Ons stry gereeld Print E-mail
News - Briewe
Friday, 17 February 2023 11:03
Untitled Document

Hannes en Amanda Steyn van Faerie Glen:
My vrou en ek stry gereeld oor wie die eerste toegang tot die nuwe Bronnie gaan kry. Baie dankie en baie geluk met ’n prag-tydskrif vir ons kontrei.

Ons woon in ’n boomryke meenthuiskompleks in Faerie Glen en het ’n uilepaar hier leer ken. Hulle is gevlekte ooruile – die ‘oortjies’ is maar net vere-klossies wat met volwassenheid ontwikkel.

Dis nou die tweede seisoen dat die ouerpaar ’n kuikenpaartjie kry. Die kleintjies is amper net so groot (ongeveer 400 mm) soos hulle ouers, maar hulle het nog nie die oortjies ontwikkel nie. Die kleintjies se koppe is dus nog rond.


Vaak Fanie knip ’n goed gekamoefleerde uiltjie

Ons hoor die familie gereeld jag in die nag maar hulle slaap bedags. Om hulle nie te steur nie gebruik ek ’n telefoto-lens om hulle af te neem. Ons herken al hulle gedrag en vereenselwig elkeen met ’n persoonlikheid . . . vandaar die name: Befoeterde Tant Bella; Bekommerde Oom Ben; Benoude Bianca; en Vaak Fanie.

Die familie van vier slaap bedags hoog in die lower, omtrent twee meter van mekaar af. Die kleiner voëltjies vermy die uile se slaapplek; hulle weet seker hoe gevaarlik daardie bek en kloue kan wees, so hulle gaan kwetter liewers op ’n ander plek.

 

© 2024 Die/The Bronberger