Welkom by ’n baie spesiale gedenkuitgawe van Die Bronberger waar ons die lewe van Bronnie-redakteur, Gerhard Kleijn, vier.
‘Tragiese nuus’ was die naam van verlede maand se kommentaar, wat Esperance Grobler geskryf het om te sê dat dit met ’n baie swaar en seer hart is dat sy lesers moet meedeel dat ons geliefde Gerhard skielik op 14 April oorlede is.
Terloops, baie lesers het gevra wat die verbintenis tussen Esperance en die Bronnie se mense is. Sy is ’n boesem-vriendin, wat Angie in die moeilike spertyd ná Gerhard se dood bygestaan het.
Soos Esperance, het baie mense uit die groter gemeenskap en lojale Bronnie-lesers en adverteerders hulp aangebied om elk op sy of haar eie manier seker te maak dat dié gewilde gemeenskappublikasie presies op datum aanhou verskyn met Angie aan die stuur.
Van die talle huldeblyke wat ingestroom het, kan op bladsy 4, 5 en 6 van dié uitgawe gelees word. Meer inligting oor Gerhard se lewe verskyn op bladsy 12. Ons plaas Buks Barnard se skrywe oor Gerhard hier onder:
Buks Dom Boer Barnard van Elandshoek:
Liewe Angie, my hart is saam met jou, julle personeel, julle familie en ek glo al die lesers en adverteerders van die Bronnie seer oor die verlies wat ons almal gely het.
Oor een ding is ek bly en dit is dat Gerhard in die lewe kon weet hoeveel ek hom waardeer het:
- Sy liefde en respek vir Afrikaans het hom vir my meer van ’n broer en ’n kameraad gemaak as net ’n vriend.
- Sy hoë standaard van joernalistieke integriteit en eerbaarheid het hom vir my meer van ’n gerespekteerde broer gemaak as net ’n kollega.
- Sy lewendige humorsin en spitsvondigheid het regdeur getuig van lewensblyheid, medemenslikheid en intelligensie.
- Sy deernis vir diere was ’n getuienis vir sy karakter.
Gerhard laat ’n leemte in hierdie wêreld waar gebalanseerde, verantwoordelike, beskaafde joernalistiek skaars geword het, maar ek glo dat jy die goeie werk sal voortsit en ek vra al ons lesers, medewerkers en adverteerders om jou hulle volle steun te gee.
Kom ons maak Die Bronberger ons almal se verantwoordelikheid.
Sterkte aan almal wat liewe Gattietjie gaan mis. |