Vuurvonke spat uit hoewe op pad na Nooitgedacht Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 17 November 2022 14:35
Untitled Document

Angie Kleijn

Min mense weet dat een van ons land se bekendste spookliedjies sy oorsprong in Bronkhorstspruit se wêreld het. Ook nie baie weet dat twee roemryke skrywers vir ’n tydperk in dié vermeende ‘spookgebied’ gewoon het en van hulle werke daar geskryf het nie.

Die lirieke van Koos du Plessis se liedjie, ‘Op die pad na Nooitgedacht’, is gegrond op gebeurtenisse wat hy daar op familie se plaas beleef het. Eugéne Marais het vir agt maande in 1921 en 1922 in die omgewing gewoon en ‘Die Skepbekertjie’ en ‘Mabalel’ het daar gestalte gekry.

Herman Charles Bosman het ‘Cold Stone Jug’ in 1930 op die plaas Tweefontein geskryf. Die tergende vraag is of hulle al drie geweet het van die sogenaamde ‘spookklippe’ in dié kontrei?
In ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’ vertel Neels en Rita Pöhl verskeie staaltjies oor die spookklippe langs die pad na Nooitgedacht.


DJan Kloppers, sy ma, Susara Aletta Kloppers, sy dogtertjie Hettie (Flossie) en sy skoonma,
Hester Buitendach
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

In die ou dae het spanne osse glo onverklaarbaar losgeraak uit hulle jukke. Later jare het fietse se kettings afgeval en motors se enjins gestol as jy daar verby ry. Daar was stories oor skatgrawers wat versteekte goud gesoek het en deur ’n spook of spoke verwilder is.

Die aanvaarde ‘ware storie’ is dat ’n boer sy goue ponde net voor die Anglo Boere-oorlog by dié ‘spookklippe’ begrawe het. Hy is in die oorlog dood en mense het snags na sy goud begin soek.

Later was daar oral naby en om die klippe gate en die gatgrawers het vertel dat hulle die aftog moes blaas omdat hulle deur die oorlede eienaar op ’n spookperd verwilder is. Ander het weer vertel dat ’n hele klomp spookruiters op spookperde op hulle afgestorm het.


Jan Kloppers op ’n trekker op Nooitgedacht
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Nooitgedacht
Die plaas Nooitgedacht het ’n beduidende rol in die vroeë geskiedenis en ontwikkeling van Bronkhorstspruit gespeel. Daar is steenkool ontdek en ontgin en later het die flintklei (keramiek) wat daar uitgehaal is gelei na die bou van die eerste fabriek op die dorp.

Vir hulle boek, het Neels en Rita Pöhl met tannie Annetjie Grobler oor Nooitgedacht gepraat. Haar eerste man, Jan Kloppers, het op ’n gedeelte van Nooitgedacht geboer waarop die ou familie-opstal was. Hy het met koring, mielies, grondbone en melkbeeste geboer op 120 morg van die oorspronklike 1 000 morg wat hy van sy pa, Jacobus Christoffel Kloppers, wat voor hom daar geboer het, geërf het. Jan se pa en sy een oom is in die 1914 Rebellie naby Rhenosterkop doodgeskiet.


Koos du Plessis was familie van die Buitendachs van Nooitgedacht

Tannie Annetjie was ’n nooi Buitendach en die Buitendachs het later op ’n deel van Nooitgedacht gaan woon waar hulle met perde geboer het. Haar oudste suster, Hester, was met Koos du Plessis van Geduld naby Springs getroud. Hulle drie seuns het gereeld met skoolvakansies op Nooitgedacht gaan kuier. Die een seun, Koos, se ryke verbeelding is kwaai deur die verhaal van die ‘spookklippe’ geprikkel en hy het later sy bekende liedjie daaroor geskryf.

Tannie Annetjie het ook vertel dat Koos en sy ouer broer, Boet, een vakansie Nooitgedacht toe geryloop het. Op pad wou hulle gaan kyk hoe die klowe, wat as Die Hel bekendgestaan het, aan die bolope van die Loskopdam lyk.


Herman Charles Bosman was familie van die Malans van Tweefontein
Bron: Wikipedia

In die sterk skemer het ’n man hulle buite Bronkhorstspruit opgelaai. Dit het gelyk of hy ’n stasiewa bestuur. Toe hulle hom vertel dat hulle op pad is na Die Hel, het hy glo onheilspellend gelag en gesê dat hulle nou in presies die regte voertuig is. “Hier agter is nog iemand wat soontoe op pad is,” het hy gesê. Toe Koos en Boet omkyk, was daar ’n doodskis agter in die stasiewa.


Drie geslagte Kloppers het in dié ou opstal op Nooitgedacht gewoon
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Eugene
Of Eugène Nielen Marais ook van Die Hel of die ‘spookklippe’ op pad na Nooitgedacht gehoor het, is nie bekend nie. Dalk het hy, want in sy tyd in dié distrik was hy bevriend met Johannes van Melle, wat by die Nooitgedachtskool, so vier myl buite die dorp, skoolgehou het.

Neels en Rita Pöhl skryf dat Eugène Marais teen die einde van die winter van 1921 Bronkhorstspruit toe getrek het. Die dorp het toe nog as Erasmus bekend gestaan en Eugène was daar om ’n vennootskap met prokureur Fanie van Wyk te vestig. Die prokureursfirma was in ’n geboutjie, wat tot ongeveer 1990 in Lanhamstraat gestaan het en Eugène het in Anna Polderman se losieshuis gewoon, waar hy die gedig ‘Mabalel’, gebaseer op gebeure in Limpopo, geskryf het.


