Witpeer is slakke se moses Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 21 April 2023 11:11
Untitled Document

Die biologie-departement aan die Universiteit van KwaZulu Natal het bevestig dat organiese verbindings in die witpeer se blare potensieel dodelik is vir die slakke betrokke in bilharzia se lewensiklus.

Dié boom se wortelbas word eeue al tradisioneel gebruik om parasiete in die ingewande te behandel en die blare om oorinfeksies te genees. Die witpeer word ook tradisioneel gesien as ’n boom met ‘beskermende magte’ en daar word gesê dat dié boom bose geeste weghou.


’n Witpeer in die oopte
Foto’s: Wikipedia

Vroeë setlaars het die witpeer se hout so baie gebruik dat daar vandag min van dié bome in woude oor is. As ’n resultaat is die witpeer nou ’n beskermde spesie in Suid-Afrika.

Die boom se hout is gebruik in die maak van waens en perdekarre, bootbou, vir meubels, kabinette, skrynwerk, musiekinstrumente, geweerkolwe, dekoratiewe items, kerfwerk, plankvloere en sporttoerusting.


Ryp vruggie

Die witpeer, Apodytes dimidiate, kan tot 25 meter hoog word in woude, maar is baie kleiner as hy in die oopte groei, gewoonlik vier tot ses meter hoog. Op ongunstige plekke, soos sandduine, word hy ’n krom klein struikie van ongeveer een meter hoog.

Dié bome kom vanaf seevlak voor tot in die bosveld, op klipperige koppies, teen berghange en op graslande vanaf KwaZulu Natal, die Weskaap, Oos-Kaap, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en Limpopo noordwaarts tot in tropiese Afrika.


Nabyskoot van loof

Sy stam is gewoonlik lank en reguit en die kroon is netjies en gerond. Die bas is ’n bleek grys kleur of witterig en glad met groot grys, bruin of oranje dele, gewoonlik met horisontale merke. Op jonger takke kan die bas glad en pienk tot perskleurig wees met ’n rif wat vanaf die blaarstele afloop.

Die blare is leeragtig en die boom dra van September tot April geurige wit blommetjies. Insekte word deur dié soet geur gelok, wat op hulle beurt weer insekvretende voëls lok. Vrugtevreters  geniet die swart vrug met sy kenmerkende rooi aanhangsel, wat van Desember tot Junie aan die boom gedra word.


Blompluim

Die boom groei van saad, alhoewel ontkieming lank neem. Die jong boom groei redelik stadig en moet in sy eerste jaar teen ryp beskerm word. Daarna is hy ’n middelmatige groeier. Sy wortelstelsel is nie baie aggressief nie, so hy kan in ’n kleiner tuin aangeplant word. Hy reageer goed op snoei en kan ’n  uitstekende windskerm of heiningplant wees. Sy blare kan gebruik word om slakke uit die tuin te verjaag.

 

© 2024 Die/The Bronberger