News -
Aktueel
|
Thursday, 15 June 2023 08:54 |
Untitled Document
Die 20-jarige Wesley Dean Bekker is op 28 Mei by die kruising van De Villebois Mareuilrylaan en Witdoringweg in Moreletapark dood.
Daar is glo gereeld botsings by dié kruising en stigtersdirekteur van die Community Caring Forum (CCF), Deirdré van Helsdingen, sê dat die CCF al bykans vier jaar lank pleit dat ’n sirkel daar aangebring word.
Volgens Deirdré was Wesley dié Sondagoggend ná kerk met sy motorfiets in ’n botsing met ’n motor betrokke. Hy het ernstige beserings opgedoen en is later in ’n hospitaal dood verklaar.
Wesley Dean Bekker
Foto: Verskaf
Sy het ’n e-pos hieroor na die kantoor van Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink, gestuur en opnuut gevra dat ’n sirkel daar aangebring word. Die CCF versoek dat so ’n sirkel na Wesley vernoem word.
Wesley het ’n diploma in musiektegnologie gedoen en was ’n klankingenieur. Moreleta Kerk het gesê dat Wesley ’n warm, liefdevolle en hardwerkende persoon was. “Hy het altyd geglimlag en het in almal se lewens belanggestel. Die toewyding waarmee hy Sondae by die kerk diensbaar was, is ’n inspirasie vir baie.” |
|