Angie Kleijn
Die dag wat moeders dwarsoor die wêreld vereer is danksy die veldtogte van drie baie vasbeslote vroue ingestel. Vreemd genoeg het nie een van dié vroue ooit kinders gehad nie, twee van hulle het nooit getrou nie en een het later by byeenkomste protesteer teen die materialistiese verdraaiing van Moedersdag.
Moedersdag word in Suid-Afrika op die tweede Sondag van Mei gevier. In die Verenigde Koninkryk word ’n ouer, tradisionele kerklike Moedersdag, bekend as “Mothering Sunday”, drie weke voor Paasfees gevier.
Tog is dit die geskiedenis van Moedersdag in die Verenigde State van Amerika wat dié dag bekend gemaak het. ’n Historiese baken in Henderson, Kentucky lui dat ’n jong onderwyseres, Mary Towles Sasseen Wilson, die eerste mens was om Moedersdag in 1887 te vier.
Anna Jarvis
Foto: Wikipedia
Mary
Mary is op 5 Maart 1860 in Henderson, Kentucky gebore. As die oudste van vier kinders was sy baie na aan haar ma, na wie sy vernoem is. Mary het by die Centre Street-skool in Henderson begin klasgee toe sy self skaars uit haar tienerjare was. Leerlinge en mede-onderwysers het haar as ’n vurige rooikop beskryf en sy het glo glad nie in die tradisionele rol van onderwysers gepas nie.
In Mary se klas het kinders in 1887 begin om hulle moeders te vereer. Later het Mary ’n pamflet oor dié spesiale dag gepubliseer en deur Amerika gereis om haar idee van ’n nasionale dag om moeders te vereer, aan die land bekend te maak. Die idee was om haar eie ma se verjaardag,
20 April, as Moedersdag daar te stel.
Mary het in 1900 ophou skoolhou toe sy getroud is en Florida toe getrek het. Sy is in 1906 oorlede, sonder dat sy ooit self ’n ma was.
Julia Ward Howe
Foto: Wikipedia
Anna
Die Amerikaanse vrou wat vandag die bekendste is as die ‘stigter’ van Moedersdag is Anna Jarvis van Philadelphia, gebore op 1 Mei 1864. Haar veldtog om Moedersdag amptelike erkenning te gee het in 1905 begin toe haar ma, Ann Reeves Jarvis, oorlede is. Sy was ’n vredesaktivis wat in die Amerikaanse Burgeroorlog na gewonde soldate omgesien het.
Sy en nog ’n aktivis, Julia Ward Hove, het ’n veldtog geloods vir die skep van ’n ‘Moedersdag vir Vrede’ waar moeders sou vra dat hulle mans en seuns nie meer in oorloë doodgemaak moet word nie.
Julia het in 1870 ’n ‘Moedersdag Bekendmaking’ uitgereik waar sy ’n beroep op moeders van alle nasionaliteite gedoen het om saam te staan in die bevordering van vriendskaplike skikkings van internasionale aangeleenthede in belang van vrede.
Mary Towles Sasseen Wilson
Foto: hendersonky.org
Ná Ann Reeves Jarvis se dood wou haar dogter, Anna, dié sentiment vereer en ook ’n dag opsy sit om eer te betoon aan “die mens wat meer vir jou doen as enige iemand anders in die wêreld”. Op 12 Mei 1907 het Anna só ’n gedenkdiens by haar oorlede ma se kerk in Grafton, Wes-Virginia gehou. Die Andrews Metodistiese Episkopale-kerk dien nou nog as die Internasionale Moedersdag Heiligdom.
In 1908 het die VSA Kongres Anna se idee om Moedersdag amptelik te maak, verwerp en daar is spottenderwys gesê dat daar dan ook ’n Skoonma-dag ingestel moet word.
Teen 1911 het alle state in die VSA Moedersdag gehou en sekere state het dié dag amptelik erken. Uiteindelik, op 8 Mei 1914, het president Woodrow Wilson ’n proklamasie onderteken dat Moedersdag dwarsoor die VSA op die tweede Sondag in Mei gehou sal word om moeders te vereer.
