Vreethans van Heerden en Metgesel het bykans 21 jaar lank kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid besoek en self betaal vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet het nie.
Die laaste Vreethans-rubriek is nooit geskryf nie. Vreethans en Metgesel moes in April ’n noodgedwonge draai in die diep dorp (soos Vreethans dit sou noem) gaan maak en het die twee-spreekwoordelike-vlieë-met-een-klap ding gedoen deur vir ’n lafenis by Die Kantoor aan te doen.
Vreethans het hoeka gesê dat dit die beste naam vir ’n kuierplek sal wees, sodat ’n ou glad nie lieg as hy vir die vrou sê dat hy nog by die kantoor is en eers later huis toe sal kom nie. Ons het met spyt verneem dat die plek se naam besig is om te verander na Mr T’s.
Terloops, dit is Metgesel aan die woord hier. Vreethans is op Vrydag 14 April oorlede. Ek het besluit om vir oulaas te vertel oor ons heel laaste kuierslag saam, minder as ’n week voor sy dood.
Hoender Schnitzel met groente
Dit was ’n warm dag en ons was bly oor die sambrele en groot koelteboom aan die buitekant van die kuierplek. ’n Vriendelike kelner het dadelik nadergestaan en Vreethans se Zamalek nader gebring. Dié “Soweto Pepsi” was volgens hom nie koud genoeg nie en hy het vir ekstra ys gevra – soos vriend Willie hom oortuig het: Dit is nié ’n doodsonde om ys saam met bier te drink nie.
“Die plek is ’n ‘loukil’,” het Vreethans nog gesê en met heimwee gekyk na die kroeg aan die binnekant waar mense, anders as gewone stadsbewoners, met mekaar sit en gesels. Dit het hom laat dink aan die jare her se kuiers by ou Faan se Bronberg Lodge. Dit het my laat dink aan ons laaste Vreethans-besoek daar in Januarie – dis mos deesdae deel van die Bronberg Hub – toe Vreethans met trane in sy oë gesit en onthou het hoe dit eens was.
Nietemin, dié nuwe (nuut vir ons) kuierplek se spyskaart het Vreethans nogal verstom. Nee, nie omdat dit slegs in Engels is by ’n plek met ’n Afrikaanse naam nie. Ons het gedink dat dit bloot ’n kuierplek is en dat daar dalk net basiese kitskos sou wees, sou iemand dalk ’n holtetjie in die maag begin voel.
Daar is wel die verwagte burgers, wat strek van ’n hoenderburger teen R90 as die goedkoopste tot ’n Kantoor Burger met ’n dubbel frikkadel met spek, uie en kaas teen R130. Deelmandjies met name wat vertaal as ‘Die Vergadering’, ‘Die Opvolg’ en ‘Die Kantoor’ bied allerlei vingerhappies. Aparte vingerhappies kan ook bestel word en begin by tjips (R50) tot die duurste – ‘Trinchado’ (bief-repies) teen R89.
Die kroeg-kuierplek
Ander kuierplek-happies (of happe) sluit in braaibroodjies: Van ’n kaas-en-tamatie teen R49 tot ’n ‘Dagwood’ (wat liewe Vreethans mos ’n Nolsburger genoem het) teen R105. By die pizza-afdeling kry jy van ’n Focaccia brood teen R60 tot Die Kantoor pizza (bief-repies, spek, ‘Russian’, tamatie en kaas) teen R140. Daar is pasta-geregte van R74 tot R99. Ander deegagtige kitskosse is die ‘tramezzini’s’ en ‘wraps’ van hoender-mayonnaise teen R75 tot Mexikaanse bief teen R99. By die ‘Uit die oseaan’-afdeling kry jy hele of halwe of gemengde porsies van vis-en-tjips, calamari en garnale vanaf R85 tot R300.
Slaaie begin by ’n Griekse slaai teen R69 tot ’n Biltong of Calamari-slaai teen R99. Soetgoed is wafels, roomys en melkskommels en daar is selfs ’n paar eetgoed spesifiek vir kinders.
’n Mens kan voor enige ete wegspring met voorgeregte vanaf knoffelrolletjies (R49) tot knoffelslakke (R79). Jy kan selfs die dag daar begin met ontbyt vanaf R38 tot R105.
Lamsnek
Dit is egter uit die hoofmaaltye waar ek en Vreethans ons keuses gemaak het – dit is daar waar al die tradisievaste vleiseters se diepste genot gevind kan word. Ek, Metgesel, het ’n hoender Schnitzel teen R110 bestel. As bygereg kan jy kies tussen groente, rys of tjips en ek kies die groente. Dog toe so by myself dat dit die gewone platgestampte hoenderstukkie sal wees. Groot is my verbasing toe ’n reusagtigste stuk Schnitzel daar opdaag. Ek moes eintlik my hand bo-oor die reus probeer hou het toe ons dit afneem, want die borde is ook so groot dat ’n foto nie mooi kan wys hoe enorm die ding was nie. Die groente het nie in porsies gekom nie, maar in oordadige porse. En ja, dit was vir my lekker en by die huis het ek nog twee etes daarvan gemaak.
Vreethans se keuse was ’n tipiese een vir hom – die soort kosse wat hy uit sy kinderdae onthou. Hy kies die lamsnek teen R220 op kappokaartappels. Toe die ding daar aankom staan hy soos ’n skaapkop op die homp aartappels – tamaai.
Die Kantoor
Vreethans was nie baie gelukkig met die buitekantste dele van die vleis nie. Hy het gesê dit is heeltemal te lank gekook en was droog, al is dit met die heerlikste sous bedek. Die vleis rondom die beentjies meer na die binnekant toe was bietjie sagter, het hy gesê.
Vreethans het meer as die helfte van dié enorme nek huis toe gebring. Hy het nooit weer daarvan geëet nie en in die dolle week wat gevolg het, het die brakpakkie in die yskas bly sit. Ek het dit ná Vreethans se dood weggegooi. Wie sou nou kon raai dat dié lamsnek sou oorbly ná Vreethans reeds weg is.
Die Kantoor is in Lynnwoodweg, Die Wilgers, oorkant Karoo Square. Skakel hulle by 012-980-0055 vir meer inligting. |