’n Pret-plaas kry gestalte in die lang gras Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 17 November 2022 14:33
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Jy beweeg met so ’n wye ‘L’ deur die dorpie tot aan Rayton se buitewyke. Hier kom jy plotseling op ’n andersoortige kuierplek af. Inni Lang-Gras, noem hulle dit, hoewel daar deesdae nie sprake van lang gras op die plasie is nie. Net groot uitgestrekte grasperke met allerlei strukture wat pret en vermaak ten doel het.

Oor die afgelope jare is hier duidelik gewoel met die ontwikkeling van ’n uitsonderlike pret-plasie. Op sekere dae word hier rodeo gehou, perdesport, boeresport, optredes, danse, konserte, kuierfeeste, kinderpret in en om die groot swembad met ’n sandstrand en ’n waterwurm en allerlei ander sport en sports gehou. Gister was dit só ’n dag . . .


’n Espetada van kruisskyf met ryk knoffelsous

Dit is Sondag en ons het ná wik en weeg besluit om by Inni Lang-Gras in te val, te kyk, te ervaar en ’n ietsie vir die innerlike te geniet. Gister se rodeo was ’n groot sukses, vertel eienaar Martin Kuhn: Baie mense, baie kinders, baie perde, baie beduiwelde bulle en ‘cowboys’ wat hulle moet tem en baie kuier tot laataand toe.

Dit is betreklik vroeg en die handjie vol personeel-lede spook nog om die plek weer na wense funksioneel te kry. ’n Paar motorfiets-manne kuier by die kroegie. Ons neem onderdak op ’n stoep, neffens die kroeg by een van die plank-tafels op ’n lang plank-bank plaas. Voor ons in die verte wei ’n mooi troppie bees op ’n stoppelland.


Op dié stoep kan gekuier en iets genuttig word

Martin bring vir my ’n baie koue (soos dit hoort) bruisdrankie aan en bestel Metgesel se koffie by die mense wat die kombuis bedryf. Hy bring ook die spyskaart. Op dae soos gister het hulle ’n ander spyskaart, wat gerig is op kos-in-‘n-kits wat die skare sonder te veel vertraging kan voed.

Die spyskaart is wat ’n mens ‘basies’ sou kon noem. Nie te groot nie, maar ’n ietsie van als wat jy gewoonlik by ’n plattelandse kuierplek sou verwag. Die pryse blyk deurgaans billik te wees.


Uit die houtoond vir Metgesel om te geniet

’n Engelse ontbyt teen R55 kan heel dag bestel word. Drie mandjies met vingerhappies (R85), vis of worsies met skyfies (R50), verskeie roosterbroodjies tussen R20 en R75, burgers (R55), twee verbuigings van hoender teen R85 vir ’n schnitzel en R55 vir hoenderslaai en 500 g T-been (R150) of die tradisionele kroeg-ete ‘steak, egg & tjips’ teen R120.

Dan die effe meer ongewone kruisskyf – Espetada van 500 g teen R165. Ek besluit op dié Portugese (van oorsprong) sosatie-gereg. ’n Paar keuses soos die ‘jalapeno poppers’, kinderspyskaart-geregte, nageregte en slaaie noem ek nie.


Deel van die pret-plaas met grasdak-kroeg links en sandstrand in die voorgrond

Die plek het ook ’n opregte houtoond vir die pizzas en dis hier waar Metgesel se keuse lê. Sy bestel ’n basiese Margherita teen R65 en teen ’n ietsie ekstra laai hulle sampioene en groen peper op. Die pizza is na haar smaak en beter as die meeste, meen Metgesel. Die gewigtigste pizza’ (R145) noem hulle ‘Kompli-Kaasie’.

My Espetada wat aan ’n sosatiepen van vlekvrye staal hang was perfek medium wat neig na rou (“medium to rare”), soos ek versoek het, en die knoffelsous wat daarvan afdrup tot in ’n bak met skyfies was ryk, sterk en lekker.


’n Besoekende brulperd met ’n mooi trop bees in die agtergrond op ’n stoppelland

Wat Martin en sy mense op dié plek, wat eens in die lang gras neffens die Forfarpad gestaan het, vermag het, wil gedoen wees. Ons het rustig en lekker gekuier en het ons tuis gevoel in die oopte.

Jy kan hulle bel by 082-324-4039 vir meer inligting en oor gebeure aldaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger