Mooikloof Megastad met sy 50 000 deeltitel woonstelle, wat die hoewegebied oos van Pretoria radikaal sal verander, gaan na beraming binne sewe jaar voltooi wees.
Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het berig dat dié projek langs Garstfonteinweg-verlenging, ongeveer 6 km oos van die kruising met De Ville Bois Mareuilrylaan, steeds in die ontwikkelingsfase is.
In September 2020 het ons berig dat die megastad teen die einde van Julie 2020 ingesluit is by 51 infrastruktuur-projekte, wat in die Staatskoerant as strategies belangrik verklaar is. Die raad vir die koördineringskommissie van die presidensiële infrastruktuur het Mooikloof Megastad as ’n strategiese geïntegreerde projek aangewys.
Dit beteken dat die nodige goedkeuring, soos waterregte en munisipale hersonering, versnel word. Die regering het R1,4 miljard geoormerk vir die installering van paaie, riool, elektrisiteit, water en stormwaterdienste.
Loods
In Oktober 2020 het ons berig dat die projek die eerste naweek in Oktober deur president Cyril Ramaphosa geloods is en dat meer as 200 woonstelle daardie naweek reeds verkoop is.
Die R84 miljard projek is op 210 hektaar en sal bestaan uit ’n residensiële deel, wat deur Balwin Properties ontwikkel word, twee opvoedkundige fasiliteite en ’n kommersiële deel. Die teikenmark is mense wat te veel verdien om gratis huise van die regering te kry, maar te min verdien om ’n huislening by ’n bank te kry.
’n Voorstelling van die megastad
Foto: Verskaf
In Mei 2022 het ons berig dat Stad Tshwane Eskom se aansoek om kragvoorsiening aan Mooikloof Megastad oor te neem, teëstaan. Die projek sal na raming R1,5 miljard in elektrisiteitverkope genereer.
Tshwane woordvoerder, Selby Bokaba, het destyds gesê dat die munisipaliteit die reg reserveer om elektrisiteit aan dié projek en enige toekomstige ontwikkelings in die stad, te verskaf. Mooikloof Megastad word op ’n gedeelte van die plaas Rietfontein ontwikkel, wat binne Stad Tshwane se grense val.
Selby het destyds gesê dat Tshwane bestaande infrastruktuur naby Mooikloof Megastad het en toekomsplanne het om die Zwavelpoort-substasie te ontwikkel, wat kragtoevoer aan die megastad en ander aangrensende ontwikkelings sal bied.
Onlangs
Thami Mchunu, woordvoerder vir die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, het onlangs gesê dat fase een van die verbinding van kabels na bestaande Eskom-lyne en verbindingskabels van Mooikloof tot by die Bashewa-substasie aan die gang is. Volgens Thami het die metro konstruksie tot by die projek se grensmuur voltooi.
Thami het gesê dat die regering reeds die opgradering van sekere riool- en grootmaat watertoevoerlyne voltooi het. The Hills se rioolbehandelingswerke is voltooi. Fase een van opgraderings aan die oostelike rioolnetwerk en die Delmas grootmaat watertoevoerlyn na Rietfontein-reservoir is ook aan die gang.
Stad Tshwane het intussen die goedkeuring van die nodige sonering gedoen. Thami het gesê dat 40 woonstelle reeds voltooi is en dat ’n verdere 40 in die konstruksieproses is.
Opgraderings word aan vyf kruisings met Garstfonteinweg-verlenging, asook Impalaweg gedoen. Die Gautengse regering befonds die uitbreiding van Garstfonteinweg-verlenging as provinsiale pad om die beraamde toename in verkeer te kan hanteer. |