Fietsryers word op dié pad gekaap Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 21 April 2023 11:19
Untitled Document

Fietsryers James Swart en sy vrou, Janine, is om 9 vm op 21 Maart buite Bapsfontein op die Delmaspad (R50) gekaap en beroof.

“Die Welbekend-polisiestasie het bevestig dat ons geval die derde soortgelyke een binne die laaste week is,” skryf James op die fietsry Facebook-groep, Pretoria East MTB. “Dieselfde modus operandi, dieselfde plek.”

James sê dat hy en Janine deur vier gewapende mans in ’n silwer of grys Honda Civic van die pad af gedwing is. “Hulle het ons met die kar gestamp en in die bosse in gedwing waar hulle ons met ons eie toerusting vasgebind het.”

“Die fietse en toerusting is gesteel. Hulle het ons fone gevat en het baie aggressief geraak as ons kodes of patrone verkeerd intik. Ons is met vuurwapens gedreig. Na omtrent ’n halfuur het ’n trok opgedaag. Dit het geklink of daar ’n kap op is omdat ons deure kon hoor toe hulle die fietse opgelaai het,” sê James.

Janine sê dat hulle niks kon sien nie, omdat hulle met hul gesigte na onder gelê het, maar hulle kon die trok se deure hoor oop- en toemaak. James het gehoor hoe die trok by die grondpad afdraai.

“Twee van die gewapende mans het gesê dat hulle iemand gaan stuur om te kyk of die bankkaarte se kodes werk en as dit nie werk nie, is ons in ernstige moeilikheid,” sê James.

Ná hulle vertrek het iemand gelukkig langs die pad stilgehou en James en Janine losgemaak en na veiligheid geneem.

Op die fietsrygroep se kletsblad het Julie-Anne Bell gesê dat dit presies is wat so twee tot drie weke gelede gebeur het toe hulle gestop het om ’n fietsryer te help. Dit was op dieselfde stuk pad, die fietsryer is ook van agter af gestamp, daar was ook vier mans en ’n aparte trok het opgedaag. Hulle het ook die fietsryers se eie toerusting gebruik om hulle vas te bind. Sy sê dit lyk asof hulle so tussen 7 vm en 9 vm toeslaan.

Fietsryers word gemaan om die Delmaspad te vermy of in groepe van vier of meer te ry.

 

© 2024 Die/The Bronberger