Ossewa, bokwa, skotskar, trêppie,
‘Spider’, kapkar, koets . . .
Knap ’n eeu of wat gelede
was hulle die vaartuie waarmee ons
land oopgery is. Vandag staan hulle
in die Willem Prinsloo Landboumuseum
waar ’n mens van ossewa
tot Paul Kruger se koets van naderby
kan bekyk.
Die Voortrekkers se ossewa met sy
seiltent wat deur kweperhouthoepels
gesteun is, was ’n jarelange
mobiele tuiste. Die bokwa is in die
1870’s ontwikkel om myntoerusting
na die diamantvelde te neem. Hy
was groter as die ossewa met ’n
breër en platter romp wat kantrelings
gehad het wat maklik deur hoë
kante vervang kon word om hom in
’n gewone ossewa te omskep.
Die skotskar, wat soos ’n halwe
ossewa gelyk het met ’n wipbak, is
op plase gebruik om vragte te vervoer.
Die kapkar was toentertyd die
vinnigste vervoermiddel vir ’n boer.
Die kap, wat eers rigied was, kon in
latere modelle afgeslaan word.
Daar was reeds in 1685 koetse in
ons land, alhoewel die eerste koetse
swaar vierwielvoertuie was wat
deur tot ses perde getrek is. Latere
koetse was ligter, meestal van Franse
of Nederlandse ontwerp. Teen
die einde van die agtiende eeu het
Engels-vervaardigde koetse hier
aangeland en Amerikaanse koetse is
deur poskoetsdienste ingevoer.
Is dit Paul Kruger se koets voor Smith & Petrie Ingenieurs?
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief |
Die Heys-gesin se aankoms op Weltevreden
Foto: Tudor Estates
. |
Plaaslik
Rosa Swanepoel het ’n foto in haar
Ou Pretoria Nuusbrief gepubliseer
waar dit lyk na Paul Kruger se koets
voor Smith & Petrie Ingenieurs se
wamakerwinkel in Pretoria. Dit is nie
duidelik of hulle die koets gebou het
en of hulle dit net opgeknap en
aangepas het vir die president nie.
Dié onderneming was in 1889 op
erfnommer 365 in Kerkstraat-wes,
skuins oorkant die Poskantoor. Die
eienaars was James J Smith en
David Petrie. Die personeel het bestaan
uit wamakers JD Cooper,
J Gray, Andrew Heynes, John Hutchins,
en O Watt; enjinbestuurder D
Steele; grofsmitte B Bole, J Cobb,
A Grey, W Kennedy, J Monteith en
Henry Skinner; en versierings ‘trimmer’
W Bentian.
Smith & Petrie het in 1898 na Pretoriusstraat
verhuis toe hul perseel
in Kerkstraat deur die Poynton
broers oorgeneem is. Hulle was die
maatskappy wat Heys & Co, wat
voorheen net handgemaakte koetse
uit Amerika ingevoer het, se poskoetse
begin maak het.
In haar nuusbrief sê Rosa dat dit
een ‘trots Zuid-Afrikaansche’ feit is
waarvan min mense bewus was.
Rosa het ’n berig in ‘De Volkstem’
van 18 Februarie 1889 opgespoor
wat noem dat Smith & Petrie ’n
koets vir Heys & Co vervaardig het
wat gelykstaande is aan die ingevoerdes.
Dit was die eerste van ’n aantal wat
bestem is vir die Barberton en Zoutpansberg
roete. Met die oog op die
lastige riviere en steil bulte en berge
waar die koets moes ry, is die naafspeke
met yster ondersteun anders as koetse van Amerika waar
slegs hout op leer gebruik is. ’n Ene
Bernhard het die skilderwerk op dié
Heys & Co koets gedoen.
George Heys
Foto: Tudor Estate
Heys
George Heys, wat sy koetsvervoerdiens
Express Saloon Coach Service
in 1882 gestig het, was ’n welgestelde
man wat Melrose-huis in 1886
laat bou het. Dit is in dié huis se eetkamer
waar die Vredesooreenkoms
van Vereeniging in 1902 onderteken
is.
George Heys het saam met sy vriende,
waaronder sakemanne Edmund
en George Bourke, goeie betrekkinge
met president Paul Kruger
gehandhaaf en talle liefdadige geskenke
aan Pretoria gemaak, soos ’n
verpleeginrigting vir gewonde soldate
in ’n klein gebou langs die
Staatsmodelskool in Van der Waltstraat
in 1899, die kerksaal van die
Metodiste-kerk in Sunnyside en die
klokkespel in die stadhuis in Paul
Krugerstraat.
Express Saloon Coach Service se
koetse het van Kerkplein op vier
hoofroetes na Kimberley, Barberton,
Pietersburg en Charlestown in
Natal vertrek. Dié koetse is deur tien
perde teen 10 tot 15 myl per uur
getrek en kon 16 tot 20 passasiers
vervoer.
Die roete van Kerkplein na die begin
van die Kaapse spoorlyn in Kimberley
was ’n dag-en nagreis wat ongeveer
drie en ’n halwe dae geduur
het. Die weeklikse diens na Barberton
het takke in Lydenburg en Pelgrimsrus
gehad. Nà die proklamasie
van die Johannesburgse goudvelde
in Augustus 1886 is Express Saloon
Coach Service se dienste na Johannesburg
uitgebrei. Heys het ook ’n
kontrak met die posmeester-generaal,
Nicolaas van Alphen, gehad om
pos te vervoer.
Die koetsdiens se besprekingskantoor
was in Kerkstraat-wes, langs
die plek waar die Hoofposkantoor
vandag is en die perdestalle was
naby die suid-oostelike hoek van
Vermeulen- en Kochstraat.
?n Poskoets voor die hoofposkantoor in Pretoria
Foto: Mieliestronk |
Die Heys-gesin se Melrose-huis in Pretoria
Foto: JamesBondGuide |
Beroof
Volgens Rosa het reise nie sonder
voorval verloop nie en dit het soms
gebeur dat ’n passasier wat op die
dak gesit het, op die ruwe paaie
afgestamp is. Een van die Heyskoetse
is op 10 Desember 1897 naby
Pelgrimsrus van 3 500 onse fyngoud
beroof wat nooit teruggevind is nie.
Soos wat die spoorlyn uitgebrei het,
het Heys sy koetsdiens afgeskaal.
Die kontrak vir die vervoer van pos
tussen Pretoria en Johannesburg is
beëindig met die vertrek van die
laaste koets uit Pretoria op
31 Desember 1892, ’n dag voor die
aankoms van die eerste trein in
Pretoria. Die heel laaste Heys-koets
het in 1905 tussen Pietersburg en
Pretoria geloop.
George Heys is laeveld toe; hy het
die plaas Weltevreden, naby Waterval
Onder, in 1904 by die weduwee
van Generaal David Joubert gekoop.
Behalwe vir ’n ou goudmyn op die
plaas, is daar gerugte dat dit die
finale rusplek van die vermiste Long
Tom kanon is wat na die slag van
Berg en Dal oor die Weltevreden
krans gestoot is sodat die Britte dit
nie in beslag kon neem nie.
?n Kleiner wa by die Heys-gesin se
plaas, Weltevreden
Foto: Tudor Estates |
?n Kapkar
Foto: Mieliestronk |
|