Geloofwaardigheid gee deurslag Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 17 February 2023 11:06
Untitled Document

Noodtoestand: By die blote aanhoor van dié woord, kan ’n mens wat in hierdie mooi land en hierdie mooi en uitsonderlike gebied woon, neig om koers te wil kies moedverloor se vlaktes toe.

Ons, die gewone burger, is ongelukkig op alle vlakke oorgelewer aan die duistere weë van onbekwame, onbetroubare en oneerlike goggas wat die politiek om al die verkeerde redes as beroep kies.

Dit is te verstane dat vuisvoos belastingbetalers soms voel dat handdoek ingooi al uitweg is. Maar die meeste doen dit gelukkig nie. Die mense van Bronbergland het ons oor meer as 20 jaar leer ken as vasbyters en planmakers: Mense wat positief bly en bereid is om te help waar omstandighede dreig om lede van die gemeenskap onder te kry.

Iemand, wat baie erge vertrapping ervaar het, word in die Bronnie se gereelde rubriek, ‘The Final Word’ aangehaal wat op die volgende neerkom: As jy nie meer in die posisie is om dinge te verander nie, is die uitdaging dalk om jouself te verander. Ons glo dat die aanpasbaarheid en positiewe aard van óns gemeenskap ook dié sogenaamde noodtoestand, waaraan die gemeenskap geen skuld dra nie, te bowe sal kom.

Ook hier by die Bronnie bly ons opgewonde en positief oor die uitdagings wat voorlê en ons kan dit met reg wees – want ons is nie alleen nie. En ons is dankbaar en geseënd om deurgaans die wonderlike ondersteuning en uitgesproke positiewe terugvoer van ons lesers en ons adverteerders (ons lewensbloed) te kan ervaar.

Ons wil glo dat in hierdie nuwe omstandighede waar sosiale media ongenaakbaar met vrye teuels voortstoom, Die Bronbergers sal aanhou om ’n belangrike en spesiale deel van ons gemeenskap se lewenswyse te bly.

Natuurlik het sosiale media sy beter eienskappe ook, maar dit blyk al hoe meer ’n geval te wil raak van die eindelose oordra van wavragte vol inligting, wat dit al hoe moeiliker maak om waarheid en waarde van waninligting, bog en foefie te onderskei.

Ons onderneem om, sonder enige politieke aspirasie of verbintenis, voort te gaan om leesstof, advertensies en inligting gratis aan óns gemeenskap te bring wat vir julle belangrik is en van belang is.

En dit kan ons net doen deur die ondersteuning van dié gewaardeerde adverteerders wat die waarde van blootstelling in ’n geloofwaardige medium, wat gretig en met aanvoelbare meelewing ontvang word, besef en ervaar. Ons is dankbaar.  

 

© 2024 Die/The Bronberger