In ‘n vorige uitgawe van Die Bronberger het dr Ernie Jacobson van Ruimtesig in Faerie Glen vertel dat hulle gereeld twee witkruisarende oor die westelike deel van die Bronberg sien draai en onlangs ook ’n kuiken. Waar broei dié arende, het hy gevra.
’n Witkruisarend is gebiedsgebonde en volwassenes verlaat nie maklik hulle gebied nie. So ’n gebied is gemiddeld 10.9 km². Jonges wat hulle ouers se gebied verlaat kan baie verder weg trek.
Om uit die stedelike gebied te kom, moet Ruimtesig se twee arende waarskynlik verder oos op die Bronbergrif broei. So min as 15 jaar gelede nog het Zwavelpoort se witkruisarende op die Elliot-rif gedeelte van die Bronberg, wes van die Zwavelpoort-teerpad, op rotspilare gebroei. Dié arende word gemiddeld 16 jaar oud, so kanse is maar skraal dat die broeipaar wat nou gesien word, dié van Zwavelpoort sal wees.
Dekade-lange inwoner, Denyse van Hoepen van plot 80, Zwavelpoort, het op navraag gesê dat die witkruisarende met al die bouery en “kakefoniese lawaai” in die omgewing weggetrek het. Niemand weet waar so ’n broeipaar se nes vandag gesien kan word nie, maar Johan Pretorius van Stillbosch-wildreservaat, het onlangs ’n enkele witkruisarend op die Bronberg naby Klipkop raakgeloop.
Die witkruisarend het ’n wit ‘V’ op die rug
Foto’s: Wikipedia
Kruis
Die witkruisarend, Aquila verreauxii, is ’n groot swart roofvoël met ’n kenmerkende wit kruis of V-vorm op die rug en ten volle geveerde bene. Dit is net in vlug dat ’n mens die wit vere aan die punte van sy vlerke kan sien. Die witkruisarend is een van Suid-Afrika se drie grootste arende. Hy is 75-96 cm lank van sy snawel tot by sy stert se punt, wat hom die sesde langste arend ter wêreld maak. Dié voël het ’n vlerkspan van 186-222 cm.
Mannetjies weeg 3-4.2 kg en die groter wyfies kan tot 7 kg weeg. Die gemiddelde gewig is omtrent 4.19 kg, alhoewel ’n ander studie gevind het dat mannetjies gemiddeld 3.76 kg weeg en wyfies
4.31 kg. Witkruisarende is die sewende of agtste swaarste lewende arende in die wêreld.
Die witkruisarend het bruin oë omring met geel
Prooi
Hulle verspreiding en lewensgeskiedenis draai rondom hulle gunsteling prooi – dassies. Wanneer die dassie-bevolking in ’n gebied afneem, oorleef witkruisarende meestal op ander soogdiere soos hase, muishonde, meerkatte en ape, maar sal ook groter voëls, soos tarentale of fisante, en reptiele vreet.
Witkruisarende kan dassies van kranse afstamp en ape uit boomtoppe pluk, maar hulle vang hulle prooi grootliks op die grond. Hulle is nie gewoonlik aggressief teenoor mense nie, maar mag ongemaklik naby aan ’n mens afduik as jy te naby aan hulle nes kom.
Dié arende is bekend vir hulle vlugvertonings, wat gewoonlik gelewer word as ’n indringer uit hulle gebied verdryf is, as ’n groot soogdier of mens te naby aan die nes kom of as hulle ’n ander paartjie in die lug sien sweef.
’n Witkruisarend se nes
Vertoning
Die mannetjie vlieg eerste op in ’n golwende vlug met vlerke uitgestrek. Wanneer hy baie hoog is, duik hy so ver as 305 meter op ’n slag af en swiep dan skielik weer in die lug op. Soms swaai hy heen en weer soos die arms van ’n pendulum en ander kere duik en styg hy in ’n reguit lyn. Dié duike kan gepaard gaan met bollemakiesies en hy kan ook sywaarts tol voor hy afduik.
Sekere vertonings betrek die wyfie ook. ’n Paartjie kan in sirkels oor hulle gebied vlieg of stadige agtvormige patrone in die lug maak. Een voël kan omtol en sy of haar kloue in vlug wys of die mannetjie kan agter die wyfie vlieg met sy vlerke in ’n oordrewe opwaartse boog. Dié gesamentlike vertonings word gewoonlik naby die grens van die arende se gebied gemaak, eerder as naby die nes.
’n Volwasse witkruisarend in vlug
Baklei
Witkruisarende kan in vlug met indringer-arende baklei deur mekaar se kloue te gryp en saam af te tuimel. In die worsteling is daar soms ’n teëstander wat nie laat los nie en albei voëls kan neertuimel en die grond teen ’n hoë spoed tref.
Witkruisarende het net een lewensmaat en word gereeld in pare gesien, soms saam met hulle onvolwasse kuiken. Hulle is oor die algemeen baie stil, maar sal tjirp-geluidjies maak wanneer maats herenig en hulle maak harde, skerp ‘keeooo-keeooo’ of ‘whaeee-whaeee’ geluide wanneer hulle indringers wegjaag.
Johan Pretorius van Stillbosch-wildreservaat, het hierdie witkruisarend onlangs op die
Bronberg raakgeloop
Nes
Witkruisarende bou groot neste van stokke op rotse teen koppies of berge. Hulle kan een tot drie neste ’n jaar bou wat tot 1.8 meter wyd kan wees en twee meter diep, afhangende van die rotslys se grootte. Dié nes kan ook in grotte gebou word en neem omtrent vier maande om te bou. Die wyfie neem gewoonlik die leiding en die mannetjie help. Interessant genoeg sal hulle van die nes se stokke op potensiële nes-rowers laat val, wat gesien word as ’n vorm van gereedskap-gebruik, iets grootliks onbekend by ander roofvoëls.
Die wyfie lê een tot drie eiers en nog ’n ongewone ding is dat die mannetjie reeds vir haar begin prooi aandra voor sy enige eiers gelê het. Hy bring al die prooi terwyl sy broei, alhoewel hy ook ’n broeiskof in die dag insit. Die wyfie lê die eiers ’n dag uitmekaar en die kuikens broei na 43 tot 47 dae uit – twee tot drie dae uitmekaar.
Aggressie
Een eier is gewoonlik onvrugbaar en die tweede eier neig om omtrent 10% kleiner as die eerste een te wees. Die oudste kuiken maak gewoonlik die jonger een dood en indien nie, kan die aggressie tussen die sibbe vir 70 dae ná hulle uitgebroei het, aanhou.
Die kuikens se vere begin ná ongeveer 34 dae tussen die donsies verskyn en op 60 dae is hulle ten volle geveer. Hulle begin die nes 90 tot 99 dae ná hulle uitgebroei het, verlaat. In die eerste twee weke gaan slaap hulle elke aand in die nes en word nog gevoer. Die wyfie verlaat daarna die nes en prooi word nie meer gebring nie. Die familiegroep sal nog vir ses maande saam jag. |