Legendes en bygelowe oor liewenheersbesies Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 17 November 2022 14:34
Untitled Document

Vlieë, vlooie, bosluise, luise . . . mense haat insekte. Tog is daar een uitsondering – die liewenheersbesie is altyd welkom en mense raak gaande as een op hulle hand kom sit.

Sy Engelse naam, ‘ladybird’ is ontleen aan “Our Lady, the Virgin Mary”. Die benaming dateer glo uit die Middeleeue, toe dié insekte gesien is as die maagd Maria se antwoord op gebede om hulle te help om landbouplae te vernietig.

Hulle word ook gebruik in ’n ou Europese volksmedisyne wat vir masels en koliek voorgeskryf is. Toentertydse tandartse het glo tandpyn behandel deur liewenheersbesies fyn te maal en in die gat in die pasiënt se tand te druk.

Tog word daar gesê dat ’n mens erge teëspoed kan verwag as jy ’n liewenheersbesie doodmaak. Volgens volksoorlewerings verteenwoordig so ’n besie voorspoed en selfs as jy van een droom, gaan goeie dinge jou in die nabye toekoms tegemoet kom.


’n Bronnie-leser, Chanél Engelbrecht, het dié besie op ’n laventelplant afgeneem

Wens
Jy moet glo ’n wens maak as ’n liewenheersbesie op jou hand sit. Kyk in watter rigting die besie wegvlieg – dit is die rigting waaruit jou geluk gaan kom.

In Swede glo hulle dat ’n meisie binnekort gaan trou as ’n liewenheersbesie op haar hand gaan sit. In België glo hulle dat ’n meisie binne ’n jaar sal trou as so ’n besie dwarsoor haar hand kruip.

In Engeland het die boere geglo dat die teenwoordigheid van so ’n besie ’n goeie oes voorspel en dat voorspoed jou in die gesig gaan staar as jy een in jou huis kry. In Frankryk glo hulle dat jy van enige siekte genees kan word as ’n liewenheersbesie op jou gaan sit – hy vlieg glo met die siekte weg.

Italianers noem dié besies ‘commaruccia’, wat ‘klein vroedvroutjies’ beteken en in Switserland vertel hulle vir kinders dat dié besies babas bring en nie die ooievaar nie. In sekere Asiatiese kulture word daar geglo dat liewenheersbesies menslike taal kan verstaan en dat hulle deur God geseën is. Volgens Noorse legendes het dié besie op ’n weerligstraal af aarde toe gery.


’n Liewenheersbesie
Foto: Francis Talk

Plaaslik
In Suid-Afrika het Cecil Rhodes liewenheersbesies ingevoer om skade aan lemoenbome te bestry. Hier staan hulle ook bekend as skilpadbesies, skilpadkewers, boomskilpadjies of halfmaantjies.

Dié besies val in die familie Coccinellidae en sowat 5 000 spesies is beskryf, waarvan 300 in Suid-Afrika voorkom. Alle liewenheersbesies, behalwe lede van die subfamilie Epilachninae, is vleisvretend en ’n gesonde bevolking hou plae biologies in toom. Hulle vreet plantluise, dopluise, rooimyte en ander insekte wat plae op plase, in tuine en boorde is en word gereeld doelbewus losgelaat as ’n natuurlike metode van plaagbeheer.

Van die bekendste plantluisbestryders is die spesies Hippodamia convergens en ook Adalia flavomaculata, wat help om onder meer die koringluisplaag in Suid-Afrika te beheer. Tog rig lede van die plantvretende subfamilie Epilachninae skade in Suid-Afrika aan deur gewasse soos mielies, aartappels en lede van die komkommerfamilie te vreet. Dié besies is meestal oranje of swart en hulle is met haartjies bedek.

Kleur
Liewenheersbesies is selde groter as 10 mm, maar hulle is opvallend weens hulle kleurryk gestippelde dekskilde. Die meeste is rooi met swart vlekke, maar party is blou, swart, grys, bruin, oranje of sitroengeel.

Baie soorte se volwassenes vreet meer as honderd insekte per dag. Die wyfie lê haar eiers aan die onderkant van blare na aan plantluiskolonies sodat die larwes wat uitbroei, dadelik kan begin vreet.
Larwes groei baie vinnig en na omtrent drie vervellings word hulle papies vir ongeveer 10 dae, waarna die volwassene verskyn, wat ’n paar jaar oud kan word. In die winter, wanneer peste en plae nie volop is nie, oorwinter hulle in ’n slaap waarvoor ’n menigte besies saamtros.

 

© 2024 Die/The Bronberger