nie.
Volgens professor Leon de Stadler, wat saam met sy vrou, Amanda, die samestellers van die ‘Tesourus van Afrikaans’ is, kom die naam uit die Duits ‘Nimmersatt’. ‘Nimmer’ is ‘nooit’ in Duits en Afrikaans, en ‘satt’ is ‘versadig’ in Duits.
’n Onvolwasse nimmersat
Die Suid-Afrikaanse nimmersat of geelbekooievaar, Mycteria ibis, is ondanks sy wetenskaplike naam glad nie ’n ibis nie, maar ’n ooievaar. Dié voëls broei in kolonies saam met ander ooievaars, reiers, witreiers, ibisse en duikers.
Die nimmersat is ’n algemene standvoël in Suider Afrika. Hy is 95 – 105 cm lank en alhoewel mannetjies en wyfies eenders lyk, weeg die wyfie ongeveer 1.9 kg en die mannetjie 2.3 kg. Die lyf is wit met ’n kort swart stert wat glansgroen en pers is wanneer die voël pas verveer het. Hy het ’n geel, effens gekromde snawel en kaal rooi vel op die gesig en voorkop.
Onvolwassenes het ’n gryserige bruin kleur om die nek en kop met ’n dowwe, gedeeltelike kaal oranje gesig en ’n dowwe geel snawel. Hulle bene en voete is bruin en die vere om die lyf is nog ’n gryserige bruin.
Die nimmersat loop met ’n hoog-trap, bekruipende gang en gee ongeveer 70 treë ’n minuut. Sy dieet bestaan hoofsaaklik uit klein varswatervissies wat heel ingesluk word. Hy vreet ook skaaldiere, wurms, waterinsekte, paddas en elke nou en dan klein soogdiere en voëls.
’n Nimmersat vang vis in vlak water
Dié voëls is oor die algemeen stil, maar sal in die broeiseisoen vertonings met ’n sissende falsetstem lewer. Hulle klap ook hulle snawels en broeikolonies maak ’n hoorbare vlerkklapgeluid. Kuikens in die nes bedel kos met ’n harde, konstante en eentonige balkgeluid.
Die mannetjie kies ’n potensiële nesmaakgebied in ’n boom en gaan sit dan daar en wag vir ’n wyfie om hom te kies. Hy adverteer homself as’t ware aan die wyfies met verskillende maniertjies, soos om voor te gee dat hy sy vere mooimaak.
Die wyfie nader die mannetjie met sekere tipiese houdings – een daarvan is die balanseer-toertjie waar sy met ’n horisontale lyf en uitgestrekte vlerke naderkom.
’n Nimmersat kniel met sy voete vorentoe
Foto’s: Wikipedia
Die paartjie bou die nes saam in hoë bome op droë grond of in kleiner bome bo-oor water. Dit neem hulle 10 dae om die nes, wat 80 – 100 cm in deursnee kan wees, te bou. Die wyfie lê gewoonlik twee tot vier eiers in opvolgende dae.
Hulle maak beurte om te broei en die kuikens maak ná so 30 dae hulle verskyning – hulle broei een tot twee dae ná mekaar uit sodat die jongste baie kleiner is as die oudste en in droogtetye, wanneer hulle vir kos moet kompeteer, geboelie word.
Albei ouers pas die kuikens aanvanklik op en voer hulle vir omtrent 21 dae lank. Daarna los hulle die kuikens alleen in die nes wanneer hulle gaan prooi soek. Die kuikens verlaat die nes ná 50 tot 55 dae, maar keer vir ’n week tot drie nog gereeld terug om gevoer te word. |