Nie almal voel altyd daarna om die groot kook en skoonmaak agterna, wat met ’n Kersmaal gepaard gaan, aan te durf nie. En ook nie almal gaan die geleentheid kry om oor dié Kersseisoen ’n bietjie weg te breek nie. Daarom het Vreethans ’n paar kuierplekke in die oopte van ons gebied gaan uitsnuffel waar gesinne, familie en vriende vanjaar op Kersdag kan gaan aansit om ’n Kersete moeiteloos te geniet – weg van die huis af, maar tog naby.
Boskombuis
’n Warmhartige kuierplek vir Kersdag in die bos
Geleë in die oopte van ’n Donkerhoek-hoewe neffens die Kleinfontein-teerpad. Hier het ons al dikwels lekker gekuier en goed weggelê aan tradisionele geregte. Jy kan in die ‘bos’, die lapa of die onderdak plaasneem.
Die Kersete kos R250 met kinders jonger as 12 wat halfprys betaal.
Voorgeregte: Renee se tuna-verrassing, geurige hoenderlewertjies en romerige kaas-knoffelbrood.
Hoofgereg: Gebakte varkboud, beesboud, hoender, gebakte aartappels, geurige rys, stampmielies, vier groentes en drie slaaie.
Nagereg: Roomys met sjokoladesous.
Bedien vanaf 11 vm tot 3 nm.
Bespreking en inligting: 083-485-2529 of 063-135-3713.
Stukkie Hemel Kombuis
Wyd en oop is die omgewing by Stukkie Hemel Kombuis
Dié eiesoortige kuierplek het sy tuiste by die Bronkhorstspruit-dam en bied onderdak- en stoep-sitplek met asemrowende uitsigte: Nog ’n goeie keuse vir mense wat die Kersete in die ‘buitelug’ wil geniet.
Hulle bied op Kersdag ’n buffet-ete teen R260 vir grootmense, R240 vir pensioentrekkers en R95 vir kinders tussen ses en 12 aan.
Voorgeregte: Gekrummelde sampioene, viskelkie en biltongslaai met aarbeisous.
Hoofgeregte: Lamsboud, ‘gammon’, hoender-rol, rys, gebakte aartappel, pampoenkoekies en aspersies met spek.
Daar is drie soorte slaaie, waaronder waatlemoen en feta, en drie nageregte; ‘peppermint crisp-tert’, ‘mini trifles’ (koekstruif) en vrugteslaai met roomys. Bel hulle voor 20 Desember by 084-266-8372 vir aanwysings en bespreking.
Bronberg Restaurant
Deel van die ruim kuierplek waar tradisionele geregte bedien word
Op die hoek van Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging) en die Boschkop-teerpad in Zwavelpoort, word jare reeds voortreflike tradisionele geregte bedien. Opvallend vreemd en baie welkom vir iemand soos ek, is die insluiting van kerrie-afval in hulle Kersete-aanbieding.
Grootmense betaal vanjaar R450, kinders onder 12, R110 en kleintjies van jonger as vyf eet verniet.
Voorgeregte: Jy kan ’n verskeidenheid by ’n self-bedien-tafel loop haal. Hieronder tel vars gebakte mieliebrood, Bronberg-hoenderlewertjies en mossels in knoffel-roomsous.
Hoofgeregte: Geroosterde beesrol met peperwortel, ontbeende skaapboud, heuning-geglasuurde ‘gammon’, tradisionele kerrie-afval met witrys en ’n aartappelgebak.
Nog groente is groenboontjies met aartappel en uie, gebakte patats en botter-pampoen en slaaie bestaan uit groenslaai, litjie en mango-slaai, baba-beet en ’n kerrie-perske-pasta-slaai.
By die selfhelp-nageregtafel is brandewyn-poeding met vla, bessie-koekstruif en vars vrugte.
Bespreking is noodsaaklik: 076-452-6182.
