Hulde aan Gerhard Kleijn Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 18 May 2023 09:07
Untitled Document

Die Bronnie het ’n groot aantal boodskappe ontvang wat die skok, ongeloof en hartseer oor Gerhard se heengaan verwoord. Daar is ongelukkig nie genoeg beskikbare ruimte om al die boodskappe te plaas nie. Dankie aan ’n ieder en elk.

Laurika van der Linde: Was ’n eer en voorreg om saam met oom Gerhard Kleijn te werk. My hart is seer, maar oom Gerhard sal voortleef. Dit was sy trots. Rus sag, my liefste oom en baie dankie vir die mooi voorblad. Ek sal dit vir altyd koester.

Alwyn Nel: Dit bly vir my moeilik om te glo en te verwerk. Ek en Gerhard kom ’n baie lang pad saam, min of meer 1990’s of so. Hy was soos ’n stormlantern in ’n woeste storm. Altyd rustig en sy vlammetjie het nooit uitgewaai nie. So jammer om te verneem dit het toe uiteindelik gebeur. Hamba Khale, morena, tot ons weer ontmoet.

Louise Smith: Ek het my Bronnies gister gekry en lees met groot spyt van Gerhard se afsterwe. Angie, mag ons troue Vader jou bakhand toevou in Sy groot genade en vertroosting mildelik uitstort. Baie sterkte op die pad vorentoe.

Carina Hanekom: Wil net ons innige meegevoel betuig met nie net julle nie, maar die hele gemeenskap se groot verlies. Baie sterkte met die moeilike pad vorentoe en weet die Man Bo sal daar wees vir julle.

Yvette Otto: My liewe Angie. Ek is so vreeslik jammer om te hoor van Gerhard se heengaan. Ai, my hart is só vreeslik seer vir jou. Ek en Johan dra jou in ons gebede aan die Here op. Ek is só jammer oor jou groot, groot verlies, julle was só pragtig saam. Wat ’n groot verlies vir die gemeenskap ook. As ek met iets kan help, ek / ons is hier.

Suzette Botes: Ek wil graag net my innige meegevoel met julle deel oor die verlies van mnr Gerhard Kleijn. Het die nuus pas gehoor. Hoewel ek jou nog nooit ontmoet het nie, glo en weet ek dit is baie swaar wanneer so iets mense na aan jou tref. Baie sterkte aan Die Bronberger-span asook spesifiek aan sy vrou, Angie. 

Frans Esterhuyse: Gerhard se  heengaan is ’n groot skok vir my! Ons het sedert 1972 saam gewerk. Ek het ’n paar illustrasies wat ek van hom gemaak het, wat ek ’n bietjie later sal bring.

Betsie Steyn: Ek het so pas die nuwe uitgawe gesien en is erg geskok oor Gerhard se afsterwe! Ek is so jammer om dit te hoor. Hou moed, hou koers en baie, baie sterkte. Oom Hannes Opperman, baie geskok, stuur ook sy medelye en simpatie.

Ds Charl Bredell: Ek het letterlik in die laaste uur die eerste keer gehoor Gerhard is oorlede. Ons innige meegevoel. Mag ons liefste inwonende Here julle werklik troos en bederf met sy oorvloedige liefde in hierdie hartseer tyd.

Magda Cloete: Ons wil graag ons meegevoel met jou betuig oor die afsterwe van jou man. Ons harte gaan uit na julle, ons dink aan julle en ons bid vir julle. Julle is al so deel van ons huishoudings en ons praktyk. Baie, baie sterkte.

Jan Broos: Dit is met groot skok dat ons verneem het van Gerhard se afsterwe. Sy heengaan laat ’n ontsaglike leemte. Ons innige meegevoel aan jou en almal by Die Bronberger. Julle is soos familie. Alle troos en sterkte.

Piet Ebersohn: Ek is baie jammer om van Gerhard te verneem. Ons dink aan jou in hierdie moeilike tyd. Mag die Here jou die troos en krag gee om die groot leemte te verwerk. Hy het diep spore in ons bedryf getrap en ons sal hom altyd met groot deernis onthou.

Esmé Meyer: Daar is mense wat nooit moes gaan nie. Gerhard was een van hulle. Die skok en hartseer bly, maar ook die dankbaarheid vir nog goeie hande wat nou vir Angie bystaan. Baie sterkte aan julle almal; ek is so jammer oor julle verlies.

Talita van Wyk: Baie groot verlies vir ons gemeenskap. Baie sterkte Angie; hy gaan verseker gemis word!

Jan en Hester Sarkady: Het vandag gelees van Gerhard. Jammer om dit te lees. Baie dankie dat julle aangaan met die puik blad. Doe so voort.

Kobie Coetzee: Ai, so hartseer om te hoor. Hy was die beste redakteur saam met wie ek nog gewerk het. Altyd sy verslaggewers se kant gekies. Sterkte, Angie.

Celeste en Joop Coetzee: Ons innige simpatie in hierdie baie moeilike tyd. Mag die Here julle vertroos en krag gee om te doen wat nou nodig is. Baie sterkte vir die dae wat voor julle is. Jy moet nou ook nog die besigheid behartig, wat ook nie maklik is nie. Bid vir julle; ons gedagtes is by julle.

Renee Thomson: Baie sterkte aan Angie en familie. Dit is voorwaar baie hartseer nuus. Ons harte gaan uit na julle toe, en mag daar vertroosting gevind word. Vreethans van Heerden en Gerhard gaan baie gemis word.

Riana Lombaard: Ai, Gerhard! Ek sukkel om hierdie nuus te verwerk. Dit is so onverwags! RIV en baie sterkte, Angie. Dit is ’n grote wat geval het.

Ursula Joubert: Nooit, dis ’n groot verlies vir ons gemeenskap. Ons dink aan familie en vriende en ons kan net vra dat God Sy vertroostende hande om elke persoon sal ontvou in hierdie hartseer tyd. Rus in vrede.

Martin van Vuuren: Ek het die naweek ’n Bronnie gekry en was geskok. Bitter jammer om te hoor van Gerhard. Mag jy vertroosting kry in die Vader se hande in dié tyd. “Stil, mense; daar gaan ’n reus verby.” Rus sag, ou Gerhard.

Cathy du Plessis: Hy was ’n onvergeetlike mens en sy vriendelike groet sal my altyd bybly.

Cecilia Snyman: Ek het nou in Die Bronberger gesien van Gerhard se afsterwe. Ek is so jammer en voel regtig saam met jou. Baie sterkte. Mag jy en julle gesin krag en vrede ontvang om julle in die hartseer tyd te dra.

Stefan Gräter: Oom Gerhard het ’n groot hart gehad, die wêreld het ’n groot gees verloor en ons sal sy stories lank oorvertel.

Boors Borman: Dit laat ’n mens sonder woorde. Hy was dan juis die man van woorde. Sterkte daar vir julle!

Danie en Alphia Schutte: Ag, Angie. Ons is so jammer. Ons dink aan jou. Dit was lank wat julle saam was. ’n Formidabele span.

Fred Hoffmann: Ek is so jammer om dit te hoor. My hart gaan uit na jou en julle gesin. Gerhard was ’n top mens en ek het baie van hom gehou.

Anton Cloete: My sus Karen het my so pas laat weet van die tragedie. Ek weet nie wat om te sê nie, behalwe dat ek die warmte en menslikheid onthou wat julle albei uitstraal. Ek huil saam met jou. Wat ’n wonderlike mens en siel was hy! Ek is dankbaar dat ek deel van sy (en jou) lewe kon wees.

Vivienne van Dyk: Angie, ons innige simpatie met die afsterwe van Gerhard. Baie sterkte vir die pad vorentoe.

Henri Combrink: Baie jammer om te hoor van julle verlies. Ons dink aan julle. Baie sterkte.

Magriet van Wet Nose: My innige simpatie vir jou en julle familie. Dis voorwaar ’n groot boom van ons gemeenskap wat geval het.

Karin Yssel: Ek is regtig so bitter jammer vir jou verlies! Dink aan jou in hierdie hartseer tyd. Gerhard laat ’n groot leemte in die gemeenskap. Hy het diep spore getrap.

Raadslid J Bekker: ’n Reus in die gemeenskap . . . Ons sal die diep voetspore wat jy in Cullinan gelaat het en in die lewens van die saam met wie jy gewerk het, onthou. My innige meegevoel aan Angie en familie.

Lynette Breytenbach: Gistermiddag nog met karwas-bestuurder, Tina van Rayton, oor onse Vreethans bespiegel. Wie is dit en so meer. Herinneringe wat vir altyd gekoester sal word. Jammer vir jou hartseer en baie liefde.

Steve du Plessis: Wat ’n mensch . . . en so groet nog ’n anker ons. RIV my ou maat, jou spore lê diep, nie net in die joernalistieke wêreld nie, maar sommer oral waar jy gegaan het. ’n Mens kon nie onaangeraak bly nadat ’n mens jou ontmoet het nie. Mooi loop, ouboet.

Martie Volschenk: Ons almal wat die Bonnie so gereeld lees gaan hom baie mis, maar hy sal altyd in ons harte bly. RIV, Gerhard Kleijn.

Linda Labuschagne: Baie hartseer nuus vanaand. Rus in vrede, Gerhard Kleijn. Jy het ’n groot invloed op baie van ons se lewens gehad. Daar is min mense met wie ek so lekker kon stry soos met jou. Innige simpatie aan Angie en familie.

Charles Thomson: Groot my hartseer toe ek ’n kort rukkie gelede verneem van die dood van Gerhard, redakteur van Die Bronberger. Angie, aan jou en Marti my diepste meegevoel. Woorde kan nie vanaand beskryf wat gebeur het nie. Gerhard was goed vir my, en het altyd gevra dat ek sekere skrywes moet afskaal, die lesers is nie gereed daarvoor nie. Rus in diep vrede, ou vrind.

Rix Prinsloo Botha: Saam met jou het ons hard gewerk, ‘deadlines’ gejaag, geleer, gereis en hope pret gehad. Jy was ons leermeester, ondersteuner, vriend en wonderlike redakteur. Rus nou in vrede, liewe Gerhard Kleijn. Jy gaan verseker gemis word.

Elmarie Linde: Liewe Gerhard, jy en Rix het jare gelede vir my ’n kans gegee om ’n joernalis te wees. Julle het in my geglo, in my belê en my geleer skryf. En ek het die beste tyd van my lewe by ‘Rekord’ gehad. Hierdie geleentheid het baie deure vir my oopgemaak en ek sal julle ewig dankbaar daarvoor wees. Rus in vrede, Gerhard, ons gaan jou mis. Baie sterkte, Angie, mag die Here jou styf vashou.

Untitled Document
 

© 2024 Die/The Bronberger