Ja, Jaansberg is nie vir sissies nie. Jy sal my nie sommer vang dat ek my aspris in daardie Sodom in begewe nie, maar nou anderdag moes ek en toe het ons.
Die soontoe gaan was nie te erg nie, behalwe vir die stukkende senuwees wat die verskriklike verkeer veroorsaak. Gelukkig het ek daarvoor genoeg kalmvoggies ingekry toe ons eindelik by die funksie opdaag waar ons móés wees.
Maar vir ’n terugtog in die nag het ons nie kans gesien nie en ons slaap toe oor in ’n B&B.
Ek dag toe ons vat die folterpad mos Sondagoggend terug en dan sal dit minstens lekker stil en stemmig wees. Moenie glo nie.
Net daar waar jy moet links draai (of is dit nou regs?) in Beyers Naude om deur die langdorp terug te koers sementpad toe – net daar begin ons moeilikheid.
Op die T-aansluiting staan drie polliesmanne, een met ’n groot wit handskoen omhoog om te wys ons moet net daar bly staan waar ons staan. Drie karre van voor af.
Die rede raak duidelik toe die eerste paar padwedlopers voor ons begin verbyskuifel. En so drupsgewys kom hulle een-een en twee-twee verby, ampers soos die eendjies in daai ou liedjie.
Ek sien dis die oues en die vettes en ek sê vir die vrou ons het hier met die agterhoede te doen en dit sal seker nie meer te lank duur nie. Moet weer nie glo nie.
Ons wag. Die string karre hoop op agter ons. Die lig word ontelbare kere rooi en groen en weer rooi en die swart polliesman met die wit handskoen staan sy staan en die strompelaars bly swetend verbyskuiwe en ons wag.
Dis toe dat die swaap in die kar hier voor my se geduld opraak en die sot op sy toeter blaas.
Daai polliesman pluk net daar sy moer iets vreesliks en storm op die toeterblaser af. Die toeterblaser trek self ’n padmoer en bars uit sy kar uit en daar staan die twee op mekaar en skreeu en beduie.
Die laaste van die agterhoede is intussen verby en die voorste kar het lankal gery, maar ons bly staan. Dis toe dat die hel losbars soos die tou karre tot doer agter tot by wie-weet-waar op hulle toeters klim. Dis ’n rumoerige revolusie wat seker tot in die platteland gehoor kon word.
Einde ten laaste trek die oorspronklike toeterblaser sy kar uit die pad uit. Hy en die omgekrapte polliesman sit hulle bekgeveg op die sypaadjie voort en ons ry.
In die groot pad na verlossing, haal ons naderhand die agterhoede-drawwers in en ek bekyk die spulletjie wat hier regs in die pad aansukkel. Groot gedoente, sien ek toe, met TV-kameras en die lot.
Toe ek weer voor my kyk skrik ek byna my jits af. Hier reg van voor kom Stevie Wonder met sy pikdonker bril en lang wit kierie doelgerig in die pad op my afgestap. Heen en weer swaai daai kierie – regs kap hy teen die randsteen en links in die wind. In die pad loop hy.
Ek weet nie of die stomme vent deel van die padresies was en dalk net sy rigting verloor het nie, maar ek kry dit net-net reg om hom mis te ry sonder om onder ’n aankomende lorrie te beland. En toe bars die toetergeskal van die string reeds omgemoerde motoriste agter my weer los.
“Net in Jaansberg,” sê die vrou vir my en ons sit die gevaarlike tog deur die langste, vreesaanjaendste dorp ter aarde verder voort.
In Mei 2006 deur Gerhard Kleijn geskryf |