Ann Maria Reeves Jarvis
Foto: Wikipedia
Constance
Oorkant die groot oseaan, in die Verenigde Koninkryk, het ’n vrou genaamd Constance Adelaide Smith, dié verwikkelings met ’n arendsoog dopgehou. Sy is op 28 April 1878 gebore en teen 1913, toe sy ’n 35-jarige oujongnooi was, het sy ’n koerantberig oor Anna se Amerikaanse veldtog gelees.
Constance wou moeders vereer, sonder om sommer net so in die Amerikaners se voetspore te volg. In haar poging om ’n meer Britse interpretasie aan so ’n dag te gee, het sy in die geskiedenisboeke rondgekrap en besluit om ’n Middeleeuse tradisie af te stof en in te span. Sy het dié herlewing afgeskop met die boek, ‘The Revival of Mothering Sunday’, wat sy in 1921 onder die skuilnaam C Penswick Smith uitgebring het.
Constance het gesê dat ’n dag ingestel moet word om al die vorms van moederskap te vereer – van moeder aarde, die moeders van kinders, die moeder van Jesus tot die moederkerk. Deur die Middeleeue het die gewoonte ontstaan om almal wat weggetrek het, toe te laat om hulle tuis-gemeentes en moeders op ‘Laetare Sondag’ te besoek. ‘Laetare’ beteken ‘om bly te wees’ en die dag is op die vierde Sondag van ‘Lent’ (Vastyd) gehou.
Constance Adelaide Smith
Foto: thejoyclub.com
In die noordelike halfrond het Christene vir 40 dae lank in die laaste gedeelte van die winter gevas en gebid in voorbereiding vir Paasfees in die lente. Die woord ‘Lent’ is van Duitse afkoms en verwys na die dae wat langer word.
So, Constance se ‘Mothering Sunday’ was nie net om jou eie moeder te vereer nie, maar moederskap in verskeie vorms. Die idee het teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog vlamgevat, glo omdat so baie jong mans in die oorlog gesneuwel het. Dit was juis vir dié soort dag wat Julia Ward Hove in 1870, ná die Amerikaanse Burgeroorlog, ’n veldtog gevoer het.
Teen Constance se dood op 10 Junie 1938 is ‘Mothering Sunday’ in elke gemeente in Brittanje gehou. Sy het nooit getrou nie en het geen kinders gehad nie.
Die baken wat Mary Towles Sasseen Wilson vereer
Foto: hmdb.org
Uitbuit
Anna Jarvis van Amerika het later groot berou gehad oor die kommersialisering van die dag wat sy met soveel liefde laat instel het. Sy wou hê dat almal ’n wit angelier op Moedersdag dra om hulde aan hulle moeders te bring. Die gewoonte het ontwikkel om ’n rooi of pienk angelier te dra vir ’n lewende moeder en ’n wit angelier vir ’n oorlede moeder. Die latere massa-verkope van blomme, kaartjies en geskenke het Anna woedend gemaak.
Sy het baie jare van haar lewe spandeer om te veg teen die materialistiese verdraaiing en geldelike gewin rondom Moedersdag. Teen die vroeë 1920’s is Moedersdagkaartjies verkoop en Anna het geglo dat haar oorspronklike idee van ’n handgeskrewe briefie uitgebuit word.
Sy het openbare boikotte teen vierings van Moedersdag gereël en maatskappye met hofsake gedreig. Anna het in 1923 by ’n suikerbakkongres in Philadelphia protesaksies gehou en ook by ’n byeenkoms van ‘American War Mothers’ in 1925 – glo omdat hulle angeliere verkoop het om fondse in te samel. Daar is Anna in hegtenis geneem vir rusverstoring.
Sy is op 24 November 1948 in die ouderdom van 84 jaar aan demensie oorlede en niks het ooit gekom van al haar boikotte, protesaksies en dagvaardings nie. |