Hy is nie een wat ’n gewoonte van spog maak of ’n jakkals wat sommer sy eie stert prys nie, sê ou Ben Engelbrecht, maar hy het ’n boodskap van sy bank af gekry wat sê dat hy ‘uitstaande’ is: ‘Outstanding’, sê hulle, want banke het ’n sekere apteekgroep lankal voorgespring met die ‘soort’ mense wat hulle aanstel.
Ja, dit laat ’n man sommer goed voel as jy na waarde geskat word, sê Gert Mossie.
Hy verstaan sekere goed nie so mooi nie, en een daarvan is hoe die ouens in die bankwese se koppe werk, sê Gert. Sy bankbestuurder byvoorbeeld: Dié hou aan om te neul en karring aan hom. Deesdae is dit só erg dat die generaal wat hulle ‘manager’ noem elke paar dae wil weet hoekom hy nie sy lening terug betaal nie. Dis tog baie eenvoudig om te kan verstaan: As hy die geld gehad het, sou hy mos in die eerste plek nie ’n lening gemaak het nie, sê Gert.
Hy wil net sê, sit einste Ben ’n boodskap nou die anderdag op sosiale media, dat hy verskriklik hard met sy fiets die aarde in geploeg het toe hy op pad skool toe was. Dit het in 1973 gebeur, maar hy noem dit nou hier op die ‘Vuisboek’, want in daardie tyd het hulle nie sosiale media gehad nie, sê Ben.
Sy persoonlike mening is, sê Gert Mossie, dat die sogenaamde sosiale media die skuld dra vir baie van die liewe ou mensdom se verval in die gewoonte om te beledig, te bedrieg, te belieg, te beskinder, te verneuk en sommer net te befonkfaai. En nee, hy preek nie, hy neem bloot waar.
Hy is wel bevrees dat dit nou soveel makliker is om jou tas vol strooi-praat die wêreld vol te laat reis. Een ligpuntjie is dat dit soms met ’n ondertoon van humor gebeur. Hy is ook bevrees dat dit ons opnuut geleer het presies hoeveel aardige en aaklige eienskappe in die diepe waters onder die oppervlak van menswees rond kan draai.
Wat, vra Gert, het mense voor sosiale media gedoen om ’n uitlaatklep vir dié aardige eienskappe (met of sonder humor) te gee?
In hierdie uitgawe van die Bronnie is ’n uitstekende antwoord te vind in die storie oor die sarkastiese en soms blatante beledigende uitlatings wat in ou koningin Victoria se jare per pos met Valentyn-kaartjies oorgedra is. Sal natuurlik met vandag se posdiens nie ter plaatse werk nie. Maar dit bewys dat die beledigings, geniepsigheid en verdagmakery, ook tussen geslagte, in Vicky se tyd al, sonder sosiale media gepleeg is, sê Gert.
Later, toe dit ook nog gewerk het, was daar die wonder van telegramme. Wat hom aan die storie (vir die waarheid vertel) laat dink: Seun op universiteit stuur vir pa op platteland ’n telegram: “Groot nood (stop). Stuur geld (stop).” Plattelandse pa stuur (per telegrafiese oorplasing) die geld, maar geen antwoord van dank word vir lank gekry nie.
Pa stuur weer telegram: “Het jy die geld gekry?” Seun antwoord: “Ja.”
Pa, erg omgekrap oor seun se swak maniere, stuur nog een: “Ja, wat?” En seun antwoord: “Ja, Pa.” |