Ontmoet Mauzer, ’n piepklein gemmerkatjie wat bewys het dat wonderwerke nog gebeur.
Chanell Theart en haar dogtertjie, Lioné, saam met Mauzer
Foto’s: Verskaf
Mauzer het stoksielalleen onder haglike omstandighede naby Laerskool Cullinan gewoon en het minder as 1 kg geweeg toe Wet Nose hom gaan red het. Sy linkerkantse voorbeen was so sleg gebreek dat die veearts gesê het die hele been moet afgesit word. Om die operasie veilig uit te voer, moes hulle wag tot Mauzer ten minste 1,3 kg weeg.
’n Dolgelukkige Mauzer
Wet Nose-inspekteur, Chanell Theart, het dag en nag vir Mauzer gesorg om seker te maak hy tel gewig op en dat hy die voorbeen nie onder verdere druk sit nie. Ná ses weke se liefdevolle sorg het Mauzer genoeg gewig opgetel om die operasie te ondergaan.
X-strale wys hoe sleg Mauzer se been gebreek was
En hier kom die wonderwerk-gedeelte – die X-strale het gewys dat ’n verharding rondom die breuk gevorm het. Dit was asof sy been self terug gegroei het. Dit was nie meer nodig om Mauzer se been af te sit nie en hy kan die been nou net soos ’n normale katjie gebruik.
Mauzer se been ná liefdevolle sorg
Langs die versorgingspad het inspekteur Chanell so lief vir Mauzer geword dat sy hom vir besoekies huis toe geneem het. Die Theart-gesin het besluit dat hulle nie sonder dié katjie wil wees nie en het Mauzer aangeneem. |