Planne is by die munisipaliteit ingedien om ’n 25 meter hoë Vodacom selfoontoring in ’n ongerepte deel van die Bronberg op te rig.
“Ons is bekommerd oor die omgewingsimpak,” sê Lize-Marie Verhoef, op wie se hoewe op die Bronberg die toring beplan word. “Volgens die planne gaan ’n platform van 100 vierkante meter ook gebou word,” sê sy. “Die planne is nie duidelik oor of daar ’n pad na die toring toe ook nodig is nie, wat nog tot verdere verwoesting van die fauna en flora kan lei, daarvan dalk ook bedreigde spesies.”
Lize-Marie vertel dat Vodacom vir Urban Innovate gebruik om plekke te identifiseer om selfoontorings op te rig en dat sy ’n voorlopige huurkontrak met Vodacom moes teken, hangende die goedkeuring dat die toring opgerig word.
Sy moes ook papierwerk teken dat sy vir Urban Innovate toestemming gee om as agent op te tree, “maar op daardie stadium was ek onder die indruk dat dit een van hierdie klein torings is wat ’n mens hier en daar sien”.
Die toring gaan op dié gedeelte van die Bronberg opgerig word
Bron: Urban Innovate
’n Kennisgewing is op 16 Februarie by die ingang van die Verhoefs se plot opgesit. Dit lui dat Christine Meintjes van Urban Innovate Consulting Bk, die gemagtigde agent van die eienaar van die restant van gedeelte 101 van die plaas The Willows 340 JR, kennis gee dat hulle aansoek gedoen het by die Tshwane Metropolitaanse munisipaliteit vir die nodige toestemming om ’n telekommunikasie mas op ’n gedeelte van die eiendom te plaas.
Die doel van die aansoek is om Vodacom die nodige toestemming te gee om ’n mas en die nodige toerusting op ’n deel van die eiendom op te rig.
“Ná die oprig van die kennisgewing by ons hek, het ek gevra dat Urban Innovate vir my ook die planne stuur en dit is toe eers dat ek sien hulle beoog om ’n 25 meter hoë toring, met 100 vierkante meter platform op te rig,” sê Lize-Marie.
Die plek waar die toring opgerig gaan word
Bron: Urban Innovate
Volledige besonderhede en planne vir dié toring kon in kantoorure besigtig word by die munisipale kantore, kamer E10, hoek van Basden- en Rabie-strate, Centurion. Die sluitingsdatum vir besware teen die projek is as 16 Maart aangedui.
Besware kan gerig word aan die strategiese uitvoerende direkteur, stadsbeplanning en ontwikkeling:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
Urban Innovate Consulting se kontakbesonderhede is
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
of 012-460-0670. |