Sandplan kwel inwoners Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 15 June 2023 09:15
Untitled Document

Onbekend en Kameelzynkraal se inwoners is bekommerd oor ’n aansoek om prospekteerregte, wat 964,2828 hektaar in dié landbougebied sal raak.

In Augustus verlede jaar het ons berig dat die departement van minerale bronne en energie ’n prospekteerregte-aansoek van Mtluva Mining van Bynestpoort aanvaar het. Hulle wil prospekteer vir verskillende soorte sand, soos betonsand, bousand, vergruiser-sand, opvullingsand, gieterysand, glassand, algemene sand en silika-sand, sowel as aggregaat en allerhande soorte klip en klei.

Aansoek
Met vanjaar se aansoek deur Mtluva Mining het die gebied waar hulle wil prospekteer redelik verander. Daar is plase by wat nie op die vorige aansoek was nie en ander plase, wat voorheen gelys is, het nou weggeval, klaarblyklik omdat daar bestaande mynregte is en vorige prospekteringaansoeke was.

Vanjaar se aansoek is vir gedeeltes 11, 15, 16, 17, ’n gedeelte van gedeelte twee en 14 van die plaas Onbekend 398 JR en gedeeltes 8, 9, 13, 14, 15, 17, 19 en die restant van gedeelte drie van die plaas Kameelzynkraal 547 JR.

Met verlede jaar se aansoek was Sakhal and Tobe Environmental die omgewingskonsultante vir die projek. Vanjaar is Vahlengwe Mining Advisory and Consulting as omgewingsevalueringspraktisyn aangestel en sal ’n omgewingsmagtigingsproses vir die aansoek van prospekteerregte bestuur.

Die projekgebied is ongeveer 20 km suid-wes van Bronkhorstspruit. Toegang tot die gebied is met ’n grondpad wat aan die Witpoortpad (Garstfonteinweg-verlenging of die M30) verbind is, ongeveer 1,2 km oos van die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) en M30 kruising.

Die voorgestelde projek behels die boor van omtrent 10 gate om mineraalafsettings, kwantiteit, ekonomiese lewensvatbaarheid en moontlikhede om die projek na ’n lewensvatbare myn om te skakel, te bepaal. Die prospekteerdery sal vir vyf jaar duur en dit kan vir ’n verdere drie jaar hernu word, indien nodig.

Besware
Die gemeenskap het dié soort aansoeke in die verlede sterk teengestaan. Daar is baie werk oor verskeie spesies diere en plante, wat bedreig of skaars is, gedoen. Dié studies was ’n groot deel van die gemeenskap se oorspronklike besware in die openbare deelname-proses.

Die gebied waar Mtluva Mining wil prospekteer bevat ’n groot verskeidenheid infrastrukture, van plaashuise, store, lande, lewende hawe en verbouing. Al die eiendomme wat deur die voorgestelde myn geraak sal word, is landbougrond en, behalwe wonings, sal weiding, heinings en aangeplante gewasse in die slag bly, sou daar gemyn word.

Inwoners is veral besorg oor die invloed van dié aktiwiteite op die grondwater en almal se waterbronne, insluitende Laerskool Witpoort. Hulle sê dat dit ook ’n toename in verkeer op ’n baie gevaarlike pad sal veroorsaak.

Ander besware teen ’n sandmyn is die toename in stof en lugbesoedeling; die geraas van groot masjinerie en toerusting, die migrasie van wilde diere, vernietiging van die natuurlike omgewing, verlies aan inkomste en sake van almal wat daar boer, die koste om in ’n nuwe gebied te hervestig en veiligheidskwessies met die toename van werkers in die gebied.

Silikasand is bekend vir ’n hoë risiko vir silikose, ’n longsiekte veroorsaak deur inaseming van silika, kwarts of leiklip-deeltjies.

Registreer
Die openbare deelnameproses het op 2 Junie begin en mense kan tot 3 Julie as belanghebbende partye registreer by Londolani Sitsula: 081-895-1540 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger