Die ware Skote Petoors Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 16 March 2023 10:15
Untitled Document

Marian Krogh Nel van Zwavelpoort:
Baie dankie vir die interessante artikel oor Zwavelpoortse vroue terug na Piet Retief in die nuutste Bronnie.

As nasaat van Deborah Retief, sal ek net graag ’n fout wat algemeen gemaak word, wil regstel. Deborah en Swart Martiens Pretorius se oudste seun, kommandant Henning Petrus Nicholaas, was nie Skote Petoors nie. Hulle tweede oudste seun, Johannes Lodewyk, is die ware Skote Petoors.

Op 20 Oktober 1899 het Lood met die slag van Talana met Krupp-kanonne op die Britse kamp losgebrand. Die tweede skoot het naby generaal Penn Symons se tent geval en een van die opgewonde Boere het “Skote Petoors” geskree. Min wetend dat hy daar en dan ’n nuwe idiomatiese uitdrukking die lig laat sien het.

Lood was die pa van Dotman Pretorius, ’n bekende fotograaf in Pretoria. As ek reg onthou was sy winkel in Kerkstraat naby die plein. Dalk ’n volgende interessante storie?

Lood is die broer van tant Hannie Preller, en ook van my ouma, Aletta Wilhelmina Krogh. My oupa, DL Krogh, is ook op Pelindaba begrawe.

En ja, ek woon ook op Zwavelpoort, omtrent ’n kilometer van die Colyns af.

 

© 2024 Die/The Bronberger