Wat het van die bloues geword? Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 17 November 2022 14:31
Untitled Document

Hy wonder, sê Gert Mossie, of ’n mens in die alledaagse verloop van sake ’n baie groot verskil gaan agterkom as die span staatsamptenare so wild aan die staak gaan staan en gaan.

Ja, lyk hom hoe meer dinge verander hoe meer bly sekere goed maar eintlik net soos dit altyd was, sê Grootpiet-in-die-hoek.

Hy onthou toentertyd in die ‘goeie’ ou dae, sê Piet, is die storie vertel van die leeu wat uit die dieretuin ontsnap het. Nou het dié leeu, ’n uitgevrete maanhaar, sy weg teen Meintjieskop op tot binne in die Uniegebou gebaan.

’n Baie lang tyd het verloop, só het hulle vertel, met die leeu wat hom in die Uniegebou tuisgemaak het. Eers toe hy op ’n dag die ou wat die tee gemaak en aangedra het vang en opvreet, het die amptenary iets agtergekom.

Wat hom nou laat dink aan ’n ding wat ou Charles Thomson vertel, sê Gert Mossie. Dit was weer een van daai braaie van die manne van die kloof waar hy wat Charles is, ook woon. Uiteraard was hy self nie daar nie. Want kloof-stories is altyd oor bure in die omgewing . . .

So braai die bure, sê Charles. Vroeg al begin ná daar gemelk is, die varke gevreet het en more se hoenderboudjies uit die ‘deepfreeze’ gehaal is.

Die Coleman met ys, bier en hardehout vir later staan naby. Die huis is te ver vir loop haal. Só met bier in die hand, diep starend na die vlamme, wil een vriend weet wat die dokter toe gesê het oor Piet, die gasheer, se ‘probleem’.

“Nee, hy sê dis die stres. Maar geen probleem nie. Het my so ’n bottel blou pille gegee. En almal glimlag nou,” knipoog hy.

Piet se vriende is skoon opgewonde. Hulle vra uit en Piet vertel breedvoerig.  Maar, vra een vriend, hoe lyk die goed?

Piet is binnetoe, en met terugkom wys hy die bottel met blou pilletjies. En hy vra die manne of hulle elkeen een wil hê. Drank verdra geen onreg, of iets, en elkeen sluk een sommer met ’n bier af, en toe begin die dinge roer.

Want die goed werk glo binne ’n uur en die vuur het al weer uitgebrand en daar moet ‘nou!’ gebraai word, vertel Charles. Een vriend sê hy voel so half, wel, lighoofdig. Vriend twee sê hy voel so, wel, ‘wittebroodagtig’. En Piet sê niks nie.

Dit braai en eet teen rekord-spoed. En almal is liefie-diefie met hulle vrouens. So groet hulle oorhaastig en elkeen is hand om die lyf met sy vrou daar weg.

Net so ná kerk die volgende dag bel die vriende se vrouens om dankie te sê vir die vorige aand en Piet-se-vrou soek vir Piet. Die vreemdste is, sê Piet-se-vrou, die vriendinne giggel soos eerstejaars wat by die Uniegebou was en sê sy moet tog vir Piet baie dankie sê.

Piet trek sy skouers op, vat die pakkie Rascal lekkers (soos Smarties, net kleiner) wat op die kas lê en hou vir haar. Sy sê: “Dankie. Maar wat het van al die bloues geword?”

 

© 2024 Die/The Bronberger