Tshikwalo Lodge
Luukse aansit in die oopte van ’n wildtuin
In die Dinokeng Wildtuin, vlak buite Pretoria en Cullinan, kan jy ’n uitstappie en Kersete tussen die bosveld se diereryk (groot vyf ingesluit) geniet. Nou nie dat Koning Leeu of Droster Renoster genooide gaste sal wees nie, maar hulle is naby.
Dié luukse plek in die wildtuin vlak by ons, bied ’n omvangryke Kersmaal teen R380 vir volwassenes en R250 vir kinders tussen ses en 12 jaar aan.
Intree-geregte is hoender-skilpadjies, komkommer-salm-rose en ‘beef spring roll’.
Jy kan self uit ’n lywige verskeidenheid by hulle ‘salad bar’ vir jou ’n slaai aanmekaar slaan.
Hoofgeregte: Seebaars op groente-bed, lamsboud, gebakte bees (Moroccan) met allerlei, taai (sticky) gebakte hoender-dye met heuning en knoffel, groente-paella, gebakte baba-aartappels en Thai (nie ‘sticky’ nie) rys.
Nagereg bestaan uit vyf ‘cocktail deserts’, waaronder pekanneut-tertjies en mini éclairs.
Die maaltyd kan afgesluit word met lekkernye van ’n baie imposante kaasbord af.
Jy kan hulle bel vir bespreking en inligting by 060-988-0990.
Captain’s Island
Die strand by die eiland, maar die Kersmaal word by netjies-gedekte tafels onderdak bedien
By dié binnelandse strandplek kan jy jou verbeel jy geniet jou Kersete iewers by die see, hoewel dit op Grootfontein, neffens Tierpoort langs Garstfonteinweg-verlenging ingerig is. En nee, dit sal nie nodig wees om ’n kombers op die strand te maak lê vir die geleentheid nie: Netjiese Kerstafels word onderdak ingerig.
Die kaptein bied twee basiese Kersetes op sy eiland aan, die een teen R250 en die ander teen R270.
Opsie een se voorgereg is ’n romerige mosselpot. Die hoofgereg bestaan uit geroosterde kalkoen, twee groentes, rys en aartappel met sous en die nagereg is malvapoeding met vla.
Die tweede opsie bied ’n garnaalkelkie as voorgereg. Die hoofgereg bestaan uit gerookte ‘gammon’ pleks van kalkoen, dieselfde groente en stysel met sjokolade mousse as nagereg.
Vir besprekings en inligting skakel 082-518-5131.
Kitty Hawk Restaurant
Deel van die uitsig vanaf die restaurant se stoep
Foto: Lauren Erasmus
Tussen die mooi randjies van Boschkop is die gebied se spoggerige private vliegveld met sy ewe imposante klubhuis en baie ruim en gerieflike restaurant.
Hier kan jy op Kersdag vir ’n uithaal-ete deur legendariese restaurateur en sjef, Lynette Breytenbach, loop aansit. Jy kan buite op die stoep of grasperk plaasneem of in die gebou onder sy grasdak met gerieflike tafels-en-stoele, kroeg en kombuis.
Voorgereg: Vetkoekies (baie spesiaal) met patee, groenvyekonserf en bessiekonfyt.
Slaaie: Geurige rysslaai, vrugte-in-seisoen-uitpakslaai, Waldorf koolslaai.
Hoofgereg: Lamsboud met rooiwynsous, koftasosaties en mini biefkrokette, varkboud met appelmoes, gemmerpatats, gekrummelde sampioene en tartaarsous, groenboon, spek en uie, Italiaanse geelmieliepap, paprika aartappelwiggies.
Nagereg: Sjokolade- en bessiemousse, Amarula malvapoeding en vla, en vanielje roomys.
Die Kersete word tussen 12 uur en 4 nm bedien en kos R295 per volwasse kop. Kinders jonger as 12 betaal R180 en kleintjies jonger as drie eet gratis. Bespreking en inligting by Lynette: 083-518-8740. |