Die oudste dier in die wêreld het onlangs sy 190ste verjaardag gevier. Of altans, dit is ’n skatting van sy ouderdom en hy kan selfs ouer wees. Die reuseskilpad, genaamd Jonathan, woon op Sint Helena-eiland en was reeds daar toe Boere-krygsgevangenes uit die Anglo-Boereoorlog na kampe op dié eiland gestuur is.
Oor amper twee jaar, van April 1900 tot Februarie 1902, het 5 865 Boere krygsgevangenes daar aangekom. Van hulle is 180 op die eiland dood. Die eerstes is in die Sint Paul-katedraal se begraafplaas begrawe en latere afgestorwenes se beendere lê in ’n begraafplaas by die Baptiste kapel, Knollcombes, waar hulle name op twee pilare aangedui word.
Dié foto is tussen 1882 en 1886 geneem op die terrein waar Jonathan, die skilpad links,
vandag nog bly
Foto: sainthelenaisland.info
Eerste
Die eerste 514 krygsgevangenes het op 14 April 1900 aan boord van die Milwaukee aangeland. Generaal Piet Cronjé was een van hulle en hy het sy vrou, Hester, saamgeneem. Dié twee en hulle gevolg het tot 22 Augustus 1902 in ’n huis, Kent Cottage, by New Ground onder streng militêre bewaking gewoon.
Die eerste krygsgevangenekamp is op Deadwood Plain opgestel en later is nog ’n kamp by Broadbottom opgerig. Soms is krygsgevangenes as straf na High Knoll, ’n fort bo-op ’n koppie, gestuur. Later is ’n nuwe kamp, Peace Camp of Nommer Twee, gestig vir diegene wat die Rooi Eed vroeg onderteken het. Dit was glo nodig weens die bitterheid wat lojale Boeremagte teen dié ondertekenaars gevoel het en uitdrukking aan gegee het.
In dié tyd was RA Sterndale die goewerneur op die eiland en die reuseskilpad, Jonathan, het toe reeds agt jaar, sedert sy aankoms in 1882, op dié afgeleë eiland in die suidelike Atlantiese oseaan gewoon.
Generaal Piet Cronjé en sy vrou, Hester, as krygsgevangenes op Sint Helena
Bron: Pinterest
Inheems
Jonathan is inheems aan die Seychelle-eilande in die Indiese oseaan, waar hy die eerste ongeveer 50 jaar van sy lewe deurgebring het. Reuseskilpaaie is op 50 jaar volwasse en word daarna nie groter nie. Foto’s wys dat Jonathan in 1882 reeds volgroeid was.
Hy en verskeie ander skilpaaie is as geskenk gegee aan Hudson Janisch, wat in die 1880’s die goewerneur van Sint Helena was, en Jonathan woon vandag steeds op die terrein van die goewerneur se huis, bekend as Plantasie Huis. Sedertdien het 33 goewerneurs gekom en gegaan. Jonathan het eers in die 1930’s sy naam gekry by sir Spencer Davis, die goewerneur wat toe diens gedoen het.
Jonathan word amptelik in ‘The Guinness Book of Records’ as die oudste lewende land-dier aangedui. Hy is ’n Seychelle-reuseskilpad, Aldabrachelys gigantea hololissa, ’n subspesie van die Aldabra reuseskilpad.
Deadwood-kamp in die vroeë dae
Foto: Kaapstadse argiewe
Plaaslik
Reuseskilpaaie kom nie in Suid-Afrika voor nie. Tog het Suid-Afrika die rykste diversiteit van skilpaaie in die wêreld. Die kleinste skilpad ter wêreld kom hier voor (Homopus signatus signatus – Namakwalandse gespikkelde padloper), een van die raarste skilpaaie (Psammobates geometricus – Suurpootjie), en die grootste seeskilpad ter wêreld (Dermochelys coriacea – leerrug-seesklipad).
Alle skilpaaie in Suid-Afrika word deur die wet beskerm en mag nie doodgemaak, gevang of in aanhouding gehou word nie. |