Eugène Marais in 1931, omtrent vyf jaar voor sy dood
Bron: Wikipedia

Eugène het aan die dorp se sosiale lewe deelgeneem en het ’n leidende rol in die stigting van die Afrikaanse vereniging gespeel. Hy het gehelp om liefdadigheidskonserte te reël en het die dominees, onderwysers en boere in die distrik leer ken.

Mike Henn van die plaas Witklip, ongeveer ses myl buite die dorp, het een van Eugène se beste vriende geword. Die sewejarige Mara Henn verskyn saam met Eugène op die voorblad van die biografie wat Leon Rousseau oor hom geskryf het, ‘Die Groot Verlange’.


Eugène Marais en prokureur Fanie van Wyk voor hulle praktyk op die dorp
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Die Henns het tien kinders gehad en Eugène, as natuurkenner, het die kinders saam met hom veld toe geneem en veral die voëllewe by die panne bewonder. ‘Die Skepbekertjie’ se tema is die voëls van Witklip en die titel kom van ’n storie wat ’n ou Boesman op die plaas vertel het.

Eugène het dit vir die 15-jarige Anna Henn geskryf sodat sy dit onder haar naam by ‘Die Boervrou’ se verhaalwedstryd kon inskryf. Die verhaal is nooit gepubliseer nie en die meer as 140 velletjies papier is 35 jaar later herontdek en in boekvorm uitgegee.

Eugène was nie net ’n bekende skrywer, digter, advokaat, koerantredakteur, kenner van dieregedrag, prospekteerder, hipnotiseur, sterrekundige en ‘wonderdokter’ nie. Hy was ook ’n dwelmverslaafde. Die dorp se dokter, Gerrit Mes, het Eugène se morfiengebruik onder beheer probeer hou, maar sy vrou, opgeleide verpleegster, Marie Mes, het Eugène se voorraad agteraf aangevul tot haar man daarvan uitgevind het. Daarna het Eugène die dorp op 30 Mei 1922 verlaat ná hy skaars agt maande daar gewoon het.


Eugène en Fanie het hulle prokureursfirma bedryf in dié geboutjie, wat tot ongeveer 1990 in Lanhamstraat gestaan het
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Herman
In ‘Verlief, verloof, verlore . . . verhale uit 20 jaar se toeka-stories’ in Die Bronberger se September-uitgawe het ons berig dat Friedel Hansen in sy boek, ‘Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais’, bespiegel dat Eugène die biologiese pa van die bekende skrywer, Herman Charles Bosman, kon wees.

Eugène was vroeg in 1904 ’n loseerder by die Malans van Potchefstroom. Elisma Malan, ’n onderwyseres, het die dorp baie skielik verlaat. Kort ná haar aankoms in die Wes-Kaap, het sy met die mynwerker, Jacobus Abraham Bosman, getrou. Herman is op 3 Februarie 1905 uit dié huwelik gebore.


‘Die Skepbekertjie’
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Toe hy vier jaar oud was, het sy ouers na Johannesburg verhuis en sy pa is kort daarna in ’n mynongeluk dood. Sy ma het met ’n Skotse wewenaar met ’n seun van sy eie getrou en dié stiefboetie het Herman se lewe glo baie moeilik gemaak.

Herman het in Johannesburg studeer, getrou en onderwyser in Marico geword. Sy vrou wou nie saamgaan nie en hy het hulle huwelik tot niet laat verklaar. Dit is in dié boswêreld waar hy sketse oor oom Schalk Lourens begin skryf het.


Eugène saam met Mara Henn op die voorblad van Leon Rousseau se ‘Die Groot Verlange’
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Met die skoolvakansie in 1926 het Herman sy ma in Johannesburg besoek. Hy en sy stiefbroer het stry gekry en Herman het hom met ’n jaggeweer doodgeskiet. Hy is tot die dood veroordeel, maar het ’n versagtende vonnis van lewenslank gekry.

Herman is in 1930 op parool vrygelaat en sy ma het haar broer, regter Malan, gesmeek dat Herman op sy plaas, Tweefontein buite Bronkhorstspruit, kan gaan woon. Die 26-jarige Herman het met ’n gehawende tikmasjien, ’n kis vol boeke en ’n tas op Bronkhorstspruitstasie aangekom. Hy het in ’n gasterondawel op die plaas gewoon en het ’n hegte vriendskap met sy niggie, Zita, die Malans se enigste kind, gesmee.

Dit is op die plaas Tweefontein waar Herman geskryf het oor sy moeilike tyd in die tronk. Die boek, ‘Cold Stone Jug’, is eers in 1948 gepubliseer.


Annis van Rooyen, wat op Nooitgedacht grootgeword het, by die ‘spookklippe’
Bron: ‘100 Jaar van Erasmus tot Bronkhorstspruit’

Spookklippe
Eugène Marais, Herman Charles Bosman en Koos du Plessis se voetspore in dié distrik het lank reeds in stof vergaan. Die ‘spookklippe’ staan vandag nog. Annis van Rooyen, wat op die plaas Nooitgedacht grootgeword het, het dié klippe vir Neels en Rita Pöhl gaan uitwys.

Die plaas Nooitgedacht is in 1981 deur die staat uitgekoop vir die vestiging van KwaNdebele en Jan en Annetjie Kloppers het op die dorp gaan woon. Hulle enigste dogter, Hettie (Flossie) is in 1996 oorlede.

Ná Jan se dood is Annetjie getroud met Kerneels Grobler, wat in 2004 oorlede is. Toe Neels en Rita Pöhl se boek in 2005 gepubliseer is, het tannie Annetjie by Ons Herberg op die dorp gewoon.

 

© 2024 Die/The Bronberger